Wintersprokie – Frenette van Wyk

wintersprokie_voorblad_high res

Andrea bekyk die affêre met lewendige oë. Toe wil hy weer buite gaan speel en Kristien laat hom begaan. Dis vir haar ook meer pret buite as om in die huis te sit. Sy tel ’n hopie sneeu op en druk dit in ’n ronde ysbal en gooi dit ver. Sy maak een vir Andrea ook.

Hy gil van opwinding toe hy die koue speelding tussen sy vingertjies hou. Hy gooi nie ver nie, maar ’n uitbundige lag breek uit sy keel toe die bal die sneeu tref en uitmekaarspat.

“Dis lekker om goed te gooi,” lag hy. “Maar Pappa raas net altyd as ek wil speel!”

Sy kan die versugting in sy stemmetjie onderskei, die onuitgesproke gemis aan sy pa se goedkeurende deelname in sy lewe daarin hoor.

“Dis omdat ’n mens nie sommer enige tyd enigiemand met enigiets kan gooi nie. Grootmense verstaan dit nie altyd nie. Vir hulle is dit nie altyd ’n speletjie nie.”

“Pappa sê dis stout.”

“Partykeer is dit.” En partykeer is dit nie, wil sy byvoeg.

Vir Andrea is dit ’n lekker speletjie, waarskynlik ’n manier om van sy frustrasies ontslae te raak. Sy wil dalk ook van haar frustrasies, die onvervulling wat sy deesdae weer beleef, ontslae raak, daarom dat sy deesdae self soos ’n kind tekere gaan.

“Maar as ’n mens die regte goed op die regte plek en tyd gooi, soos hierdie speletjie hier buite, dan kry ’n mens nie raas nie.”

Sy wil Andrea egter nie in enige kwaad sterk nie. Netnou dink Derek sy moedig hom aan om allerhande streke uit te haal.

Dit verhoed haar egter nie om dieselfde streek uit te haal toe Derek en Julia net ’n rukkie later teen die heuwel op aangestap kom.

Hy wuif vir haar en sy wuif terug. Sy wag egter net totdat hy Andrea wat na hom toe gehardloop het, klaar gegroet het en Andrea en Julia buite trefafstand is, toe mik sy sekuur en gooi hom met ’n sneeubal.

Die sneeubal spat uitmekaar toe dit sy arm skuinsweg tref, maar nie sonder om ’n donker, nat kol op sy baadjie te maak nie.

Hy gaan staan. Toe draai hy stadig om en kyk weer vir haar. Selfs van waar sy ’n hele paar meter van hom af staan, kan sy die vlammetjies in sy oë sien terwyl hy haar ’n paar sekondes lank net nadenkend staan en betrag.

Sy staan versteen.

Het hy hom vererg vir haar lawwigheid?

Toe trek sy haar skouers ongeërg op.

Maar hy buk reeds af en begin ’n klomp sneeu tussen sy vingers saampers. Hy vorm ’n koeëlronde bal, sien sy. Om haar daarmee terug te gooi, besef sy betyds.

Haar tone is ysblokkies in haar stewels en sy sukkel om in die koue sneeu vinnig tot beweging te kom, maar sy kies dadelik weers koers na die dennebome agter die huis vir beskerming.

Maar sy het nog nie die eerste bome van die woud bereik nie, toe tref Derek se koeël sy teiken.

“Eina!” skree sy toe sy uitasem in haar spore vassteek en haar hand oor haar linkerkantse agterstewe vou.

Haar asem jaag van die hardloop, maar ook omdat Derek laggend na haar toe aangedraf kom. Te lam om verder te hardloop buig sy vooroor om haar asem behoorlik terug te kry.

“Het jou!” Hy kom sit sy hand op hare wat nog op haar agterstewe is en sy vlieg weer orent.

“Gehoop prins Charming gaan jou kom red, nê!” Wit wasemwolkies dans spottend uit sy mond, maar die lig in sy oë flikker saggroen op haar.

Haar hart tamboer al wilder in haar.

“Natuurlik!” daag sy hom in ’n krakerige stem uit. Hy hoef nie te weet sy wens hy is prins Charming nie, hy kan maar dink dis van die koue wat haar stem so bewe. “Kyk, daar staan sy wit perd!” spot sy en wys na ’n boomstam wat skuins onder die sneeu toegeval lê.

Sy pomp hom net baie effentjies in die ribbes met haar elmboog, maar duik weg toe hy na haar arm gryp, en hardloop weer ’n entjie weg.

“Verniet gedink ek kan nie sonder prins Charming regkom nie, nê!” roep sy weer uitdagend en laggend oor haar skouer.

Die volgende oomblik struikel sy en val in die los sneeu. Sy knyp haar oë toe en keer met haar arms, maar skielik deurdrenk ’n nat, koue haar. Haar hare en haar klere is sopnat in die paar sekondes wat sy daar lê en spartel om weer regop te kom.

Derek se arms sluit om haar middel en skouers. In ’n kragtige greep lig hy haar op haar voete, styf teen hom vas. ’n Soliede massa spiere en krag, troon hy oor haar.

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s