RITME VAN DIE NAG – Judy Troskie

ritme van die nag_voorblad_low res

Later die aand, toe die huis stil is, sluip Elli in die gang af. Sy kan nie langer tussen die warm lakens met gedagtes worstel nie. Haar ongedurigheid steel haar slaap.

Hopelik maak die sagte kraak-klik van die voordeur niemand wakker nie. Die stoepmuurtjie is koel toe Elli daarop gaan sit en haar rug teen die pilaar stut. ʼn Simfonie van naggeluide in die maanlig, kom aangesweef op die ligte aandbries. Sy trek haar longe vol met die soetgeur van katjiepiering en verbleikbos. Alles in die natuur leef in simbiose met mekaar saam. So anders as die mens. Iewers diep tussen die bosse kondig ʼn leeumannetjie sy teenwoordigheid aan. Die mismoedige roep van die gevlekte-ooruil, hoog in die mopanieboom, word deel van die nag om haar.

As Elli haar hand uitsteek, kan sy aan die sterre raak, hulle hare maak, hulle skitterlig in die donker kamers van haar siel inlaat. Dalk belig dit die rede waarom haar wêreld van sy as af gefoeter het en die rol wat Dewald daarin speel.

Vies vir haar onvermoë om Dewald uit haar gedagtes te weer, stap sy teen die trappe af. Met haar arms om haar bors gevou, lig sy haar gesig na die maan en sluit haar oë. Sy verbeel sy is vry. In die arms van die man op die maan, sweef sy op sy ongekompliseerde wentelbaan.

Twee arms omsingel Elli van agter en ʼn gil tuimel by haar keel uit. Daar is ʼn kortsluiting in haar brein. Dan sluit  ʼn warm hand oor haar mond. Die asemhaling in haar nek en die manlike geur van dennenaalde, onmiskenbaar.

Elli se hele liggaam is bewus van Dewald se nabyheid. Hulle lywe kommunikeer op ʼn ander primitiewe manier. Spanning bou in haar lyf op. Sy vergeet vir ʼn oomblik om asem te haal voordat haar verstand weer ontwaak. Sy mik ʼn skop met mening na agter, maar mis haar teiken.

“Ontspan, Elli,” fluister Dewald naby haar oor en sy lippe vee soos vlindervlerke oor haar vel. Yskoue vingertjies hol teen Elli se ruggraat af.

Waarom klink die noem van haar naam soos ʼn liefkosing? Sy moet vlug! Sy het geen beheer oor haar eie lyf se reaksies nie. Elli probeer weer ʼn geluid maak.

“Sjuut en staan, asseblief stil,” vervolg Dewald sag. “Sluit jou oë en luister na die ritme van die nag. Laat dit  deel van jou word.” Sy lippe raak warm aan haar ontblote skouer.

Elli ril liggies. Sy is ontsenu deur hierdie vreemde Dewald. Hy is ver verwyderd van die streng beheersde Dewald wat sy ken. Nee, dis nie Dewald Botha nie, dis haar man op die maan. Sag en romanties.

“Waarna verlang jy in die lewe, Elli?” vra Dewald gedemp. Sy lippe dig by haar oor.

Instinktief beweeg sy weg. Haar asem jaag toe sy hom antwoord. “Beslis nie na ʼn man wat dink hy kan met my gevoelens jojo speel nie.”

“Dink jy dis wat ek wil doen, Elli?” vra hy met ontroering in sy stem.

Elli wens sy kon sy gesig beter sien, maar sy oë speel wegkruipertjie in die donker. “Ek weet nie en ek stel nie belang om uit te vind nie,” antwoord sy so ongeërg moontlik. Haar hart en verstand is alweer in ʼn burgeroorlog betrokke. Hoe moet sy op hierdie vreemde Dewald reageer? Eerder die Dewald iewers agter ʼn toe kantoordeur as hierdie man wat met haar sinne smokkel.

“Jy leef met ʼn geheim, Elli Du Preez. Is ʼn man verantwoordelik vir die seer in jou oë?” vra Dewald sag.

Elli  draai haar rug op Dewald en ontwyk die vraag met ʼn teenvraag. Haar stem is nou self skaars meer as ʼn fluistering. “Het elke mens nie maar ʼn beurt op seerkry nie?”

Dewald draai Elli weer om sodat hulle oë mekaar kan ontmoet. Hy steek sy hand na haar uit en skulp sy vingers om haar ken. Sy duim streel liggies oor haar lippe. Dewald buig sy nek tot sy gesig net sentimeters van hare af is. “Jy is ʼn pragtige vrou, Elli. Ek glo nie jy weet wat jy in my ontketen as jy met daardie twee groen poele na my kyk nie. Menige keer het ek al gewonder hoe dit sal wees om daarin te verdwaal, die seer daaruit te kan wegneem.”

Die aarde tol om Elli en haar logika het iewers vasgehaak. Net die oerbegeertes om bemin te word golf deur haar. Elli kreun liggies toe Dewald se arms om haar sluit en sy lippe hare vir homself opeis.

Al Elli se vroulike instinkte stem saam, dat Dewald van haar, Elli die vrou, kennis geneem het. Maar wat van Zelda? Vaagweg weet sy hierdie is ʼn reuse fout. ʼn Man mag nie een vrou liefkoos, asof sy iets vir hom beteken, terwyl hy met ʼn ander wil trou nie.

Elli druk met al twee hande teen Dewald se bors. Haar stem is skor. “Hou op, asseblief.”

Dewald laat sy duim in Elli se kuiltjie kuier. “Is dit regtig wat jy wil hê, Elli?”

Elli tree haastig agtertoe en Dewald laat haar gaan. “Ja, Dewald, dit is hoe ek dit verkies,” jok sy vinnig en baklei verbete teen die begeerte om terug te kruip tot teen sy groot fors lyf, totdat hulle onherroeplik ineensmelt.

Dewald kyk fronsend na haar. “Elli, jy vertel graag dat jy ʼn volwasse vrou is, maar jy bluf jouself as dit by jou gevoelens kom. Die moeilikste is om van jouself af weg te vlug. Nag, Elli, soete drome.”

“En jy sal dit weet, nè, Dewald?” Elli wag nie op ʼn antwoord.  Haar voete is vlerke en sy vlieg teen die trappe uit tot in die veiligheid van haar kamer.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s