ONWAARSKYNLIKE RIDDER – TRUDY REINHARDT

onwaarskynlike ridder_voorblad_high res

Ruark het oënskynlik volle vertroue in haar vliegvernuf, want hy sit met die verkyker voor sy oë die woestynlandskappe onder hulle en bestudeer.

“Dis buitengewoon droog hierlangs vir hierdie tyd van die jaar,” mompel hy terwyl hy sy verspiedingswerk voortsit. “Nêrens ‘n pan met water vir die diere te sien nie. Ek het nou al ‘n hele paar karkasse gesien. Orals draai aasvoëls rond.”

Sy woorde is kwalik uit toe Ilse die swart en wit gevaarte uit die hoek van haar oog direk op die vliegtuig sien afpeil. Sy trek outomaties die stuurstok op om die botsing te probeer vermy, maar die enorme aasvoël tref die enjinskroef met ‘n slag wat die klein vliegtuig laat sidder. Een vibrasie na die ander skud deur die romp wat dit laat voel asof daar enige oomblik stukke metaal in alle rigtings gaan begin vlieg.

“Bird strike,” hoor sy Ruark die woorde uiter wat geen mens ooit in die lug wil hoor nie. Hy klink egter so kalm asof dit nie die aaklige ramp is wat dit inderdaad is nie. Sy rustigheid in die lewensgevaarlike situasie is presies dit wat in elke vlieënier tydens opleiding gedril word. Dis die allerlaaste oomblik om histeries te raak. Ilse hoef nie ‘n oomblik te dink voor sy tot aksie oorgaan en byna onmiddellik op impak die enjin afskakel om verdere skade te probeer verhoed nie. Die vibrasies bedaar dadelik en sy slaag daarin om die vliegtuig op dieselfde hoogte te hou terwyl haar oë rondsoek na ‘n geskikte plek om te probeer land.

“Mik vir daardie droë pan,” hoor sy Ruark sê en sien hoe hy beduie na die presiese kol wat sy pas identifiseer het as die mees geskikte terrein om die vliegtuig op die grond te probeer kry. Hulle begin teen ‘n angswekkende spoed hoogte te verloor, maar Ilse hou die stuurstang gelyk en hulle kantel ten minste nie te veel nie.

Sy is net vaagweg daarvan bewus dat Ruark oor die radio met iemand begin praat. Al haar aandag is egter gevestig op die stuk aarde onder hulle terwyl sy die kanse bereken dat sy genoeg hoogte en spoed kan verloor om nie die harde oppervlak van die pan te mis en ‘n neusduik of erger in die omliggende sand te doen nie.

Genadiglik het die Cessna wiele wat gedurende vlugte uitbly en wat nou die gekraakte droë modder met aansienlik verminderde spoed tref. Ilse meet instinktiewelik die afstand en trek haar asem diep in. As sy hulle betyds tot stilstand gaan kry, gaan dit net-net wees. Die neuswiel is kwalik ‘n meter van die rand van die pan af toe sy dit eers weer waag om haar asem uit te blaas. Hulle het dit gemaak.

Sy sluit haar oë en laat sak haar kop in haar hande. In die onnatuurlike stilte in die kajuit voel sy Ruark sy arm om haar skouers sit. Oomblikke lank uiter nie een van hulle ‘n woord nie en toe begin hulle skielik albei gelyktydig praat.

“Ek kan nie glo . . .” Ilse huil en lag tegelykertyd.

“Jy het dit meesterlik hanteer . . .”

“Ons leef . . .” prewel sy en skud haar kop in ongeloof.

“Ons leef,” bevestig Ruark. “Uit,” beveel hy toe sy steeds bly sit.

Ilse val omtrent by die deur aan haar kant uit in haar haas om nou buite die vliegtuig te kom. Sy stap met bewerige bene ‘n ent weg en gaan sit plat op haar sitvlak op die grond. Sy sien hoe Ruark om die vliegtuig stap en dit ondersoek vir skade voor hy met lang treë in haar rigting aangestap kom. Dit lyk asof hy kilometers ver is en met die hittegolwe wat uit die pan opstyg, is sy nie seker of hy ‘n hersenskim of  werklik is nie. Sy knipper haar oë en probeer fokus, maar op daardie oomblik voel en lyk alles vaag deur die trane wat oor haar wange rol.

Sy voel hoe hy haar orent trek en styf teen hom vasdruk. Sy is nie eens daarvan bewus dat haar arms spontaan om sy rug gly tot sy onder haar vingerpunte voel hoe sy hemp natgesweet aan sy vel kleef nie. Of hy daarvan hou dat sy so na-aan hom is of nie, sy wil net daar bly staan waar sy op hierdie oomblik is. Dit voel veilig en dit voel soos lewe. Lewe.

“Ilse, Ilse,” hoor sy haar naam en besef niemand het dit nog óóit met soveel emosie geuiter nie. Hoe kry hy dit reg om so ontsettend baie te sê deur net haar naam sag uit te spreek? wonder sy verbysterd voor sy mond sag en só teer op hare neerkom dat sy onbewustelik haar lippe onder syne ontsluit en haar oorgee aan ‘n soen wat hulle oorlewing vier.

“Jy is die beste,” sê hy toe hulle uiteindelik tot hulle sinne kom. Ilse voel hy is so traag om haar uit sy arms te laat gaan as wat sy is om daaruit te tree, maar hulle doen dit, want dit is hoe dit hoort. “Vlieëniers soos jy is dun gesaai,” komplimenteer hy opreg.”Jy verdien ‘n medalje vir wat jy vandag gedoen het.” Hulle kyk in mekaar se oë en Ilse besef hy is ewe min ontsteld as sy oor wat pas tussen hule gebeur het. Dit was bloot ‘n soen en niks  meer as ‘n gebaar van gedeelde dankbaarheid nie. Net dit. Sy het ‘n krisis knap hanteer en hulle het ‘n potensiële ramp oorleef.

“Dankie dat jy nie probeer oorneem het nie,” knik sy en verbreek vinnig die oogkontak tussen hulle. “Die versoeking moes groot gewees het. Jy het soveel meer ervaring as ek.”

“Ek het dit nooit eers vir ‘n oomblik oorweeg nie, want toe ek jou dophou, het ek dadelik besef ek is in die hande van ‘n meester. Al het jy lanklaas gevlieg, het jy natuurlike talent en weet wat jy doen.”

“En wat nou?” vra Ilse terwyl sy na die vliegtuig beduie. “Hoe erg is die skade?”

“Die skroeflem is sleg gebuig. Ek het die beheertoring in Gaborone reeds laat weet wat aan die gebeur was en ons koördinate vir hulle gegee. Hulle weet dus waar ons is. Sit jy net hier dan gaan ek hulle laat weet ons het veilig geland en hoor of hulle tot ons redding kan kom. Ek sal sommer ook op ons werkswinkel se radiofrekwensie met Rudolf kontak maak. As Gaborone ons nie kan help nie, sal ons eie mense met die helikopter vir ons onderdele moet bring en kom installeer.”

Ilse kyk hom agterna. Hy laat dit maklik klink, maar sy vermoed dis bloot om haar gerus te stel. Of Gaborone of Rudolf hulle vliegtuig gaan kom herstel, weet sy dit gaan ure neem. Vannag is hierdie woestynwêreld hulle voorland en sy ril by voorbaat aan die gedagte van slange en ongediertes.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s