Die stadsjapie se moses – Dina Botha

Die stadsjapie se moses_Dina Botha voorblad

“Natuurlik voel ek skuldig omdat ek nooit kom kuier het nie, maar jy ken nie my omstandighede nie.”

“Omstandighede? Wat kan ’n jong vrou van jou ouderdom verhoed om by haar grootouers te kom kuier? Seer sekerlik nie jou pa nie?”

Haar hart bons vinnig en omgekrap. “Ek hoef niks aan jou te verduidelik nie, maar ek gaan tog. My ouers is geskei toe ek tien jaar oud was, en my ma het nie die nut daarin gesien om met haar gewese skoonouers kontak te hou nie. Tydens hulle huwelik het sy nooit op die plaas tuis gevoel nie en sy het ook nie by die Pienaars ingepas het nie. Sy het hulle ontgroei en ek indirek ook.”

“En nou is jy hier. Noudat jy ’n plek soek om jou wonde te lek is hulle goed genoeg. O, ja, ek weet dis hoekom jy hier is. Jou troue is afgestel.”

“Dis nie die geval nie, maar jy is geregtig op jou eie opinie.” sê sy koel en kyk by die kantvenster uit. Sy frons. “Hoe weet jy van my gekanselleerde troue? Ek het jou nie gesê nie.”

“Jou ouma het my vanoggend vertel.”

“Vanoggend?”

“Oor die foon. Sy het my gebel, want sy is bekommerd oor jou oupa. Gisteraand was hy totaal begeesterd om die dag saam met jou deur te bring, sy koninkryk aan sy kleindogter te wys, maar vanoggend is hy regtig moeg en te trots om sy planne uit te stel.”

“Ek sien. Kom ons ruim sommer nou iets uit die weg. Ek het nie gevra dat hy my rondneem nie. Ek is heeltemal tevrede om by die huis te bly.”

“Jou hele vakansie?”

“Soos jy self sê, ek het heelwat wonde om te lek en verkieslik in die privaatheid van my kamer.”

Daarop het David niks te sê nie, dink sy tevrede. Sy skrik. Dit was nie nodig om hom op sy plek te sit nie. Sy moes haar nie eens aan sy opmerking gesteur het nie. Hierdeur verloor sy die skans wat die beste vir haar werk, haar koel onaantasbaarheid, besef sy skielik. Maar David kruip doelbewus onder haar vel in. Hoekom? Dis tog nie of hy homself as haar grootouers se hoeder beskou nie, en hy het in elk geval niks persoonlik met haar in gemeen nie. Om haar te kritiseer is onaanvaarbaar; nog meer onaanvaarbaar is die feit dat sy hom onder haar vel toelaat. Maar dit gaan nie weer gebeur nie. Sy sak terug teen die sitplek en laat die spanning in haar lyf doelbewus wegvloei. Met oë wat wíl sien, kyk sy na die netjiese landerye weerskante van die pad.

Hulle ry tot teen ’n toe hek, en David laat die bakkie luier terwyl hy met sy hande op die stuurwiel sit.

“Waarvoor wag ons?” vra Heléne toe die sekondes byna ’n minuut word en David steeds voor hom uittuur.

“Vir jou om die hek oop te maak.”

“Ék moet dit oopmaak?” vra sy verbaas en ook ’n bietjie geskok. Het David gesien hoe sanderig is die pad?

“Ja, Heléne, dis hoe ons dinge op plase doen. Die passasier maak die hek oop, ek ry deur en jy maak dit weer agter jou toe.”

“En as jy alleen in die bakkie was, hoe werk dit dan?” kap sy dadelik terug.

“Dan het ek dit self gedoen, hoe anders? Maar nou hét ek ’n passasier.”

Om hom daarop te wys dat haar sandale nie gemaak is om op ’n sanderige plaaspad rond te ploeter nie, gaan nie in haar guns te nie. Tipies stadsjaap, gaan hy sekerlik dink. Nee, sy gaan hom nie daardie satisfaksie gee nie. Sy sukkel met die halsstarrige deurhandvatsel wat skielik weier om oop te maak.

