Onbeplande soen – Dina Botha

onbeplande soen_voorblad high res

Agter Julian se rug sien sy Amanda aangeloop kom en sy trek vinnig haar hand weg. Sy sit dit op haar skoot waar niemand haar bewende vingers kan sien nie. Sy vermy ook oogkontak, want haar mond voel droog en in haar binneste is ’n ongewone gespanne gevoel. Sy is normaalweg nie iemand wat simpatie ligtelik uitdeel nie, maar Julian se pyn roer haar op ’n onverklaarbare wyse. Sy wil opstaan, haar arms om sy nek sit en sy lippe soen en sê dat alles weer beter sal word. Die pynlike herinnering sal mettertyd weggaan.

Amoré skrik, want dis nie die eerste keer dat sy daaraan dink om Julian Laubscher te soen nie. Die aand toe hy by haar huisie weg is, het sy ook vir so iets gewens.

“Die chicken à la king is gereed as julle solank daarvan wil bestel,” sê Amanda langs die tafel.

“Chicken à la king is reg.”

“Vir my ook,” sê Amoré, en tot haar verligting verklap haar stem geen teken van die spanning wat sy voel nie.

Julian gaan soek ’n bottel wyn in die wynrak en sy kyk na sy mooi regop postuur. Hoekom het sy nooit opgelet dat hy sulke breë skouers het nie? Moontlik omdat hy so lank en lenig is, beantwoord sy haar eie vraag. Sy byt haar onderlip vas en sonder toestemming kry haar verbeelding vrye teuels. Saam met sulke breë skouers kom arms wat ’n meisie stewig kan vashou. En hande wat ’n meisie ordentlik kan liefkoos. Haar hart klop al hoe swaarder in haar bors en sy het ook nie beheer daaroor nie. Julian draai om en sy skuif haar blik na die tafeldoek.

Julian sit die bottel wyn op die tafel neer en asof die kelner net daarvoor gewag het, loop hy nader om vir hulle te skink. Toe sy haar glas na haar lippe lig, flonker die diamant in haar verloofring en die realiteit is ontnugterend. Sy mag geen intieme gedagtes koester wat Julian insluit nie. Nie voordat Henk ’n afgesluite hoofstuk in haar lewe is nie.

“En daardie ongelukkige frons? Is die wyn nie na jou smaak nie?”

Sy skud haar kop en glimlag gerusstellend. “Ek wil eers iets eet.”

“Kan ek vir solank jou ’n broodjie botter?”

“Dit sal gaaf wees.”

Amoré kyk toe hoe Julian met die presisie van ’n chirurg een van die warm broodjies oopsny en botter. Eers hare en toe syne. Nie eens Henk het al aangebied om dit vir haar te doen nie, en die eenvoudige bederf kry eensklaps vir haar groot waarde. As Julian soveel toewyding aan die smeer van ’n broodjie skenk, hoe deeglik sal hy nie in sy liefkosings wees nie? Sy het geen rede om so iets te dink nie, maar vroulike instink sê dat Julian ’n wonderlike minnaar sal wees. Haar mond word so droog soos klippies in ’n woestyn, en ’n gespanne knopie vorm in haar binneste. Dit trek stywer toe Julian sy broodjie byt en sy mooi lippe saam beweeg. Soveel begeerte soos wat sy op daardie oomblik voel, het sy nog nooit by enige ander man ervaar nie, besef sy geskok. Sy laat sak haar kop en asof haar lewe daarvan afhang, konsentreer sy op die broodjie in haar hand.

“Jy is nogal stil vanaand,” merk Julian op toe hulle eet.

“Jammer, ek is net moeg. Ek dink ek was dalk te lank in die son gewees. En nee, ek het nie sonsteek nie,” sê sy vinnig toe sy oë ondersoekend oor haar skroei.

“Ek is deursigtig, nè?”

“Jy is,” sê sy en glimlag. Julian glimlag terug en die aand word ’n herinnering wat sy nie gaan vergeet nie.

