Teen haar beterwete – Marilé Cloete

“My kindjie, jy gaan sowaar nooit ’n man kry nie.” Ma Mabel tuur ernstig deur die bifokale lense waaraan sy so sukkel om gewoond te raak.

“My mammatjie, ek wil asseblief tog nie ’n man hê nie.” Jossie ken al hierdie deuntjie, sy steur haar nie meer daaraan nie. Die goedige gekorswel is maar deel van haar en haar ma se gemaklike en soms minder gemaklike saamwoon.

“Dis abnormaal om nie na ’n maat te soek nie.”

Dis ’n nuwe toevoeging tot haar ma se lysie klagtes. Sy is darem nog nooit tevore van abnormaliteit beskuldig nie. “Nou wie wil nou normaal wees?” lag sy moedswillig.

“Nie dat jy nog ooit buitengewoon normaal was nie.” Haar ma kyk op van die prent wat sy aan die uitknip is, bestudeer vir Jossie ’n oomblik asof sy een van die rocksterre vir haar lêer is. “‘’n Dominee wat soos jy lyk, kan seker selfs in die een en twintigste eeu nie vir normaal deurgaan nie.”

Sy lag maar liewer, kwaad word help tog nie. Dit weet sy uit dure ondervinding. “En wat is nou eintlik normaal, Ma?” Wat is altemit met haar voorkoms verkeerd? In die goueraamspieël uit haar ouma Josephine se huis lyk sy nie vir haarself te sleg nie. Sy hou van die pers blerts in haar kuif wat Jean-Claude verlede week vir haar ingesit het. Dit pas by die pers fase waarin sy verkeer. Sy het darem regtig nou genoeg van pienk gehad. Haar wye romp in skakerings van blou vertoon baie kuis net haar mooi enkels en haar dun middeltjie. Die turkoois toppie wys skaars die suggestie van ’n borsgleufie en sy gaan buitendien nog haar nuutste skepping oor haar skouers gooi. Al sal haar ma seker reken die ligte gehekelde tjalie laat haar soos ’n verloopte hippie lyk.

“Normaal is … wel, effens nader aan die gemiddelde. Nie altyd op die uiterste punt van dinge nie.”

Nou lag sy sommer kliphard. “Mammatjie, dis dan jy self wat my geleer het om nooit met gemiddeld wees tevrede te wees nie!”

“Wel, ek dink ek was dalk ’n bietjie te suksesvol met my opvoeding.”

“Ek is jammer as ek vir jou ’n teleurstelling is, Ma.” Maar sy weet sy is nie regtig ʼn teleurstelling nie. Haar ma is vir haar lief nes sy is. Dis dalk die ding wat elke mens die heel nodigste in sy lewe het: iemand wat jou lief het presies soos jy is.

“Jy weet goed ek is eintlik baie trots op jou. Wat gaan jy vanoggend in die klomp seunskinders se koppe probeer inprent?” Ma Mabel sit die prent van ’n jong Elvis Presley versigtig eenkant neer. “Seker weer een van jou aweregse boodskappe oor individualiteit en dink buite die boks? En dit vir laerskoolseuntjies wat nog moet balle skop en albaster speel.”

Jossie draai vir oulaas in die rondte voor die spieël. Sy was reg, die tjalie werk perfek, en die silwer oorringe daarby. “Natuurlik, ja, hoe ken Ma my? Die kinders moet vroeg-vroeg leer om ‘n goeie lewe te lei beteken nie noodwendig om te konformeer nie.”

“En sê nou die nuwe skoolhoof hou nie van jou aanslag nie?” Mabel begin knip aan ’n ewe jong Mick Jagger, die ene lippe en sex appeal.

“Dan is dit gelukkig sy probleem, nie myne nie. Die seuns en die meeste onnies geniet gewoonlik my boodskappe. Ek hoop nie hy is ’n droë drommel wat almal in dieselfde boksie wil druk nie.”

“Hoe weet jy die seuns hoor ooit ’n woord wat jy sê? Sit hulle nie maar net aan jou en verwonder nie?”

