SY HART SE LENS − Zelda Mans

Sy hart se lens

Deliah werk die res van die middag aan ’n paar kleiner stories wat voor druktyd gereed moet wees. Haar gedagtes dwaal net so af en toe na die buurseun met sy skewe kuif en blou oë. Dan begin sy weer tik en vee die effense traantjie wat in die hoekie van haar een oog gevorm het, weg.

Sy is redelik moeg van die harde werk wat sy deur die dag verrig het toe sy by die huis aankom. Haar woonstel is lekker knus en die dekor is alles in warm klere. Dit is ’n oopplan kombuis met ’n sitkamer. Sy het die ekstra slaapkamer as haar studeerkamer ingerig. Sy soek vinnig na ’n tas en begin om haar klere in te pak. Wie weet vir hoe lank sy op Rietspruit gaan woon. Dus pak sy ʼn hele paar stelle klere in.

Net toe sy klaar is hoor sy Frank se stem by die voordeur van haar woonstel. Hy praat op sy selfoon. Sy pluk die deur oop.

Frank groet vriendelik toe die deur oopgaan. “Hi, Deliah! Bied jy nie koffie aan nie?”

Deliah gee ’n onvroulike snork en loop sitkamer toe om haar tasse te gaan haal.

“Al het ek koffie gehad, is daar nie tyd nie. En jy lyk in elk geval altyd haastig,” praat sy in die loop

Toe sy omkyk sien sy dat hy vasgesteek het in die gang by een van die foto’s.

“Hou jy daarvan?” vra sy vir hom.

Hy kreukel sy neus op ’n plooi. Voordat hy antwoord praat Deliah egter voort. “Ek het nie gedink dit val nou juis in jou smaak nie. Jy neem mos net mense af.”

Frank kry dan ook ’n woordjie in. “Nee, ek hou van sulke natuurtonele ook.” Sy oë beweeg dan oor haar sitkamermure wat vol is met soortgelyke foto’s van dieselfde fotograaf.

Deliah klink haastig toe sy antwoord. “Ja, Franko W. weet darem maar hoe om met ’n kamera te werk. Jy kan miskien vir raad gaan aanklop.”

“Ouch!” sê Frank asof hy seergemaak is.

Hy help haar om haar tasse kar toe te dra en laai dit agter in.

“Julle vroumense pak ook mos altyd julle hele klerekas in!” gil Frank van agter die motor.

Deliah besluit om hom te ignoreer en klim voor in. Dit is duidelik Frank se persoonlike motor, ’n Pajero. Sy het al agtergekom dat hy altyd net met sy eie kar ry. Hy glo blykbaar nie daarin om met die werk se kar te ry nie, glo te geheg aan sy eie kar. Die sitplekke is uiters gemaklik, sy kan goed verstaan waarom hy sy eie kar elke keer verkies.

In die kar gesels hulle oor werk en die stories wat hul verskyning gemaak het die afgelope ruk.

Toe die gesprek begin opdroog begin Frank praat. “So, Deliah, wat is ons plan van aksie vir ons kuiertjie op die plaas?”

Deliah sit ’n ruk in stilte. Sy weet self nie. Sy sal baie vinnig haar kop moet regkry. Haar werk en persoonlike lewe is nie veronderstel om so te oorvleuel nie. Sy kyk vir lank by die venster uit en  antwoord dan as sy doodseker is van haar plan.

“Jy doen jouself as ’n wildfotograaf voor sodat jy ten alle tye jou kamera by jou kan dra. Ek sal aan iets dink wat ek kan wees. Die inwoners mag net nie weet ons is joernaliste nie. Dit is glo baie privaat daar en veral met die glanspaartjie daar sal die sekuriteit hoog wees.”

Frank kry ’n onseker uitdrukking op sy gesig.

“Daar is net een probleem,” sê hy terwyl hy op die pad voor hom konsentreer.

“Wat is dit?” vra Deliah vinnig.

“Jy ken mos glo die man wat verloof is aan Gale. Wat as hy jou raaksien?”

“Wel, Frank, dit is waar dinge interessant raak. Ons moet nie gesien word nie. Die ander inwoners mag ons sien, maar nie daardie twee nie, veral nie Nathan Steyn nie!” Deliah skrik vir die ernstige klank in haar stem.

“Dit klink soos ’n onmoontlike uitdaging, Deliah!”

“Is jy bang, Frank?”

Deliah skuif opgewonde op haar sitplek rond. Niks soos ’n gevaarlike storie om haar bloed weer te laat bruis nie. Die tydjie gee haar geleentheid om haar sogenaamde sosiale vaardighede te verbeter. Nathan was verkeerd by die troue. Hy ken haar glad nie meer nie. Sy is nie meer Deliah Brink, die boekwurm met spierwit bene nie. Nee, sy is nou Deliah Brink, gesoute joernalis.

“Ek? Bang? Wie’s bang?” hoor sy later Frank met ’n laggie sê terwyl sy in haar sitplek aan die slaap raak.

 

Dit is al goed donker toe hulle by Rietspruit se hekke indraai. Frank parkeer sy motor voor die ontvangs se ingang en sê dat Deliah in die kar moet bly.

Hy loop rustig met ’n gemaklike stappie na die middeljarige dame wat agter die lessenaar sit. Haar gesig helder op terwyl Frank met haar praat. Hy het nou maar een maal goeie mensvaardighede, dink Deliah. Frank lyk nie so moeg soos wat sy voel nie. Inteendeel, hy lyk heel uitgerus.

Sy weet nie wat daar gesê is nie, maar binne minute is hulle in ’n baie groot suite wat oor ’n rivier uitkyk. Die werk betaal vir alles, maar sy kan nie glo dat hulle op so kort kennisgewing plek gekry het om hier te bly nie.

 

Die badkamer is spierwit met spatseltjies blou en Deliah kan nie wag om in die bad te ontspan na so lang rit nie.

“Deliah! Kom gou hier jong!” hoor sy Frank se stem uit die slaapkamer.

“Wat nou?” vra sy geïrriteerd van die lang rit.

Frank staan met sy arms gevou en kyk na die dubbelbed. “Die probleem is dat hier net een bed is en ons is twee mense.” Frank praat met ’n halwe glimlag wat aan sy lippe hang.

“O, maar dit is mos nie ’n probleem nie. Jy kan op daai lekker bank teen die venster slaap!” maak Deliah gou plan.

Met daardie woorde verdwyn sy in die badkamer in.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s