“Laat ek help,” sê David kalm en leun oor haar. Sy arm skuur teen haar borste en sy deins werktuiglik terug. Sy donker kop is sentimeters van hare af en sy ruik die skoon geur van sy hare. Hy ruk ongeduldig aan die handvatsel en sy snuif ’n tweede keer. Sy hou van sy naskeermiddel. Kruierig, glad nie soet en oordonderend nie.

David staak sy gekarring aan die handvatsel en draai sy kop. Sy oë terg skielik en haar hart mis ’n slag. “Het jy pas aan my geruik?”

’n Warm gloed stoot teen haar nek op. “Jy is laf, hoekom sal ek dit doen? Kry jy die deur oop of wat?”

David lag geamuseerd en ná nog ’n ligte stamp vlieg die deur oop. Hy verander nie dadelik van posisie nie, maar kyk weer na haar. Sy irisse is ’n mengsel van blou en groen en sy tel selfs ’n paar geel spikkeltjies daarin. Om presies te wees, vier in die linkeroog en ses in die regteroog. Sy wimpers is lank en sy wenkbroue dig en netjies. Asof dit magneties is, sak haar oë na sy mond. Mooi vol lippe en sy sweer heerlik sag as hy iemand sou soen. ’n Spottende trekkie vorm om sy mond en haar oë vlieg verskrik terug na sy oë.

“Nou wat nou? Wil jy hê ek moet uitklim of nie?” vra sy kwaai.

David kom regop en in haar haas om uit die kajuit, wat skielik baie klein geword het te kom val sy amper by die deur uit. Haar hakke sak weg in die los sand en sy gril. Sy wil sê sies, maar byt die woordjie net betyds terug. Sy sukkel deur die los sand tot by die hek. Gelukkig het sy nie probleme met die slot nie, want haar oupa gebruik nie soos sy buurman bloudraad om sy hekke mee vas te maak nie. Sy los die hek en op sy goed geoliede skarniere sweef dit amper voor haar oë oop. Sy loop agterna, maar toe moet sy vinnig keer, want die hek bereik sy verste draaipunt en draai ongelooflik vinnig terug. Sy gil en haar hande skiet werktuiglik uit. Sy gryp die hek voordat dit haar kan tref. Sy gee David ’n vuil kyk terwyl hy deurry. Toe keer sy vir haar gesig want net die kort entjie se ry laat ’n klein stofstorm agter. Terwyl sy hoes en nog na asem snak, maak sy die hek toe en skuif weer langs hom in. David Erlank is die mees aspriste man wat sy ken. As sy hom nou vermoor en tussen die meter hoë mielies insleep, hoe lank sal dit neem voordat iemand hom opspoor, koester sy ’n paar moorddadige gedagtes.

“Jammer oor al die stof, maar jy sal nog gewoond raak daaraan.”

“Is dit al wat jy gaan sê nadat die hek my amper onthoof het?”

“Oukei, die paaie is so stowwerig want dit het lanklaas gereën. En dankie vir die hek se oopmaak.”

Heléne byt haar onderlip totdat dit seermaak. Die man langs haar is daarop uit om haar kwaad te maak. Hy weet baie goed dis nie wat sy wou hoor nie. Sy haal diep asem, tel ’n paar keer tot tien voordat sy met wat sy hoop ’n uitdrukkinglose gesig is na hom kyk. “Hoeveel hekke is daar nog wat oopgemaak moet word?”

Hy steur hom nie aan haar hooghartige stemtoon nie, inteendeel, hy glimlag. “Tot by die kop skat ek nog twee. Wat doen jy nou?”

“Ek trek my skoene uit.”

Sy maak die bandjies om haar enkels los, skud die sand argeloos op die bakkie se vloer uit en sit dit bo-op die mandjie neer asof dit erestatus het.

“Dis goed so, want daar is die volgende hek.”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s