Die rooikop se lot – Dina Botha

Die rooikop se lot_high res

Dina se 48ste Romanza

Sy is nie seker of hy sarkasties is nie en draai haar kop weg om eerder oor die tuin te tuur.

“Het jy ’n selfoon?” vra hy ná nog ’n paar minute van heerlike stilte.

“Ja, ek het, in my handsak. Ek skakel dit af sodra ek aan diens gaan. Hoekom vra jy?”

“Ek moet dringend ’n oproep maak en soos jy self gehoor het, mag ek nie my foon in die kamer gebruik nie. Net my broer weet hoekom daar so ’n belaglike reël is.”

Sy versoek vang haar onkant, want eintlik kan sy nie insien hoekom hy dan nie buite, op die stoep of in die tuin, mag bel nie. Bel is nie soos rook, sleg vir ’n pasiënt se gesondheid nie.

“Mag ek jou foon gebruik, asseblief? Ek sal nie lank praat nie, net een oproep maak,” vra hy weer.

Om nee te sê sal lekker maar kleinlik wees. Sy staan op. “Jy beweeg nie van daardie plek af nie, verstaan ons mekaar goed?”

“Ek belowe.”

Vinnig en met ’n diep frons tussen haar oë loop sy om haar foon te gaan haal. Noudat hy iets van haar wil hê, weet hy goed hoe om hom soos ’n beskaafde mens te gedra. Hoe weet sy sy een oproep is nie om reëlings te tref om in die middel van die nag hier uit te glip nie? Nee, nou is sy verspot. Sy been is in gips. Dit gaan bitter moeilik wees om ongesiens weg te sluip.

Op pad terug skakel sy solank haar selfoon aan.

“Dankie, ek waardeer dit,” sê hy toe sy dit na hom uithou. Die nommer wat hy skakel, ken hy uit sy kop.

Karlien kan seker maar wegbeweeg en hom sy privaatheid gee, maar sy gaan nie. Sy wil weet met wie hy praat.

“Middag, Leon, dis Armand wat praat.”

Hy luister en sy gesig raak ontevrede.

“Hoe bedoel jy jy het geweet ek gaan jou bel? Het Paul of Rynard jou vooraf gewaarsku? Is dit hoekom jy, wat veronderstel is om my beste vriend te wees, nie waag om jou gesig hier te wys nie?”

Hy luister weer. “Wel, noudat jy weet hoekom ek na jou soek, sê jy sal vir ’n week of twee na my praktyk gaan kyk? Natuurlik sal ek jou betaal. Ek verwag nie dat jy dit verniet doen nie. Leon! Is jy nog daar? Hallo!”

Armand kyk boos na haar foon en voordat hy besluit om dit ’n missiel te maak, gryp sy dit vinnig by hom. Sy skakel dit dadelik af en druk dit in haar sak. Kan sy waag om hom uit te vra?

“En dis nou my sogenaamde beste vriend,” praat hy met homself.

“Dit het nie eens geklink of hy na jou voorstel wil luister nie,” steek sy versigtig voelers uit.

“Hy is sowaar bang ek kan hom nie vergoed nie. Hy is ook nie bereid om verniet te werk nie.”

Daar is nou ’n pyntrek op Armand se gesig. Hy het hom ontstel en ’n bietjie ooreis. Dis wat sy juis nie mag toelaat nie.

“Kom ek neem jou terug kamer toe. Dis in elk geval teetyd.”

Armand kyk ingedagte voor hom en sy dink nie hy het haar gehoor nie. Hy probeer seker aan ’n ander dokter dink wat vir hom kan instaan.

“Gee jou foon hier. Ek wil nog ’n oproep maak.”

Sy kortaf en bot stemtoon staan haar glad nie aan nie. “As jy met my in daardie stemtoon gebied en nie eens vra nie, is die antwoord beslis nee. Ek verstaan nou presies hoekom dokter Paul jou nie met ’n selfoon in die hand vertrou nie. Jy gaan almal om jou mal maak.”

“Kyk, wysneusige rooikopsnip, jy weet niks van my omstandighede af nie. My praktyk kan nie sonder my … of enige ander dokter klaarkom nie. My pasiënte kan nie wag tot ek weer op die been is nie. Hoekom verstaan Paul of jy dit nie? Sal jy nou jou foon vir my gee?”

“Nee, jy gaan nie nog mense vandag omkrap nie. Ek neem jou nou terug en basta.”

Toe sy by hom verbyloop, gryp hy haar aan die arm. Sy val oor haar eie voete en beland op sy skoot. Haar hande skiet dadelik uit en druk teen sy bors. Sy trek haar asem geskok in. Hy gaan tog seker nie met geweld die selfoon by haar probeer afneem nie, want as hy dit sou waag, kry hy vandag die klap van sy lewe. Af been ofte nie.

Maar Armand se oë rek. Selfs hy het nie verwag dat sy haar balans sal verloor nie. Dalk is hy, nes sy, te geskok om te beweeg want hy kyk net na haar. Toe beweeg sy oë oor haar gesig, ondersoekend en met ’n tikkie verskuilde bewondering. Hulle eindig by haar lippe. Sy weet sy moet opvlieg en afstand tussen hulle kry. Sy besef ook dat hulle nie onsigbaar hier onder die boom is nie. Enige iemand wat nou by ’n privaat kamer uitkyk, sal hulle kan sien. Tog is daar niks wat haar lyf aan die beweeg kry nie. Haar oë maak hulle eie ontdekkings. Armand Krynauw is nie die harige tipe nie. Hy het baardstoppeltjies om sy mond en oor sy ken, maar sy wange is glad. Sy onderlip is mooi vol en het sy nie reeds tevore tot die gevolgtrekking gekom dat hy ’n soenbare mond het nie? Nee, sy sou nie so onprofessioneel wees nie. Sy lig haar oë. Dalk is dit die skaduwee van die boom, maar sy groen oë is nou amper kakiekleurig, en die bruin spatseltjies amper nie sigbaar nie.

“Hoekom het jy nie sproete nie?”

Sy knip haar oë en die momentele aantrekkingskrag word verbreek. Verstaan sy hom reg? Hy sit in ’n rolstoel en sy sit op sy skoot. Daar is niks meer verbode as dit nie en hy wil weet hoekom sy nie sproete hnie. Dis absoluut absurd. Verregaande! Haar lyf kry lewe en sy wurm haar van sy skoot af. Hoekom sy aan haar hare vat, weet sy nie. Dis nie of hulle aan die stoei geraak het nie.

“Wat dink jy doen jy, dokter Krynauw?” vra sy verontwaardig en met ’n goeie vyf tree tussen hulle.

“Jy het nie my vraag beantwoord nie,” sê hy kalm.

“Jy is ’n dokter. Jy behoort te weet nie alle rooikoppe het sproete nie.”

“O, dan is jy seker een van die gelukkiges. Jy kan my maar terugneem. Ons tee wag seker al vir ons.”

“Is dit al wat jy gaan sê, ek kan jou maar terugneem?”

Armand se oë lag en haar hart ruk onwillekeurig. “Ek verstaan. Jy wil hê ek moet jou om verskoning vra nadat jy die een is wat in my skoot … ek bedoel óp my skoot geval het. Nee, ek gaan dit nie doen nie.” Hy boog sy wenkbroue. “Die tee, Suster,” herinner hy haar.

Karlien loop ’n wye draai om hom en toe sy veilig agter hom staan, stoot sy die rolstoel so vinnig dat die wiele girts-geluide maak. Sy hoor Armand kreun, maar ignoreer dit. Toe sy hom deur die skuifdeur stoot, verskyn Karel in die deur.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s