Kortpad na haar hart − Joléne de Koningh

Kortpad na haar hart

Toe hy stilhou, maak sy die voordeur oop en staan hom op die stoep en inwag. Kan nie help om breed te glimlag nie. In elke hand dra hy ’n yslike bos blomme. Sy kan skaars sy gesig tussen die blomme sien.

Alida het ook intussen in die voordeur kom staan, Marna is bewus van die teenwoordigheid agter haar. Braam buig sjarmant en gee een bos vir Marna.

“Is jy dalk van Griekse afkoms, Braam Theron?”

Hy staan stil en maak sy oë toe. “Gee my net ’n oomblik om my kop om dié onderwerp te kry. Nee, ek is nie, myne is pure boerebloed. Miskien ’n tikseltjie Frans uit die verste verlede. Hoekom?”

“Nee, dan is dit goed. My ma het altyd gesê – beware of Greeks bearing gifts. Baie dankie vir die pragtige blomme.”

“Hallo, Marna.” Sy oë blink ondeund. En hy gee haar ’n eenarmdrukkie. Plant ’n sagte soentjie onder haar oor. Sy sien hoe Alida se oë rek. Sluk moeilik.

“Braam, ontmoet my suster Alida, Alida dis my buurman Braam Theron.”

Alida glimlag breed toe sy vinnig haar hand uitsteek vir ’n groet. Probeer sy só om ’n meer intieme groet af te weer? Marna moet byt om nie te lag nie. Alida kry haar bos blomme met dieselfde sjarmante gebaar.

Alida lag. “Ek het baie van jou gehoor, Braam, maar ek moet sê, van aangesig tot aangesig is Marna se buurman ’n aangename verrassing.” Die direkte komplement verras Marna, dis nie Alida se styl nie.

Met sy arm nog om Marna se skouers loop hulle die huis in. Sy wikkel haar gou los en vat Alida se blomme uit haar hande.

“Ek gaan net gou die blomme in water sit, verskoon my. Alida, jy kan solank iets te drinke aanbied.”

Laat hulle maar eers ’n bietjie met mekaar gesels. Sy twyfel nie vir een oomblik dat Alida met stralende vriendelikheid binne die eerste halfuur alles omtrent die man sal kan uitvis nie. Maar waar kom hy nou skielik aan die soen en die druk? Pure moedswilligheid, dis wat dit is. Hy terg haar waarskynlik omdat sy gesê het die twee susters is nie troumateriaal nie. Nou plaas hy gedagtes in Alida se kop wat nie daar hoort nie. En nou is sy vir die res van die aand verplig om ’n vriendelike afstand te hou sonder om ongemaklik te lyk. Die pes.

Toe sy terugkom in die woonkamer is Braam besig om wyn te skink. “Ek skink vir jou rooi, Marna, ek hoop nie jy is vanaand lus vir iets anders nie.” Met ander woorde, ek en jy is daaraan gewoond om saam rooiwyn te drink. Sy onderdruk die drang om te sê sy verkies witwyn vanaand.

“Dankie.”

Alida was blykbaar besig met ’n onderwerp en soos sy opgelei is, laat sy nie toe dat die gesprek ’n ander wending neem nie.

“Betaal Marna jou vir die water wat jy aan haar verskaf, Braam?”

Hy glimlag en kom sit langs Marna op die bank. Alida sit in een van die twee gemakstoele en sy baadjie hang oor die ander een. Marna het aangeneem hy het daar gesit en dit sal veilig wees om op ’n afstand op die bank te gaan sit.

“Natuurlik nie. Dit is ruilhandel-ooreenkoms op die goeie ou boeremanier. Sy kry sekere tye van die dag water van my af en ek het die reg om oor haar grond grootpad toe te ry.”

“Die Therons het in elk geval oor baie geslagte die reg gehad om oor Kriefontein te ry.”

“Dit mag so wees, maar ek is gemakliker met ’n ooreenkoms.”

Hy gee terug wat hy kry. Die trots wat sy voel, verras haar.

“En die ander boere? Sal jy teenoor hulle ook so toegewend wees?”

Hy skud sy kop. “As ek hulle net sover kan kry om met my te praat, kan ons tot die een of ander vergelyk kom, al is dit net tydelik. Maar hulle weier om na rede te luister. Sieg het my so te sê met ’n geweer van sy plek af gehou en toe sy pomp kom haal terwyl ek weg was. Jannewarie het maar oopgesluit en hom toegelaat om die pomp te vat. Vleis was gister by my om sy pomp te kom haal. Hy het my met die hof, die grondwethof, en verskeie ander boereverenigings gedreig. Ek kon skaars twee woorde inkry. Dries is stug, maar hy is nie ’n probleem nie. My rivier vloei oor sy grond ook en sy grenslyne is altyd in ’n puik toestand.” Hy proe eers aan sy wyn.

“Ek is bevrees ek sal Marna se hulp moet inroep om ’n vergadering met die klompie te reël. Sy ken hulle darem heelwat langer as ek. Miskien kan sy by die vrouens begin. Ek het nie ander raad nie. Ek wil nie die wet gebruik om die probleem op te los nie, ons sal waarskynlik nog lank bure wees.”

Alida lag geluidloos. “Ja, die vrouens. Vleis en Sieg met hulle ou vaal vroutjies en Dries met sy flambojante vrou. Die vrouens is weer ’n hele probleem op sy eie.”

“Alida!”

“Moenie my Alida nie, jy weet dis die waarheid. Die ou twee belhamels se vrouens sal dit nie waag om hulle mans teen te gaan nie. Dries doen weer alles wat sy vrou vir hom sê om te doen. Vreemde gekompliseerde klompie waaraan julle twee blootgestel is.”

Julle twee. In Alida se kop is hulle al ’n paar. Sy het darem gelukkig geen probleme met die ander twee nie. Maar sy moet erken, dis net omdat Braam ’n buffer tussen haar en hulle is.

Braam se oë rek toe hy by die tafel gaan aansit. “Liewe genade. Dit ruik nie net heerlik nie, dit lyk deksels interessant.” Alida straal.

“Dis my sus se werk. Sy is ’n uithaler kok en maak die een besondere dis na die ander.”

“En ek het haar stap vir stap geleer. En resepte gelos. As jy hiervan hou, kan sy dit van tyd tot tyd vir jou maak.”

Marna verstyf. Sy laat dit nou regtig klink asof hulle twee gereeld saam eet. Waarin het sy haar begewe? Sy waag dit om na Braam te kyk en kyk vas in die tergende blou oë. Hy weet presies wat sy gedink het. Sy frons en kyk weg.

Alida kry haar volle porsie komplemente ná die nagereg. “Hieraan kan ek gewoond raak. Is jy seker Marna het die resep?”

Alida is soos ’n kat wat room gekry het. “Sy het hom, sy weet hoe om dit te maak.”

“Ek sal moet spore maak. Dit was lekker om jou te ontmoet, Alida. Ek sien in jou dieselfde van Wyk-staal as wat ek by Marna leer ken het. Nie katjies wat jy sonder handskoene aanpak nie. Maar heerlike, stimulerende mense. Dit was die moeite werd om my in die Karoo te kom vestig, al was dit net om vir Marna, en toe vir jou, te ontmoet.”

Hulle stap albei saam met hom tot op die stoep. Alida kry ’n handdruk. Toe draai hy na Marna toe, sit sy hande op haar skouers en trek haar nader. Soen haar sag, maar deeglik, vol op die mond.

“Lekker slaap.”

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s