AMPER ’N BRUID – Magdaleen Walters

amper 'n bruid_voorblad_high res

Goeie aarde, kyk waar trek die tyd!

Die trourok ruik na lap. Gladde, peperduur, glanswit lap. Dit gly onder haar hande deur, fluister oor haar arms en haak vas nog voor dit behoorlik oor haar skouers is. Sy spook en wriemel, vorder sentimeter vir sentimer. Waar is sy? Is sy ooit in die regte gat? Daar is nou ‘n spul net voor haar gesig. Dit gaan aan die kroontjie in haar hare vashaak.. ag flippit tog, daar het dit nou vasgehaak. Dit gaan haar hare ruïneer. Sy sit in haar rok vas. Waar bly Aileen?

Iemand klop aan die deur.

Sy trap rond asof ‘n ander plek op die vloer haar uit die koekspul gaan kry. Die borduurwerk krap oor haar neus en maak seer. Daar gaan waarskynlik ‘n rooi streep sit. Ag, nee, tog! Sy gaan nies…

Iemand klop weer.

Flippit, dis nou ‘n tyd om hier aan te kom! Vir wat klop Aileen? Sy weet mos sy moes al ‘n halfuur gelede hier gewees het. Kyk net hoe ‘n drama is dit nou met die rok. Die bruid van die jaar en niemand om haar te help aantrek nie…

“Binne!” Frustrasie kook saam met die woord uit.

“O, jammer!”

‘n Manstem? Waar ís Aileen? Maak nie saak nie. Sy gaan haar rok skeur en haar hare afskryf as iemand haar nie nou hier uitkry nie.

“Help my!”

“Wat op aarde?”

Great. Dis Ben Froneman se stem. Wat de ongeluk soek haar pa se boekhouer in haar slaapkamer?

“Help my net, man!”

‘n Teenwoordigheid langs haar. Die vae reuk van naskeermiddel. Hande wat vat en trek.

“Nie op nie, af! Ek wil die rok aantrek!”

“Ek dink nie so nie…”

“Man, maak net soos ek jou sê. Ondertoe!”

Stilte. Waarvoor wag die mansmens? Paniek druk haar keel toe.

“Trek! Ek kry ‘n kramp!”

Hande wat vat en rem, oor haar kaal maag skuur in die proses. Los! wil sy hom toesnou.

En toe is die rok aan haar lyf en kan sy longe vol lug intrek.

“Genade!” snak sy soos ‘n ou mens.

Ben staan voor haar. Gewone werksklere, kakie en katoen. Hy’t nog nie ‘n pak aan nie. Of… het sy dan vergeet om sy uitnodiging vir hom te gee? Sal sy verdiende loon wees. Hy dink mos sy’s… nie sy tipe nie.

“Wat draai jy so om te help?” hoor sy haarself  baklei. “Amper kry ek ‘n angsaanval.”

“Dit was nie net amper nie,” sê hy droog.

Sy pluk en trek aan die lap, wikkel haar heupe, spring op en af tot die rok op sy plek is.  En toe bly sy so staan met die hals van die rok in haar hande vasgevang om dit bo te hou, die rugpante gapend met die satynknopies wat nog vasgemaak moet word. Sy lig haar kop en kyk in die spieël. Die rok bol glinsterwit om haar.

Sy’s ‘n prinses. ‘n Feëprinses. Die mooiste bruid wat daar nog ooit was.

Ben staan stil agter haar. Hul oë ontmoet in die spieël.

“Wat soek jy hier?” wil sy meteens verbaas weet, soos iemand wat skielik na die werklikheid terugkeer.

“Ek moet met jou praat, Michelle.”

2 thoughts on “AMPER ’N BRUID – Magdaleen Walters

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s