Fantasieman – Susan Olivier

Fantasieman_voorblad_high res

Ilse ruk wakker en sit regop. Sy het wraggies in die stoel aan die slaap geraak. Het sy iets gemis? Haar blik beweeg vlugtig oor die raampies. Dis stil, net die wag wat die area buite patrolleer. Sy haal die bril af en vryf oor haar oë. Die rekenaar wys dit is kwart oor twaalf.

Dis dalk nou ʼn goeie tyd om ʼn toetslopie te doen. Sy haal ʼn geheuestokkie uit haar rugsak en druk dit in die hoofrekenaar. Die program begin laai. Sy tik die instruksies in presies soos Yolanda neergeskryf het. Die opnames word een na die ander oorgestuur na die stokkie. Nog net een oor.

ʼn Alarm begin luid skree. Liggies flikker op die paneel. Vervaard druk Ilse knoppies op die sleutelbord, maar dit het geen effek op die geraas nie. Sy ruk die geheuestokkie uit. En toe eers word dit stil. Doodbenoud staar sy na die skerms. Wat nou? Waar gaan die alarm nog af? Gaan die wagte hier instorm en haar in hegtenis neem?

Die deur bars oop en benoud swaai sy om. Anton kom ingehardloop.

Ilse se oë rek. Hy het ʼn slaapbroek en uitgeholde T-hemp aan. En dis al. Kaalvoet, met deurmekaar hare. ʼn Lewende fantasie. Sy grys oë is egter wakker en skerp op haar gerig. “Wat gaan aan?”

Sy agterdogtige houding ruk haar tot haar sinne. Sy beter nou op haar hoede wees. Een verkeerde woord en al hul planne is tevergeefs. “Ek weet nie.” Sy voel versigtig in haar broeksak. Die geheuestokkie is veilig daar.

“Wat het gebeur?”

“Ek wou net op my skootrekenaar speel, toe gaan die alarm af.” Sy moet Yolanda se skootrekenaar verklaar wat oop en bloot daar lê.

“Het jy iets op die hoofrekenaar gedoen?” Anton tik kodes in op die rekenaar.

Ilse byt op haar lip. Gaan die dekselse masjien nou haar sondes blootlê?

“Die alarm op my foon het afgegaan. Dit gebeur slegs as iemand met die sekerheidstelsel peuter.” Hy karring steeds op die rekenaar.

Ilse probeer net so verward soos hy lyk.

Anton tel sy foon op. “Ek gaan gou vir Piet bel, hy sal weet wat skort.”

Goeie genugtig, dit sal ʼn ramp wees. Piet sal nooit weer met haar en Yolanda praat nie. “Nee, asseblief nie. Dan is ek in die sop. Hulle kan my summier afdank.” Sy vat dringend aan sy arm en los dit net so vinnig. Dit moes sy nie gedoen het nie. Die gladde vel, die sterk boarmspiere, die seepgeur van sy vel … Dit dring tot haar deur dat haar fantasieman opeens ʼn mens van bloed en vlees geword het. Nie iemand wat sy kan vergeet sodra sy wakker word nie.

Hy kyk verbaas na haar. “Ek sal dit mos nie toelaat nie.”

“Asseblief.” Ilse kyk smekend na hom, probeer hard om nie laer as sy gesig te kyk nie. Dit verg egter inspanning. Soveel atletiese spiere, skouers en bene. Sy gun haar ʼn vinnige en waarderende blik. Sy sluk diep en kyk hom weer in die oë.

“Oukei, kom ons laat dit vir eers daar. Los in die vervolg net die rekenaars uit. Ek gaan nou verder slaap. Nag.” Hy stap uit.

“Nag, Meneer.”

Hy kyk oor sy skouers. “Anton. Noem my asseblief Anton.” Die keer klink dit soos ʼn opdrag.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s