#TBT ONDER ’N STERREHEMEL – Bets Smith

Onder 'n sterrehemel (Hoëres)

Toe sy ’n halfuur later trapaf stap, weet sy dat sy goed lyk. Die lang spieël teen die klerekas het haar verseker dat die diepblou tabberd wat in ryk voue tot op die plankvloer val, knus om haar middel sit. By die portaalspieël huiwer sy weer om seker te maak of die halslyn nie te laag is nie. Eienaardig genoeg is haar oë vanaand ’n dieper groen, asof die breë, blou val by die wye hals die kleur eerder groener as blouer verf.

Die klanke wat uit die voorkamer opklink, kondig aan dat Maja se soirée in volle gang is. Haar helder laggie klink soos ’n klokkie op tussen diep manstemme en die gemurmel van hoër vrouestemme. As iemand in daardie vertrek aan die oorlog dink, is hulle onbehoorlik vrolik daaromtrent.

Nog traag om by die luimigheid aan te sluit druk sy haar gesig in die reuseruiker rose op die portaaltafeltjie en asem diep in. Die soet geur meng met die vae reuk van byewaspolitoer wat altyd vaagweg in dié huis se vertrekke hang. Sy is nie regtig lus vir vanaand se jolyt nie, erken sy die rede vir haar slakkegang. Die gerugte van oorlog in die Noorde maak ’n koue onrus in haar wakker, miskien juis omdat dit haar pa soos ’n veer opwen. Al is hulle hier in die Kolonie nie werklik betrokke nie, waarsku sy reaksie haar dat hierdie oorlog nie een van hulle twee onaangeraak gaan laat nie.

Sy het Maja nog nie eens vertel nie, maar dinge het op Ben Nevis, maar veral in Gordon Fraser se huis, begin verander die oomblik toe Britse troepe op die grense begin saampak het. Volgens ware Skotse tradisie rebelleer sy bloed normaalweg teen alles waarop die Britse koningshuis besluit. Maar in hierdie oorlog onderdruk hy blykbaar sy Skotse nasionalisme en staan hy vierkant agter Groot Brittanje. Sy vermoed dis juis omdat die Dreyers Afrikaners is wie se simpatie noodwendig by die Boererepublieke moet lê. Hy sal enigiets voorstaan wat lynreg indruis teen dit wat die Dreyers ondersteun, al beteken dit dat hy vir ’n rukkie sy Skotse bloed moet misken.

Die eerste mense op Ben Nevis wat gaan swaarkry as oorlog uitbreek, is die Dreyers. Ál die Dreyers, ook Rudolf, al bly hy nie meer by sy pa en broers op die plaas teen die berg nie.

Agter haar stoot die klank van baie stemme die portaal vol toe die studeerkamerdeur oopklik. Sy staan instinktief terug uit die ligkring van die olielamp terwyl Albert Vermoten ’n paar mans uit die boekige skemerte lei.

“Kom ons gaan sluit by die vroue aan voordat Maja my voor stok kry,” laat haar gasheer laggend hoor.

Die res van die gesprek gaan by Catriona verby. Haar oë bly vasgenael op die man wat agter die groep ouer mans stap en bokant hulle uittroon. Rudolf Dreyer, die held van haar kinderdae, jare lank die voorwerp van haar bewondering. Dan was dit tog nie haar verbeelding wat hom vroeër opgetower het nie! Haar hart slaan een, twee slae oor, gaan toe so wild op galop dat sy kortasem na lug soek.

Dis asof haar gedagtes sterk genoeg was om hom uit die goue skemerte van haar kinderherinneringe op te roep en lyf te laat kry. Want hy is die een mens wat weier om uit haar jongmeisiedrome pad te gee. Al het sy hom laas gesien net voordat hy na Londen vertrek het om sy regstudie te begin, het sy beeld in agt jaar nog glad nie vervaag nie.

Rudolf Dreyer – die oudste seun van haar pa se grootste vyand.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s