#TBT GOUE DAGBREEK – BETS SMITH

Goue dagbreek (2de Uitgawe)

Rudolf Dreyer is dankbaar vir die skaduwee wat doringstruik, karee en blougroen olienhout oor hom en sy ryperd gooi. Blaar en skadu breek strak buitelyne en steek hulle weg vir enige nuuskierige oë wat dalk uit die Britse kamp opkyk na die koppie. Die laatsomerson brand uit ’n witblou Vrystaatse hemel neer op die geel geskroeide grasvlakte wat om die koppie uitstrek. Van waar hy staan, kan hy nie die blokhuis sien wat ’n entjie buite die kamp langs die treinspoor gebou is nie, maar hy weet hy is net-net buite sig van die wagte. Dit moet onder daardie sinkdak soos ’n bakoond voel as hy hier in die koelte so warm kry.

’n Druppel sweet kom op sy kopvel los, rol teen sy nek af en dam op teen die baadjiekraag. Die Kakie-uniform pas te styf oor sy skouers en hy span sy rugspiere ongeduldig.

Van nêrens en totaal onverwags verdring die beeld van die koel kloof teen die hange van Ben Nevis die geelwarm toneel voor hom. Hy sien bergwater helder oor die afgrond tot in die rotskom aftuimel en in die poel opdam, die dieptes donker van die mos en varingblare, groen en misterieus soos Catriona se oë. Dié gedagteflits laat herinneringe onkeerbaar en pynlik deur hom kramp.

Hy asem rukkerig in, keer die gedagtes wat soos wilde perde uit ’n kampie losgebreek het doelbewus af en konsentreer op die taak wat voorlê. Hy knoop die uniformbaadjie toe, asof dit die skielike koue wat oor sy vel loop, sal keer; knak daarna sy arms by die elmboë om die groot gaping tussen mousoom en gewrig minder opvallend te maak.

Hy trek die rol van Britse offisier so bewustelik aan soos hy die uniform aangetrek het, verander selfs sy sithouding in die saal: rug regop, lyf styf en formeel, hande hoog en stewig om die leisels, knieë geknak in die effens korter stiegrieme. Die kamaste steek die ongemaklike opening tussen skoen en broeksoom weg. Hy lig sy kop hovaardig: as iemand sou opmerk dat sy uniform te klein is, sal hulle dit nie waag om ’n woord daaroor te sê nie.

’n Ander beeld flits deur sy kop: Catriona wat voor hom uitry soos ’n jong Boerseun wydsbeen en gemaklik in die saal asof sy daarvoor gebore is. Wat op haar geleende merrie oor die Kaapse vlaktes skeer, haar rooi hare los in die wind. Wat omkyk na hom en Achilles, uitgelate lag, uitnodigend met die hand wuif.

Hy skud sy kop om die werklikheid terug te bring, maar die beeld weier om pad te gee. Hy wonder moedeloos hoekom droom- en nagmerriebeelde hom al hoe meer op die vreemdste oomblikke oorval. Dit beur so dikwels dat makkers hom soms skeef aankyk, dat Faantjie hom snags wakker skud sodat sy geworstel nie die vyand kan waarsku dat daar iemand in die omgewing is nie. Onder hom versit Satan sy pote en lig sy kop geïnteresseerd. Asof hy ook Catriona se vrolike lag gehoor het, spits hy sy ore nuuskierig.

Dit dwing die droombeeld vinnig uit Rudolf se kop. Hy draai behoedsaam en kyk in die rigting waarheen Satan sy ore spits. Drie ruiters, een ’n vrou in ’n grys Rooikruisuniform, kom met die spoorlyn langs om die voet van die koppie in die rigting van die Britse kamp aangery.

Versigtig, om nie met ’n skielike beweging sy posisie aan die nuwe aankomelinge te verraai nie, lig hy die verkyker tot teen sy oë.

Die voorste ruiter is ’n offisier met ’n leersak. Al verstel hy die fokus is dit te ver om die eenheidskentekens te onderskei, maar hy raai dis ’n dokter of lid van die mediese korps. Die tweede ruiter kom in beeld: die manskap wat vroeër uit die Britse kamp gery het in die rigting van die ambulanstrein wat ’n ent suidwes van die kamp af gestrand staan. Hy swaai die verkyker na die derde ruiter en moet die fokus weer verstel. Dit laat die ruiter helder en bekend teen die vaalgroen agtergrond uitstaan.

Catriona.

Dis weer sy verbeelding wat hom kul. Hy staar deur die lense na hierdie ander werklikheid wat voor sy oë afspeel. Drink die beeld wat die hele lens volmaak hongerig in. Maar die voorste ruiter skuif voor haar verby. Rudolf ruk die verkyker voor sy oë weg, staar met die blote oog na die toneel om te sien of sy verbeelding werklik by die hede oorgeneem het.

Hy het hom nie misgis nie – daar is wel ’n vrou by die twee ruiters.

’n Staalband vou om sy bors en begin knellend druk. Hy trek die baadjiepante benoud van mekaar sodat die knope oopspring. Een skiet af en tol klaterend tussen die klippe in. Satan systap onrustig en stamp sy voorpoot teen die sagte grond.

Rudolf asem diep in, maar die band gee nie skiet nie, die beeld gee ook nie pad nie. Hy lig weer die lense. ’n Sonstraal slaan vuur uit haar hare, laat dit in ’n stralekrans om haar gesig vlam vat. Sy kyk hom ’n hartklop lank reguit in die oë, of so voel dit vir hom, toe draai sy weg.

