MAN NA HAAR HART − Magdaleen Walters

man na haar hart_voorblad_high res

Die staal en chroom onder hulle word met ʼn gegrom wakker en kry onmiddellik lewe, nie met ʼn lawaaierige gebrul soos sy verwag het nie, maar gedemp. Asof die masjien sy krag in toom hou. Francois trek weg, maak ʼn draai oor die sypaadjie en stoot die fiets se neus in die straat in. Die wind suis by haar verby en toe hy om die eerste draai gaan, voel sy die trek van die G-krag. Haar lyf soek vanself skuiling teen sy rug en sy kom agter dat haar hande met ʼn wil van hul eie aan hom klou. Sy bly teen hom, leun in dieselfde rigting as hy by die draaie. En bid met toegeknypte oë dat sy hierdie rit en hierdie aand met hierdie yslike gevaarte onder haar sal oorleef.

Teen die tyd dat hy die fiets parkeer, het sy alle sin vir rigting verloor. Sy lig haar kop en kyk rond, sien toe dat hulle by ʼn privaat hospitaal aan die oostekant van die stad is. Natuurlik, hierdie apteek is deur die nag oop.

Francois het afgeklim en is besig om sy baadjie oop te rits. Hy haal ʼn beursie uit ʼn binnesak en maak dit oop, trek toe ʼn stapeltjie note uit en hou dit na haar uit.

“Ek gaan hier vir jou wag,” sê hy. “Dit lyk dalk verdag as ʼn man so ʼn spul babagoed kom koop.”

Sy kyk na die motorfiets. “Hoe gaan ons die goed vashou terwyl ons ry?”

Hy beduie met sy kop in die rigting van ʼn houer aan die kant van die fiets. “Ons pak dit daarin.”

Behalwe vir twee verpleegsters wat met voorskrifte by die toonbank staan, is die apteek stil. Sy kry die nodige en pak dit in ʼn mandjie, staan by tye en kou aan ʼn lip. Pleks sy vir Louise gevra het wat alles in daardie tas is wat die ontvoerder gevat het. Sy gaan pak haar inkopies op die toonbank. Boudjiesalf, nat lappies, ʼn pak weggooidoeke, wondpoeier vir die naeltjie, twee bottels gesteriliseerde water en wattedeppers vir die ogies, ʼn blik formulemelk, bottels, steriliseertablette, ʼn fopspeen. ʼn Duur rondte, sien sy toe sy die geld aftel. Onbenullig as ’n mens daaraan dink dat ʼn kind se lewe op die spel is.

Die assistent wat haar bedien, oorhandig die kleingeld en stoot toe ʼn groot plastieksak oor die toonbank na haar toe sodat sy self alles daarin kan pak.

Sy glip eers by die kleedkamers in, gaan vul beide die bottels met water en breek ʼn stukkie van ʼn steriliseertablet af vir elke bottel, draai toe weer die proppe stewig op. Dit bottels moet klaar steriel wees teen die tyd wat sy by die baba kom.

Francois se fiets staan verlate in die skadu van die struike aan die kant van die parkeerterrein toe sy buite kom. Sy kyk onseker rond en stap toe nader. Toe hy onverwags reg langs haar praat, wip sy van die skrik.

“Kon jy alles kry?”

Vies omdat hy haar laat skrik het, hou sy die sak na hom toe uit. “Ek dink so,” sê sy kortaf.

Hy sluit die paneel aan die kant van die motorfiets oop en tot haar verbasing kry hulle alles ingedruk.

“Is jy gereed?”

Sy knik. “Waarheen nou?”

Hy haal sy skouers op. “Hy wil nog nie vir my sê nie. Hy’s bang ek laat weet die polisie. Hy beduie die pad vir my so stuk-stuk. Op hierdie stadium weet ek net dat ek na ʼn garage op die ou Johannesburgpad toe moet gaan en hom dan weer moet bel.”

Colette kyk na hom en voel die bang aan haar hart rem.

Hy kyk kalm terug na haar. “Ek het nou wat nodig is, Colette. As jy wil kop uittrek, sal ek jou nie kwalik neem nie. Miskien moet jy vir my verduidelik presies wat gedoen moet word en dan gaan laai ek jou af en ek gaan alleen verder.”

En dan lewer sy ʼn baba wat nog nie drie dae oud is nie uit aan twee onbeholpe mans waarvan een ontoerekeningsvatbaar is?

“Nee.” Sy skud haar kop en klim op die fiets.

Hy bekyk haar ʼn rukkie voor hy weer praat. “Dankie. Ek het vir hom gesê ek bring ʼn verpleegster saam.”

“Wat sê hy toe?”

Hy haal sy skouers op. “Hy was eers woedend. En toe stem hy in. Ek dink die baba kry hom onder. Hy’t nie rekening gehou met die feit dat so ʼn klein dingetjie so vreeslik kan skree nie.”

Daar is ʼn drukking op haar bors van spanning.

“Ons moet gaan,” sê sy.

Maar hy staan na haar en kyk. “Hoekom doen jy dit?” vra hy onverwags.

“Dis wat my pa sou gedoen het.”

Hy knik stadig. “Jy’s reg,” sê hy. En toe vat hy sy valhelm en sit dit op.

One thought on “MAN NA HAAR HART − Magdaleen Walters

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s