Testament van liefde – Corne van Rooyen

 

Testament van liefde__high res

″Tannie Xandri, hoekom is jou goed nog in jou ou kamer en oom Anton se goed in sy kamer? Pappa en Mamma het dan altyd in dieselfde kamer geslaap?″ wil Jana verward weet.

Anton en Xandri kyk vining na mekaar. Nie een van hulle het dit voorsien nie. Hoe gaan hulle aan die kinders verduidelik dat hulle as pasgetroudes nie ′n kamer of bed gaan deel nie?

″Ons gaan in dieselfde kamer slaap,″ antwoord Xandri vir Jana wat vraend na hulle kyk. ″Ons was net nog nie lus om ons goed te skuif nie. Ek was nog te lui.″

″O,″ sê sy en klink tevrede. ″Sal Tannie asseblief vir my sonbrandroom aansmeer?″

″Natuurlik,″ antwoord Xandri en blaas verlig haar asem uit dat Jana haar verduideliking aanvaar het. ″Gee sommer vir Mareli dat sy vir Robbie en Emma ook aansmeer asseblief.″

″Ons sal van die goed moet skuif,″ sê Anton toe Jana by die deur uit is.

″Jy kan van jou goed skuif,″ sê Xandri beslis. ″Ek skuif nie.″

″Hoekom moet ek die een wees wat skuif? My kamer is nog al die jare my kamer?″

″Xandri se kamer is eintlik die hoofslaapkamer en jy weet dit en wat meer is, sy het meer goed as jy en haar kamer is ook nader aan die kinders,″ voeg Ria by toe dit lyk asof Anton nog iets wil sê.

″Sien,″ sê Xandri.

″Julle het nog ′n probleem. Gaan kruip Robbie en Emma nie in die vroeë oggendure by Xandri in nie?″ sêvra Heila.

″Ek het daarvan vergeet,″ erken Xandri.

″Dit lyk my, jy sal jou bed ook met my moet deel,″ sê Anton en grinnik toe Xandri hom ′n vuilkyk gee. ′n Bed met Xandri deel, hy weet nie of dit so ′n goeie idee is nie. Hy is nou een maal ′n man en die feit dat Xandri ′n baie begeerlike vrou is, help ook nie juis nie.

″Wonderlik. Onthou net een ding, jy bly aan jou kant van die bed en jy steel nie die kombers nie.″ Hoe is sy veronderstel om ′n bed met Anton te deel? Hoe gaan sy geslaap kry wetend dat hy skaars ′n armlengte af van haar gaan lê en slaap?

″As hy hom nie gedra nie, Xandri, roep jy my net. Ek sal hom sommer oor die kop slaan met my koekroller. En jy, Boetie, jy beter vir jou gedra,″ waarsku Ria.

″Ek sal probeer Ouma, maar ek het ′n baie mooi vrou en ons is getroud,″ sê hy terglustig.

″Dit beteken nie dat jy vir jouself regte kan aanmatig wat nie daar is nie,″ berispe Ria.

″Ja toe, Ouma, ek is beter as dit grootgemaak en Ouma behoort dit te weet, want Ouma het my grootgemaak. Kom ons gaan skuif ′n paar goed.″

 

Teen die tyd wat Anton later in die kamer kom, is sy alreeds in die bed en blaai sy deur  ′n tydskrif, terwyl hy deurgaan na die aangrensende badkamer waar hy gou gaan stort.

Toe hy ′n rukkie later weer uitkom, kan Xandri soos vroeër, net na hom staar. Spiere speel onder sy bruin vel en haar mond voel skielik baie droog. Met moeite skeur sy oë van hom af en kyk af na die boek in haar hande. Sy weet nie hoe sy dit gaan regkry om die heel aand langs hom in die bed kan lê nie.

″Nag, Xandri,″ sê hy toe hy langs haar in die bed klim en sy bedlampie afskakel.

Xandri kyk wrewelrig na Anton se rug. Hoe kan hy so maklik net in die bed klim en slaap asof dit iets alledaags is? Sy lê ongemaklik. Terwyl hy so rustig daar lê. Anton het natuurlik al baie vrouens in sy bed gehad díe dat die hele situasie vir hom so makli is. Die stekie van jalousie met die gedagte van ander vrouens in sy bed en arms kan sy nie verhelp nie. Sy is ook maar net ′n vrou en watter vrou sal nie wonder nie.

″Ontspan, Xandri,″ praat Anton skielik in die donker langs haar.

″Maklik vir jou om te sê,″ brom sy, maar Anton het haar gehoor en draai om, om na haar te kan kyk

″Jy reken?″ vra hy en skakel die bedliggie aan.

″Ja, ek doen. Jy is gewoond aan vrouens in jou bed, ék aan die anderkant, is nie so wêreldwys nie,″ antwoord sy en weet dat sy bloos.

″Daar was nie so baie vrouens in my bed as wat jy mag dink nie. In hierdie einste een, is jy die eerste een,″ sê hy en sien hoe verbaas sy lyk.

″Regtig?″ vra sy en kan nie help om verlig te wees nie.

″Regtig,″ antwoord hy. ″Ek en jy het nog baie om van mekaar te leer, Xandri. Wil ek jou elke nag in my arms vashou? Natuurlik wil ek, nes ek ons verhouding verder wil vat. Een  waar ons as normale getroude paartjie kan optree, wat die fisieke deel insluit, maar dit sal slegs gebeur wanneer jy die dag vir my sê dat jy reg is vir meer. Nou op die oomblik het die kinders ons nodig en leer ons mekaar nog ken as man en vrou. Oukei?″

″Oukei.″

″Ek kan jou egter nie belowe dat ek nie nou en dan aan die versoeking sal toegee om jou vas te hou nie,″ terg hy en gaan lê weer. ″En net sodat jy weet, jý is die eerste vrou by wie ek betrokke is in vyf jaar.″ Met díe woorde draai hy wee rom en skakel die bedliggie af, terwyl sy hom net oopmond aanstaar. ″Slaap nou.″

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s