Dit ís Catriona.

Die ysterband om sy hart trek stywer. Sweet slaan op sy vel uit, maar ’n rilling trek deur sy lyf. Hy sluk droog aan die bitter brandsmaak in sy mond en keel, raak bewus daarvan dat hy die verkyker weer teen sy ribbes laat sak het. Haar gesig bly voor sy oë, asof hy nog die lense teen sy oë vashou. Hy laai die Leemetford: afgemete, geruisloos soos hy dit leer doen het. Haal oor. Kolf vind skouerholte, geweer word verlengstuk van sy arm, word deel van hom, totdat hulle ’n bekende eenheid vorm.

Die loop lig, oog vind visier en teiken in een geoefende beweging. Die bleek kol met die wynrooi omraming bly maklik voor die visier, bewe nie een maal nie, al trek rilling op rilling deur sy lyf. Hy maak sy kop leeg.

Moenie dink wat gebeur wanneer die koeël sy teiken tref nie.

Want die koeël moet die teiken tref, al is dit ’n fluweelsagte meisievel, beeldskoon gespan oor bekende kontoere. ’n Oog vir ’n oog, ’n lewe vir ’n lewe: hy sal Gordon Fraser se enigste kind van hom af wegsteel soos Fraser sy twee jonger broers van hom en sy vader weggesteel het. Dan sal die skaal uiteindelik weer in ewewig gebalanseer staan.

Hy moet die skoot aftrek, al het hy daardie kind van Gordon Fraser eens liewer gehad as sy eie lewe.

Dis al oplossing, al hoe hy gaan loskom van die vreeslike verlange, van die bitter selfverwyt, en van die nagmerriedrome wat sy slaap verjaag. Hoe lank probeer hy al die stuk van sy lewe waarvan Catriona Fraser deel was uit sy kop sit? ’n Jaar? Langer? Hy kry niks waarmee hy haar beeld kan uitvee nie. Maar sodra die koeël tref en Catriona ophou bestaan, sal beeld en nagmerrie albei wegspat en verdwyn – dit moet net. Die pyn en verlange en selfverwyt moet wegvloei soos wanneer rooi lewe uit ’n wond tap . . .

Mens kan nie met so ’n brandende pyn verlang na iemand wat dood is nie, probeer hy homself oortuig.

Dit tel nie dat die een skoot terselfdertyd sy eie lewe sal beëindig nie.

Sy tong is droog en doods teen sy verhemelte, sy oë brand, loop oor in trane wat met die sweet op sy wange meng en afdrup tot in sy nek. Sy gesig is yskoud onder die klammigheid.

Die skoon reuk van bergvaring en gekneusde suurlemoenskil is onverwags oral om hom: in sy neus, op sy lippe, in sy mond, sy longe, sy bloed. Hy kan die herinneringe wat deur hom spoel nie keer nie: haar oë donkergroen en geheimsinnig, dan weer vrolik en helder, soos wanneer son op die bergpoel skyn. Wynrooi hare wat in lamplig soos port blink, wat glad deur sy vingers vloei. Dan weer die wind wat die goue spinnedrade in die sonskyn teen sy wang waai. Dis so werklik dat hy die sagte streling daarvan kan voel . . .

Die geweer word lood in sy arms, die visier sak grond toe. Alles om hom word grafstil, die oorlog en sy ellende verdwyn, net hulle twee, hy en Catriona, is werklikheid.

Maar al kon hy nou dadelik tussen die bome en rotse deur afry ondertoe en haar gaan haal, haar teen hom vasdruk en wegvoer uit die oorlog, sal dit nie werk nie, dit weet hy. Wat tussen hulle was, is vir altyd verby, al weier sy hart om dit te aanvaar. Dit het geëindig op daardie oomblik toe die salvo uit die Kakiegewere sy broers en hul vriend getref het. Toe hy oor die breedte van hul tuisdorp se plein in Catriona Fraser se oë kyk en die skok en selfverwyt in haar groen kykers gelees het.

Die skok kon hy nog begryp: elke inwoner van Ben Nevis was daardie dag op die plein, almal ewe diep geskok. Maar die selfverwyt het hom uiteindelik oortuig dat sy deel gehad het aan die tragedie. Dat hy die stories wat hy tot op daardie oomblik nie wou sluk nie, moes aanvaar. Daarom kan dit nie anders nie, moet hy die geweerloop lig, aanlê, doelgerig en self ’n einde daaraan maak. Dis al hoe hy kan vergoed, hoe hy die lei vir sy vader kan skoonvee, al vernietig hy terselfdertyd die enigte rede hoekom hy bestaan.

“Oom Ben?”

Hy ignoreer die stem, weet dis sy verbeelding wat hom dinge laat hoor. Hy is Rudolf Dreyer en hy kry uiteindelik die kans om sy broers se dood te wreek.

“Oom Ben!” ’n Hand teen sy arm. “Ben, wat maak jy?”

Die fluisterstem weier om stil te word, hou vingers teen sy pols, rem aan sy arm. Beelde en geluide kan hy nog ignoreer, die aanraking nie. Hy kom traag terug uit sy nagmerrie na hierdie nuwe werklikheid waar hy Ben van den Berg is.

Rudolf Dreyer bestaan lankal nie meer nie, herinner hy homself.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s