“Néé, Má!” haal sy die ou deuntjie uit haar tienerjare uit. Dit laat altyd haar ma glimlag. “Dis laerskoolkinders, Ma, hulle koppe is nog nie vol muisneste nie.”

“Dis te hope, met vandag se kinders weet mens nooit. En met ʼn mansmens nog minder.” Maar ma Mabel glimlag terwyl sy dit sê. Sy is alles behalwe ʼn mannehater, al het sy ook haar kwota teleurstellings in die lewe gehad. In hierdie huis is nie plek vir wrokke nie. Soms dink Jossie haar ma is ʼn baie beter mens as sy. Self het sy vir Eben lankal vergewe, maar die vergeet vind sy steeds soms moeilik.

“En dink net hoe verwonderd sal hulle wees as hulle weet my ma sit op die rype ouderdom van sewentig jaar en enige weke en knip sexy rocksterre uit wanneer ek soos ’n sedige oumatjie sit en hekel?”

Mabel kyk gebelgd op. “En wat het dit miskien met hulle te doen? Jy weet mos dis my lêer vir die ouetehuis wat ek aan die maak is.”

Sy weet maar alte goed. Die dag na haar verjaardag het ma Mabel met die projek begin: ’n lêer vol prente van dinge wat die lewe genotvol maak. Vir die dag wanneer sy kwansuis oud en eensaam en magteloos in die ouetehuis sit. Eers was dit darem mooi natuurtonele wat met sorg gekies, uitgeknip, in die album geplak en met allerlei mooi goedjies uit die scrapbooking-winkel versier is. ’n Kunswerk in wording, daarteen kan mens nie stry nie. Maar nou het sy oorgegaan na ʼn nuwe kategorie wat Jossie so ʼn klein bietjie ontstellend vind: manne, sexy manne met kitare en ʼn helse houding.

“Pleks jy my toelaat om jou bietjie op die rekenaar te leer, Ma,” probeer sy vir die honderdste maal. “Dan is al hierdie moeite nie nodig nie, mens surf net met die kliek van die muis na al die mooiste plekke op aarde. Al die rocksterre is daar, van speenoud tot stokoud.”

“Jy weet goed ek wil niks met ’n rekenaar te doen hê nie. Ek hoor mos by my vriendinne hoe kan die goed ’n oumens se siel versondig.”

Dat haar eie siel versondig word deur die tyd wat sy elke aand moet spandeer om vir haar ma die verlangde prente op die internet te soek en uit te druk, maak seker nie saak nie. “Ma kan ten minste net vanaand langs my sit en self besluit watter foto’s gedruk moet word. Die ink gaan ons op die ou end ’n fortuin kos en Ma gooi gereeld die mooistes weg.”

“Dis die minste wat jy vir jou ou moeder kan doen, my kind. Ander oumense raak die kluts kwyt en begin op hulle oudag ’n vryery of gaan op duur bootvaarte of begin trek soos tieners aan. Ek berei my voor vir die ouetehuis.”

“En wanneer reken Ma om te gaan?”

“Wanneer jy die dag getroud gekom het, natuurlik.”

“En Ma reken dan self die perde sal eers moet horings kry voor dit gebeur?”

Mick Jagger word liefdevol langs Elvis neergesit. “Mens moet voorbereid wees. Toe, ry, jy gaan laat wees. Dan is jy sommer dadelik aan die nuwe hoof se verkeerde kant.”

“Ek gee nie ’n blou duit om aan watter kant van hom ek beland nie. Dis die seuns wat belangrik is.”

“As hy nie van jou hou nie, gaan jy nie weer genooi word om die opening waar te neem nie.”

“Ook weer waar. Ek sal my mooi gedra, Mams.” Sy soen haar ma op haar kroontjie en maak dat sy wegkom. Maar nie voor sy gou-gou nog ’n lagie lipstiffie aangesit het en op die laaste nippertjie haar kitaar onthou het nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s