Byvoordele gewaarborg – Elsa Winckler

byvoordele gewaarborg_voorblad_high res

Net na die volgende draai, sien sy iets op die teerpad voor haar en met ’n vinnige kyk in haar tru-spieëltjie, trap sy rem en trek af op die skouer van die pad.

Sy maak haar venster oop en kyk weer in die pad om seker maak sy het werklik iets gesien. Jip, dis sowaar ’n skilpad wat al sukkelende besig is om oor die pad te stap.

Die gedreun van ’n motor kom vinnig nader, maar sonder om weer na die verkeer te kyk, klim sy uit haar motor en draf vinnig tot in die middel van die pad waar die stomme dingetjie sy bes doen om met sy kort beentjies aan die ander kant van die pad te kom.

Gelukkig het sy vanoggend ’n wye rompie en plat skoene aan en kan sy vinnig beweeg. Die bestuurder van die aankomende motor sal darem seker sien wat aan die gang is en stadiger ry.

“Wat op aarde is aan die ander kant van die pad?” kloek sy terwyl sy die skilpad optel.

Die volgende oomblik laat skreuende bande en ’n harde, lang toet haar verskrik opkyk. ’n Plat, rooi sportsmotor kom reg teenaan haar tot stilstand. Agter die wiel, sy hande in die lug gegooi, sit ’n briesende man.

Voordat sy haar mond kan oopmaak, is sy deur oop en pyl hy met lang treë op haar af.

Hy kom reg voor haar tot stilstand. Sy oë gly oor haar en sy mond gaan oop. Maar hy sluk net wind, geen geluid kom uit nie.

Absoluut betower deur die onmoontlike aantreklike man voor haar, kan Lichen net na hom staar, die skilpad in haar hand heeltemal vergete. Sjoe. Lang, donkerbruin hare krul laag in sy nek, die blou van sy oë laat haar aan ’n potvol pers Feliciatjies dink. ’n Spierwit t-hemp pas styf oor ’n gespierde bolyf. Seker ’n six-pack waarop ’n mens kaas of iets kan rasper.

“Is jy heeltemal van jou sinne beroof of is jy bef…?” bulder hy die volgende oomblik en sy ruk behoorlik soos sy skrik.

Hy sluk die laaste woord in, maar dis nie moeilik om agter te kom die man praat lelik as hy kwaad is nie. En kwaad is hy beslis. Sy neusvleuels is wit, sy mond styf opmekaar gedruk, die einste blou oë wat sy so flussies bewonder het, flits verwoed. En sy kan sweer tot sy stoppelbaard bewe.

Wreed weggeruk uit haar waas van betowering, lig Lichen haar ken. Die man is miskien aantreklik, maar hy is ook bitter ongeskik.

“My sinne is nog net waar hulle was, dankie. Dis jy wat soos ’n besetene jaag. As jy opgelet het, sou jy die padteken ’n ent terug gesien het wat jou waarsku dat skilpaaie oor die pad beweeg. As ek hom nie opgetel het nie, het jy bo-oor hom gejaag en sou dit nie eens agtergekom het nie.”

En met ’n klik van haar tong, draai sy haar rug op die man en stap vinnig tot aan die anderkant van die pad waar sy buk om die skilpad neer te sit.

Haar asem jaag asof sy ver gehardloop het, haar hande is bewerig en haar hart wil-wil uit haar borskas spring. Sjoe, sy het nie besef sy het so groot geskrik nie. Simpel vent.

Sy staan op en kyk die skilpad agterna waar hy dadelik vorentoe beur en onder die naaste plantegroei verdwyn. Daar is ’n geraas in haar ore wat alle ander geluide uitsny. Hopelik het die vent intussen padgegee.

Toe haar asemhaling uiteindelik tot normaal terugkeer, draai sy om na die pad se kant toe, vas in ’n breë borskas. Groot hande sluit om haar boarms en haar asem raak weg.

“Ek kan nie glo jy doen so iets stupids nie – ek kon jou raakgery het! En dit agter ’n bleddie skilpad aan!” roep hy uit.

Gebelgd, ruk Lichen haarself los uit die man se hande. “Ek kan weer nie glo jy jaag so op hierdie pad nie. Dis ’n dorpsgebied, maar dit het jy seker ook nie raakgesien nie, né?” En sonder om na hom te kyk, storm sy terug oor die pad na haar motor toe.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s