Irma Joubert gesels

Wie is Irma Joubert as sy van haar skrywerstoel af opstaan?

Irma Joubert Nuut(1) Mei 2013

Eerstens is ek ouma wat dit vreeslik baie geniet om ’n ouma te wees. Ek is ook ’n ma wat lekker saam met my kinders en skoonkinders kuier en soms seker bietjie veeleisend kan wees. Maar dan weer: ek het mos veertig jaar gelede tweeuur in die nag opgestaan vir hulle behoeftes? So nou is dit mos hulle beurt. Ek is vrou vir my wonderlike eggenoot van die afgelope 45 jaar, ons drink soggens voor die son sy kop uitsteek ons eerste koppie koffie en gaan slaap saans saam met die hoenders (die vroeë hoenders). Ek is pensioenaris wat die vryheid van pensioenaris-wees uitleef. Saam met ons vriende reis Jan en ek die wêreld vol, veral die boendoes in. En soms, net soms, word ek skrywer wat gaan sit en stories neerskryf.

 Wat het Immer Wes geïnspireer?

Immer wes (Voorblad)

Enkele jare gelede het Rod Gribnitz sy ma se storie vir my vertel. Immer wes is sekerlik nie meer Rod se ma se storie nie, maar die fantasie rondom die Riddersorde (Teutanic Knights) en Köningsberg van die ou Oos-Pruise en dan die realiteite van die wêreldoorloë wat sy ma beleef het, het my aangegryp.

 Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek, en hoekom?

Die storie het maklik in my kop kom woon, ek het die hoofkarakters gou leer ken en die navorsing was soos altyd heerlik. Maar in die tyd het die lewe maar sy loop geneem met te veel hoogte- en laagtepunte vir een jaar. Dit was moeilik om tussen alles deur op my werk te konsentreer.

 Hoe verskil Immer Wes van jou vorige boek, Tolbos?

Die twee boeke verskil totaal. Tolbos speel af in die jare 1976 – 1989 in Suid-Afrika en in Pole en het as agtergrond die verbrokkeling van Apartheid en Kommunisme.

Immer wes is die begin van ’n nuwe trilogie, die “Oorlogstrilogie”. Die verhaal begin in Rusland in 1905 en beweeg deur Duitsland en die huidige Namibië (eers Deutcsh-Südwestafrika en later Suidwes-Afrika).  Die Namibiese geskiedenis tot 1947, die twee wêreldoorloë, Berlyn in die 1920’s en die opkoms van Hitler vorm die historiese agtergrond.

 Waar is die vreemdste plek waar jou al ooit geskryf het?

Ek het al soveel keer in die boendoes geskryf. Maar ek dink die vreemdste plek was seker die grot aan die bopunt van De Beerspas, met die waterval wat een muur van die grot vorm. Idillies mooi en romanties op papier. Die realiteit: Ongelyke vloer en as die wind van die verkeerde kant af druk, effe nat. Maar nouja, selfs al druk die sperdatums, klim ek in as die wiele draai.

 Wat was die hoogtepunt in jou skrywersloopbaan so ver?

Ek weet sowaar nie. Die week van die Afrikaanse Roman in Nederland saam met skrywers soos Etienne van Heerden en Marita van der Vyver? Die TuksAlumni-Laureaat toekenning waarmee die Universiteit van Pretoria my vereer het? Die feit dat die internasionale uitgewer HarperCollins nou my boeke in Amerika uitgee? Tog nie. Ek dink die hoogtepunt was toe ek my eerste boekie, Vonkpos vir die hart, in my hande hou en besef: LAPA het van ’n lugkasteel ’n fondament gemaak waarop ek kan voortbou.

 Wat is die beste raad wat jy kan gee aan voornemende skrywers?

Lees, lees, LEES, veral in die genre waarin jy wil skryf. Woon skryfskole by, hoe meer, hoe beter. Doen wat vir jou geleer word, nie wat jyself dink is reg nie. Aanvaar dat uitgewers beter weet as jou vriende, familie, selfs as jou ma. Aanvaar dat dit harde werk is om te skryf. Aanvaar dat jy nooit sal weet of jy kan as jy nie probeer nie. En gaan sit dan en skryf.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s