Bosveldroos – Frieda van der westhuizen

bosveldroos_voorblad_high res

ʼn Skerp steekpyn in haar oog laat haar saggies gil en ʼn hand oor haar oog druk.

Steyn is met ʼn paar vinnige treë voor haar. “Wat makeer? Laat ek sien,” vra hy besorg.

Met ʼn hand onder haar ken lig hy haar gesig op sodat sy na hom moet kyk. Sunella staan versteend deur die oorweldigende reaksie wat sy nabyheid veroorsaak. ʼn Rilling gly teen haar rugstring af as hy sy arm om haar sit en haar na die lig draai. Hy neem haar hand versigtig voor haar oog weg en leun vorentoe om daarin te kyk.

“ʼn Insek het in jou oog gevlieg. Hou stil, ek sal dit moet uithaal.”

Sunella kan in elk geval nie die fisieke vermoë bymekaar skraap om weg te beweeg nie, en staan gedweë stil. Sy is verbaas vir die sagtheid waarmee hierdie groot ruwe man die insek delikaat met ʼn skoon sakdoek uit haar oog lig.

Toe vou hy albei sy hande om haar gesig, vee liggies die voortspruitende trane van haar wang af met sy duim, en raak dan liggies met sy lippe aan die hoek van haar oog.

Sy nabyheid is besig om haar hart in haar keel te laat bons en sy kan skaars ʼn hees dankie fluister. Sy weet hy gaan haar soen.

Pleks daarvan, lig hy sy gesig op en kyk oor haar skouer asof iets agter haar sy oog gevang het. Sunella draai om om te sien wat sy aandag afgelei het en staar versteend. Daar in die deur staan Gerhard!

Hoe lank staan hy al daar? Wat moet hy dink? Steyn het sy hande laat sak na haar skouers, maar sy staan amper in sy arms. Sy kan haar net voorstel hoe dit vir Gerhard moet lyk.

Haar wange brand skuldig. Vir ʼn oomblik was alles om haar vergete; alles behalwe die deurdringende blik van die blou oë wat haar so mesmeriseer het. Selfs Gerhard was uit haar gedagtes.

Nou sien sy die verwarring en twyfel in Gerhard se oë en dit trek haar terug na normaliteit. Sy treë haastig onder Steyn se hande uit, gaan deur toe en soen hom liggies. In ʼn poging om die beklemmende atmosfeer te verlig, trek sy hom aan sy hand in die kamer in en stel die twee mans aan mekaar voor. Haar ongemak verdubbel as sy na Steyn kyk. Hy leun gemaklik, arms gevou, teen ʼn kosyn met ʼn geamuseerde uitdrukking op sy gesig.

O, sy kan hom gerus vermoor as hy so na haar kyk! Hoe kon sy ʼn oomblik terug so verspot gewees het?

“Bly te ontmoet, Gerhard. Wel, as jy my sal verskoon, ek was net op pad om te ry.” Hy draai ongeërg na Sunella. “Ek neem aan jy kom nie meer saam met my nie? Ek sien jou dan later daar.”

Sunella skud haar kop. “Ek sal later deurkom,” is al wat sy kan sê.

Hy lig sy hand in ʼn groet en stap by die deur uit.

Sy vertrek los ʼn onverwagte leemte in die kamer. “Soos die gaping waar ʼn pynlike tand uitgetrek is,” dink Sunella bitsig. Die lewe behoort beter te wees vir die verlies. Maar die woord verlies eggo in haar gedagtes.

Sy trek haar aandag vinnig weg van die verraderlike gedagtes en draai na Gerhard. “Ek het regtig nie verwag om jou vandag hier te sien nie.”

Onmiddellik besef sy dit is die belaglikste ding wat sy moontlik onder die omstandighede kon kwytraak en sy probeer ʼn beter lyn. “Ai, maar dit is nogtans heerlik om jou hier te hê. Ek was juis ook net op pad terug stad toe, maar nou kan ons mos eers ʼn bietjie langs die see gaan stap.”

Terwyl hulle op die sagte wit sand langs die strand stap probeer Sunella vir Gerhard vertel wat die omstandighede was, en hoekom sy nie Steyn se teenwoordigheid genoem het toe hulle gepraat het nie, maar sy vind dit moeilik om te verduidelik sonder om te klink asof sy verskonings soek. Veral in die lig daarvan dat sy hom ook so uitdruklik gesê het om nie moeite te doen om oord toe te kom nie. As sy tog maar net in die eerste plek meer openhartig met hom was. Sy het gedink hulle sal saam oor die storie kan lag as hulle bymekaar is, maar skielik het ʼn erns in die gesprek gekruip wat sy magteloos is om te verdryf.

ʼn Paar hengelaars wat vandag vir die eerste keer met sukses die riviertjie kon oor steek, staan ook nou op die strand en dit maak haar storie van vasgekeer wees tot nou, nog meer ongeloofwaardig.

Die noodlot het alweer gekonkel sodat Gerhard juis vandag, wanneer die pad weer gangbaar is, kies om haar te kom soek. Dit is ook die noodlot wat sorg dat hy haar in die arms van ʼn vreemde man vind.

“Kom ons drink eers koffie voor ons ry,” stel sy voor.

Ten spyte van pogings aan albei se kant is die besoek nie ʼn groot sukses nie; ʼn ongewone distansie bly tussen hulle en maak gesprek moeilik.

“Nee, dankie. Ek het net ʼn paar uur by die werk weggeglip om te kom kyk hoekom ek dan niks van jou hoor nie, en of jy nog oukei is. Ek het heel naweek gewag vir ʼn oproep van jou om te sê of ek al deur die rivier kan kom. Ons is erg besig op die oomblik en ek moet haastig terug.”

“Ek wou jou so graag bel, maar die telefoon is steeds buite werking. Ek glo nie Telkom se tegnikus kon tot hier kom nie,” probeer sy hom laat verstaan.

Hy vou sy arms om haar, soen haar op albei wange en dan saggies op die mond. Sy gesig is in skaduwee en sy kan die uitdrukking daarop nie lees nie.

“Ek sien jou later in die stad. Dinge is dalk vanmiddag makliker.”

Sy weet nie of hy net na sy werk las verwys nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s