Troukoors – Madelein Stoltz

troukoors_voorblad_high res

Hy maak keelskoon en Erika tik ongeduldig met een voet op die vloer omdat hy nie tot die punt kan kom nie. “E … jy is nie dalk lus om middagete te gaan eet by ’n koffiewinkel nie?” verstrek die man eindelik die rede vir sy oproep.

Erika sug hoorbaar. “Meneer Dippenaar, wees net gewaarsku ek knoop nie verhoudings met manlike personeellede aan nie. As jou uitnodiging bloot vriendskaplik is, stem ek graag in, want ek het juis gewonder wat ek vandag gaan doen.” Sy hoor sy senuweeagtige laggie aan die ander-kant.

“Natuurlik, bloot vriendskaplik. Kan … kan ek jou so teen half twaalf kom haal?”

In daardie afgeleefde Volkswagen van hom. Beslis nie! “Noem net die tyd en die plek. Ek ry sommer self,” stem sy ietwat vriendeliker in.

Sy laat haar kop in haar hande sak toe hulle gesprek op ’n einde kom. Dit kom nou van impul-sief optree. Sy gaan ’n hele uur of twee in ’n man wat hom duidelik laat intimideer deur haar, se geselskap moet deurbring.

“Miskien moet jy my eerder Erika noem,” stel sy ’n ruk later voor in die koffiekroeg toe hulle vir die drankies wag wat bestel is. Die kelnerin het hulle flussies baie snaaks aangekyk omdat Anrich wat beslis ouer as sy lyk haar so formeel aanspreek.

Anrich verkleur soos ʼn wortel. “Dankie, Erika.” Die kelner bring hulle drankies: rooi cappuc-cino vir haar en filterkoffie met warm melk vir hom.

“So, jy ken duidelik die koffiewinkel, Anrich.” Haar blik rus goedkeurend op die tafels met die gemaklike leerbanke, die uitsig oor ’n boomryke en kleurvolle park oorkant die straat en die algehele netheid van die plek. “Watter disse is die lekkerste? Ek moet jou waarsku ek is baie honger, want ek het net tee en een kraakbeskuitjie gehad vir ontbyt.”

“In daardie geval sal ek definitief die hoenderpastei aanbeveel,” antwoord hy en klink of hy skielik meer selfvertroue het. Dankie Vader. Sy wil beslis nie in ʼn man se geselskap wees wat hom laat intimideer deur haar nie. “Die porsies is groot en die kok maak dit self. Die sous is heerlik en…”

“Bestel dan vir ons. Jy het my oortuig.” Sy glimlag goedkeurend.

Hy is seker darem nie so onaardig nie, besluit Erika. Beslis nie ’n mooi man nie, maar goedge-manierd. Al wat hy kortgekom het, is selfvertroue. Dalk sal sy geselskap minder vervelig wees wanneer hulle weer uitgaan.

Liewe aarde, wat gaan met haar aan? Is sy nou al so desperaat dat sy ’n tweede afspraak be-plan? Sy het mos besluit haar skool is haar hele lewe. Is dit nou haar biologiese klok wat vinnig aandraai wat haar mal maak? Anrich Dippenaar! Hy sal haar binne ʼn week grensloos verveel. Dan … dan gaan sy eerder met daardie boemelaar uit. Vuil en te sleg om te werk, maar ten minste was daar vuur in hom, het hy gewaag om haar uit te trap toe sy hom met haar sambreel geslaan het. Dis so jammer dat so ʼn slegte vent sulke mooi grys oë het.

Sy baklei nog met haarself toe ’n vrou se klokhelder lag haar aandag trek. “Ek sê vir jou sy het hom met ’n sambreel geslaan.”

Erika verstik amper in haar tee.

“Nooit! En toe jaag sy hom van die skoolgrond af weg?”

“Ja, hy het hom glo byna doodgelag. Sy het nog boonop gedreig om die polisie ook te ont-bied.”

“Dit moes ’n gesig gewees het om te aanskou.”

“Ja, Marno het glo gesê sy is vrek vaal, lyk soos ’n paal of iets. Regte verstokte oujongnooi! Nog nooit ’n man gesoen nie, volgens hom. Ek wens ek kan haar gesig sien wanneer sy ontdek dat sy een van die kontrei se voorste wynboere met ’n sambreel van alle dinge aangerand het.”

Die vrouens giggel nou soos hulle lag. Erika kan hulle vaagweg sien waar hulle in ’n verskuil-de hoekie sit agter plante. Hoe meer sy na die gesprek geluister het, hoe sterker het haar drang geword om haar ore toe te druk. Om alles te kroon staar Anrich haar ook nou oopmond aan.

Hy klap sy mond toe, toe hy haar blik op hom betrap. “Ek is jammer. Ons kan êrens anders gaan eet as jy wil,” Hy lyk so simpatiek dat sy sommer wil huil.

“As jy nie omgee nie? Gelukkig het ons nog nie iets bestel om te eet nie,” sê sy skerp. Sy het genoeg gehoor en gaan nie langer luister hoe sy onder bespreking is nie. Dit is te vernederend. Sy hoop Anrich is diskreet en gaan nie die hele voorval aan haar personeel uitblaker nie. Sy sterf tien dode.

Hulle betaal die kelnerin. Erika se rug is baie reguit toe sy Anrich buitetoe volg. Verstokte ou-jongnooi! Nog nooit ʼn man gesoen nie! Sy sal daardie vooruitstaande wynboer wat haar so be-skinder ’n ding of twee wys. Sy weet nog nie hoe nie, maar sy sal sorg dat hy elke beledigende woord wat hy oor haar voorkoms geuiter het, berou en terugtrek. En haar gaan smeek om hom te vergewe. En dan gaan sy vir hom in sy gesig lag.

“Hier is nog koffiewinkels in die straat,” sê Anrich onnodig toe hulle buite is. Sy is nie so ver-stok dat sy nie al die eetplekke kan sien nie.

Erika skud haar kop en gluur hom aan. Sy voel nog so grimmig sy kan stik. “Nee, ek gaan huis toe!”

“Is jy seker?” Hy lyk meteens soos ʼn seuntjie wat pak gekry het.

Sy gee ʼn uitgerekte sug. Hy is seker honger en sy voel ook baie skraal. Buitendien is dit nie sy skuld dat hulle afspraak so rampspoedig geëindig het nie. “Kom eet by my meenthuis. Ek gaan net eers by die Spar stop en ham koop. Dan maak ek vir ons elkeen ʼn omelet.” Sy kan haarself skop toe die woorde uit is. Nou het sy hom na haar huis toe genooi. En hy lyk so ingenome dat sy haar bedenkinge het hoe gou sy van hom ontslae gaan raak.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s