EINDELOSE LIEFDE – Rika du Plessis

eindelose liefde_voorblad_high res

“Sy gaan in Cor se hemp slaap? Hoe kan Ma dit doen? Om te dink sy gaan heel nag snoesig in iets slaap wat aan hom behoort. Nee, gee dan liewer my goed vir haar.” Op daardie oomblik besluit Janine om die badkamerdeur oop te maak en uit te stap.

“Dankie, tant Rhona, maar Cor se hemp lyk vir my die gerieflikste,” sê sy, loer na die deursigtige stukkie materiaal in Rhona se ander hand en neem die T-hemp.

“Kon Ma nie vir my gesê het sy bad hier nie? Sy het natuurlik alles afgeluister waaroor ons nou gepraat het,” bars Lanie verontwaardig los.

“Bedaar, Lanie, ek kon niks agter die toe badkamerdeur hoor nie. Net ’n gemurmel van stemme. Ek gaan maar kamer toe. Nag, Tante … Lanie.”

“Ek het vir jou ‘n glas warm melk op die bedkassie gesit, Janine. Kom vra maar as jy iets anders nodig het. Nag, my kind,” groet Rhona en du Lanie na die deur se rigting.

“Dankie, Tante,” sê Janine, stap weg na die kamer langsaan terwyl ontstelde klanke van Lanie se stem steeds agter haar aangerol kom. Sy gaan haar beslis nie aan hierdie meisiekind steur nie. Sy en Cor, kan jy nou meer. Hulle verdra mekaar skaars. Dis beslis nie haar skuld as Cor Lanie nie weer ’n kans wil gee nie.

In die kamer maak sy die beddegoed oop en klim in voor sy die glas melk vat en drink. Daarna skakel sy dadelik die bedlig af en sak af in die sagte beddegoed. Sekondes daarna klink ‘n sagte klop aan haar deur, en sy sit orent. Seker tant Rhona wat nog iets wil sê of bring.

“Kom maar binne, Tante,” roep sy, en die deur gaan oop op dieselfde tyd wat sy weer die bedliggie aanskakel. Haar oë rek. Dis nie tant Rhona nie, maar Cor wat na binne stap. Gekoester in sy arms sit Neelsie.

“Ek is jammer om te pla, maar hierdie outjie is so rusteloos ek kan nie met hom huishou nie. Toe dink ek hy verlang seker na jou. Ek het sy beentjie verbind, en hom mooi droog gemaak. Hy is dus mooi skoon. Lyk of die beentjie nie gebreek is nie, net verstuit soos ek dit bekyk het,” sê Cor en sit vir Neelsie langs haar op die bed neer.

Onmiddellik hop hy op drie beentjies tot by haar en gryp om haar nek vas. Hy druk sy snoetjie vinnig teen haar mond en laat glip sy koppie daarna onder haar nek in. Dit kielie effens en Janine lag sag.

“Dankie, ek het gewonder wat jy met hom gedoen het.”

“Jy kon maar kom vra het.”

“Jy weet mos ek het niks droë klere hier nie, en ek kan nie net in hierdie gewaad in die huis rondloop nie.”

“H’m, my hemp sal wonder wat hom getref het om saam met so ‘n ou sagte lyfie te slaap,” terg hy en gaan sit eiegeregtig op die rand van die bed.

“Jy is sommer laf,” reageer sy effens onseker oor hoe om die geterg te hanteer. “Jy moet liewer loop voor Lanie jou hier sien.”

“Hoekom juis Lanie?” vra hy fronsend.

“Sy dink reeds ek is die rede oor hoekom jy haar nie weer terug in jou lewe wil hê nie.”

“Dis verspot, waar kom jy daaraan?” vra hy openlik verbaas.

“Sy het vir haar ma so gesê terwyl sy nie geweet het ek kan alles in die badkamer hoor nie. Sy wil jou terug hê. Ek vra net, hou haar van my nek af, want ek het nie tyd vir sulke kinderagtigheid nie.”

“Is jy dalk tog so ‘n bietjie jaloers?” vra hy sag, en sy soek na spot of terg in sy stem, maar daar is niks. Haar liggaam span styf.

“Vir wat of op wat sou ek nou jaloers wees? Ek het niks met jou of enige man te doen nie, dus geen jaloesie in sig nie,” antwoord sy skerp. “Gaan verseker jy maar vir Lanie sy het niks om op jaloers te wees nie.”

“Dit kan ek nie doen nie.”

“Hoekom nie?”

“Want ek is nie so seker sy het nie iets om oor jaloers te wees nie.”

“Nou wat bedoel jy nou daarmee?” vra sy en kyk hom nou direk in die oë.

“Wel, sy kan dalk my vriendskap met Mirna ook verkeerd vertolk, en ek gaan dikwels in jou geselskap wees met die kantoorsake van De Wilgers. Sy gaan nie daarvan hou nie, en ek kan haar nie die versekering gee dat ek nie in julle teenwoordigheid gaan wees nie.”

“Maar dis tog anders. In ons geval werk en in Mirna se geval, wel, net jy sal weet of Lanie daar rede tot jaloesie het.”

“Die punt is net, Lanie is nie eens geregtig op enige teken van jaloesie nie, want daar is niks meer tussen my en haar nie. Dus, einde van hierdie onderwerp,” antwoord hy nou amper verveeld en staan op.

“Sê dit vir haar, anders maak sy net die lewe suur vir my en Mirna,” brom Janine onderlangs. Sy is nie voorbereid toe Cor afbuk, haar kop sag tussen sy hande vat en ‘n soen vol op haar mond druk voor hy weer vinnig orent kom nie.

“Jy praat te veel, swartkoppie. Lekker slaap,” antwoord hy laggend en sy kyk teen sy rug vas toe hy by die deur uitstap.

Sy laat haar asem eers uit toe die deur agter hom toegaan. Wat het hom besiel? In vertraagde reaksie streel sy oor haar lippe wat liggies bewe soos die sensasiewekkende prikkels steeds deur hulle skiet. Cor se lippe het kortstondig baie lewendig op hare gekuier. Lank genoeg vir haar om te besef dis geen broederlike soen nie, en hy soen boonop lekker! Is dit die moeite werd om hieroor te lê en wonder, of moet sy maak of dit nooit gebeur het nie?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s