Stem in die wind – Dina Botha

“Kan jy vanoggend hand bysit? Petronelle is na die wassery toe en ek het iemand nodig om die boonste kamers aan die kant te maak.”

Alexandra skil die aartappel in haar hand klaar en droog haar hande aan haar voorskoot af. Eintlik is sy maar te bly om iets anders te doen. “Ek gaan dadelik, Moeder.”

Sy kry ’n verestoffer in die spens en gewapen met ’n lap en emmer water klim sy die trappies na die boonste kamers uit. Sy klop aan die eerste deur en toe daar nie antwoord is nie stoot sy die deur oop en begin die kamer opruim. Ook die tweede en derde slaapkamer se huurders is reeds vort.

By die vierde deur, een van die groter kamers met sy eie wasgeriewe, is daar ook nie antwoord nie. Sy gaan binne en kyk rond. Daar is twee beddens om op te maak. Dit val haar op dat die afskorting wat die badkamer van die slaapkamer skei, toegetrek is maar toe sy geen geluide hoor nie, pla dit haar nie. Terwyl sy die beddegoed uitskud begin sy ’n deuntjie neurie.

“Wie’s daar?” kom dit gedemp van agter die gordyn.

’n Gilletjie glip oor haar lippe toe sy besef sy is nie alleen nie. Sy swaai vervaard om en staar na die gordyn. Dis nie haar skuld die gas het nie haar klop gehoor nie, maar wat nou gemaak? Gaan sy net voort of moet sy later terugkom?

“Ek’s jammer. Dis net die … kamermeisie,” hakkel sy dit uit.

Daar is ’n rukkie stilte en sy besluit om die kamer suutjies te verlaat.

“Gooi asseblief vir my nog ’n skoon beker water oor my kop,” beveel die stem.

Alexandra se asem steek in haar keel vas. Om twee redes. Die stem agter die gordyn klink heeltemal te veel soos Edouard de Villebois s’n en twee: Dis miskien ’n versoek waaraan die ander kamermeisies gewoond is maar wat haar betref, is dit ongehoord. Sy was nog nooit onder sulke omstandighede saam met ’n vreemde man nie.

“Is jy nog daar?”

“Ja … ja,” sê sy en hoop Edouard herken nie haar stem nie.

“Maak gou, my oë brand.”

Die rede vir sy versoek klink redelik billik en sy trek die afskorting versigtig weg. Te bang om na die lyf in die bad te kyk, mik sy dadelik na die tafeltjie en kommetjie water. Sy skep die porseleinbeker vol en draai toe eers na die bad. Die man sit met sy rug na haar toe en sy donker hare is vol skuimbolle. Iets aan sy breë skouers het klaar verklap dat sy hom vroeër in die goudsmid se winkel gesien het. Dis net, toe was daardie skouers met ’n duur baadjie bedek.

“Kan ek maar gooi?” vra sy hees want haar hart klop vinnig en hoog in haar keel.

“Ja.”

Die koue water loop in straaltjies oor sy kop en teen sy rug af. Duisende knoppies vorm op sy gladde vel. Alexandra wil nie, maar sy kan nie anders as om te staar nie. Sy rug is glad en terwyl hy sy hare was, beweeg die spiere soepel oor sy rug.

“Nog ’n bietjie, asseblief.”

Alexandra dwing haar uit haar amperse beswyming en laat amper die beker val. In haar haas om die beker te vul, struikel sy amper oor haar eie voete. So lomp het sy nog nooit gevoel nie.

Edouard skud sy donker hare wat net-net aan sy skouers raak uit sy oë. “Dankie,” sê hy en kyk onverwags oor sy skouer.

Alexandra het nie verwag dat hy sal omkyk nie en voordat sy nog ’n oog kan knip, versteen sy soos Lot se vrou. Die skok op sy gesig toe hy haar herken, is onmisbaar.

Sy mond gaan oop en weer toe voordat hy sy stem vind. “Jy was die meisie in die straat. Jy is ’n diensmeisie?”

En sy hou glad nie van die skok in sy oë en die ongeloof in sy stem nie en sy vererg haar. Haar lyf verloor gelukkig sy passiwiteit. Sy sit die beker hard terug op die kassie en haar hande in haar sye. “En wat is miskien fout daarmee om ’n diensmeisie te wees?”

Konfrontasie oor ’n mens se skouer is seker moeilik. Die water stort oor die rand van die bad toe Edouard verder probeer omdraai. “Daar is seker niks mee verkeerd nie, dis net, ek het nie verwag om u hier, werksaam in ’n herberg, te sien nie.” Hy kyk rond. “Geen asseblief vir my ’n handdoek aan.”

Edouard druk met sy hande op die rand van die bad en toe eers snap Alexandra wat hy wil doen. Sy snak na haar asem en dit kry haar gebeente in werking. Sy swaai vervaard om en in haar haas hardloop sy die afskorting skoon van die toutjie af wat dit in posisie hou. Die gordyn bondel om haar voete en sy struikel oor die bed. Sy gee die halfopgemaakte bed nie eens ’n tweede blik nie. Al wat in haar gedagtes is, is om weg te kom voordat Edouard de Villebois regop in daardie bad staan. Haar vingers bewe en sy moet twee, drie keer probeer voordat sy die deur oop het. Sy trek die deur so hard agter haar toe dat die skarniere kreun.

“En nou? Dit lyk of jy ’n spook gesien het,” vra Petronelle toe sy Alexandra in die gang sien aankom.

Alexandra gaan uitasem staan en besef toe eers dat sy die trappies sommer twee-twee afgehardloop het.

“Petronelle, jy’s terug!” hyg sy verlig. Sy kyk oor haar skouer asof sy verwag dat Edouard enige oomblik met net ’n handdoek om sy lyf agter haar gaan aankom.

“Ek het die eerste drie kamers aan die kant gemaak. Daar is ’n heer in nommer vier en moontlik moet jy maar eers wag tot hy klaar gebad het,” stamel sy effens onsamehangend.

Dit bring dadelik ’n frons op Petronelle se voorkop. “Het hý jou skrik gemaak?”

“Nee, nee, natuurlik nie, maar as hy sou vra wie die diensmeisie is wat daar skoongemaak het, sê maar net jy weet nie.”

Suspisie staan oor Petronelle se hele gesig geskryf. “As hy iets probeer het, moet jy vir Constance gaan sê.”

Alexandra lag bewerig. “Jy’s verniet bekommerd. Ek het nie geweet daar is nog iemand in die kamer nie en het my net boeglam geskrik toe hy skielik agter die afskorting begin praat. Dis regtig al wat gebeur het.”

Dit lyk tog of Petronelle haar glo en sy sug verlig. “Dankie dat jy solank my werk begin doen het.”

“Dit was regtig nie moeite nie,” sê sy met ’n geveinsde glimlag.

Vervlaks, hoekom het sy nie ’n kappie opgesit voordat sy in die kamers gaan werk het nie? Met haar hare getem en onder ’n kappie versteek, het Edouard haar dalk nie herken nie. Dit gaan beslis sake kompliseer, veral as hy uitvind dat sy met Antonio bevriend is, tob sy al die pad in die gang af.

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s