 

Met die lysie van nommers in haar handsak groet sy en Julian later vir Amanda. Julian loop saam tot by haar motor.

“Gee vir my,” sê hy toe sy in die donker sukkel om die deur oopgesluit te kry.

Dis omdat haar vingers skielik so bewe dat sy so lomp is. Die rede daarvoor is die verraderlike afwagting wat in haar ontwaak het die oomblik toe die gastehuis se voordeur agter hulle toegegaan het. Sy en Julian is alleen in die donker, en daardie gespanne knopie in haar binneste word selfs stywer vasgetrek. Hulle vingers raak toe sy die bossie sleutels vir hom aangee.

“So ja,” sê Julian toe hy oopsluit, maar hy maak nie die deur oop nie. “Dankie dat jy saam met my kom eet het.”

“’n Meisie moet eet en Amanda se kos is heerlik,” spot sy met haarself.

Vervlaks, hoekom klink haar stem nou so hees en gespanne? Julian gaan dit agterkom, dink sy half paniekerig. Haar hand soek na die handvatsel, maar al wat sy raakgevat kry, is syne wat op die handvatsel rus. Verskrik ruk sy dadelik haar hand weg.

“Jammer,” mompel sy.

“Amoré, is iets fout?”

Is dit haar verbeelding of klink sy stem net so gespanne soos hare? Sy skud haar kop, maar snap amper dadelik dat hy dit nie kan sien nie. “Nee, ek … ek moet gaan, dis laat.”

Die dakliggie kom aan toe hy die deur oopmaak, maar hy tree nie weg nie. En tensy sy teen hom verbyskuur, kan sy nie agter die stuur inskuif nie. Sy kyk vraend op en toe ruk haar hart van skok. Of is dit plesier? Julian buig sy kop en druk sy lippe teen hare. Die donker hemelruim ontplof in miljoene sterre toe sy haar oë sluit en haar effens op haar tone lig. Maar voordat sy haar arms om sy nek kan sit, is die soen verby.

“Nag, Amoré, lekker slaap.”

Soos ’n vis uit die water hap sy na iets om terug te antwoord. Soek sy na ’n woordjie om te keer dat hy wegloop, maar sy is te stadig. Sy motor se dakliggie kom vlugtig aan en sekondes later trek hy weg. Die agterliggies het lankal om die hoek verdwyn toe staan sy nog op dieselfde plek. Skok doen dit seker aan ’n mens, probeer sy haar lamheid verklaar. Sy vat aan haar lippe, maar syne was nie lank genoeg op hare om hitte oor te dra nie. Tog het dit ’n blywende indruk gelaat.

Amoré ry soos ’n rekenaaroutomaat terug sentrum toe. Sy voer haar aandtakies uit en klim in die bed. Eers toe sy die bedlampie afskakel en die donker haar omvou, laat sy haarself toe om weer van die soen te onthou. Wat het hom besiel om haar nag te soen, wonder sy oor en oor. En wat het haar besiel om nader te leun en hom terug te soen? Skielik kan sy nie onthou hoe lank die soen geduur het nie, want dit is nogal van kardinale belang. Was dit net ’n piksoentjie om nag te sê? Nee, dit moes langer geduur het, want daar was verskietende sterre wat haar wêreldjie vir ’n paar oomblikke tot stilstand gebring het. Maar hoe dit ook al sy, sy hoop nie die soen kompliseer dinge tussen hulle nie. Want al het sy dit uit die oog verloor, bly sy in Julian se oë Henk se verloofde. Juis daarom verstaan sy nie hoekom Julian haar gesoen het nie. Dalk sien sy heelwat meer daarin as wat Julian bedoel het. Miskien omdat sy meer wíl sien.

Teen die vroeë oggendure het sy besluit wat sy gaan doen. Sy gaan dit ignoreer en niks meer daarin sien as wat Julian waarskynlik bedoel het nie. Dit was ’n onskuldige nagsoentjie vir iemand wat besig is om ’n goeie vriendin van hom te word.

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s