MASKERS – Cynthia Roberston

maskers high res

“Maddie se pa? Het jy nog kontak met hom?”

“Nee. Hy het wel onderhoud betaal nadat hy begin werk het, maar hy het nou sy eie gesin. Maddie het geen begeerte om ʼn verhouding met hom te hê nie, snaaks genoeg. Ek dink hy was verlig.”

Vir ʼn ruk is Daniël stil terwyl sy oë haar gesig ondersoek. “Jy het die eerbare ding gedoen, en jou kind self groot gemaak, nie laat aanneem of vir ʼn aborsie gegaan nie.  Die swangerskap het nie van jou ʼn slegte meisie gemaak nie, Julia.”

“Touché, Meneer de Villiers. Net so min as wat die feit dat jou pa ʼn alkoholis en ʼn vroueslaner was, van jou minder mens maak,” kap sy tee. “Sjoe, hierdie wyn begin my vang.”

“Alkoholisme mag dalk in my gene wees. Maar jy kan nie die res van jou lewe afbetaal aan een aand van onbesonnenheid nie.”

“Nie?” Haar wenkbrou lig. “Ná skool het dit aan die lig gekom dat die helfte van die matriekseuns blykbaar by my geslaap het. Dit het seergemaak.” Die vernedering van agtien jaar gelede styg weer in haar op, en sy voel hoe die trane agter haar oë prikkel. Sy gooi die laaste wyn in haar keel af.

In die halwe lig lyk dit of sy oë gloei, asof hy nog iets wil sê, maar dan trek hy haar teen hom aan. Woordeloos sit hulle daar, en Julia besef hartseer dat sy net soveel van ʼn afvlerkie is as hy. Sy arms om haar is vertroostend, en dan soen hy haar, saggies, net onder haar oor.

ʼn Gevoel van déjà vu oorval haar, en dan onthou sy haar droom, en Julia besef met ontstellende klarigheid dat sy baie, baie van Daniël hou. Die gedagte maak haar duiselig – of miskien is dit die wyn? Vir ʼn oomblik sit sy doodstil, en dan draai sy haar kop, net effens, en sy lippe vind hare. Sy lippe is ferm, en warm, en iets heerlik dop om in haar maag. ʼn Waarskuwende rooi lig flonker ver weg in haar kop, maar sy ignoreer dit.

Uiteindelik trek sy terug uit sy omhelsing, en kyk na hom in die maanlig. Hy lyk skielik vir haar vreemd, amper gevaarlik, maar dan onthou sy die Moses-baard en bars uit van die lag. “Jou baard! Hoekom het jy dit afgeskeer? Die regte rede hierdie keer.”

“Dit was tyd,” glimlag hy. “Ek het lank genoeg daaragter weggekruip. Buitendien, ek was bang jy wil nie ʼn ou soen met so ʼn groot baard nie.”

“Hmmm, jy het ʼn punt beet,” sê sy, en vind haar tong sleep. Miskien is dit hoekom die soen vir haar so lekker was, dink sy beneweld. “Dit lyk mooi. En ek ish – is – bly dis weg. Lizette sê haar man se snor ruik soos skaaptjops as hulle gebraai het …” Sy giggel, want selfs vir haar eie ore kan sy hoor dat haar spraak aangetas is. “Maar terwyl ons nou praat,” sê sy, “’Skuus, die wyn het nou ingeskop, en ek drink nie eintlik baie nie … Waar was ek? O ja! Met Bacchus se brutale eerlikheid, jou hare kort ʼn goeie sny. Dis eintlik mooi hare, hoor. Jy lyk soos ʼn leeu, maar jy kort ʼn knippie. Haarknippie, bedoel ek. Ag, jy weet wat ek bedoel. Jy weet altyd wat ek bedoel. Vir ʼn ou met so baie geld, dosh, dineiro, het jy ʼn swak haarkapster gehad. Môre gaan ek en jy ʼn goeie haarkapster soek.”

“O. Gaan jy dan nie meer om hanekraai ry nie, Chifoepie? Hier is ʼn bietjie poeding vir jou, sommer roomys met sjokolade sous. Kry ʼn bietjie suiker in jou lyf.”

Sy rol haar oë asof hy baie dom is, en neem die poeding uit sy hande. “Hier is mos nie ʼn haan om my wakker te maak nie, hoe dink jy gaan ek so vroeg wakker word?”

Hy skud, en sy weet hy lag, maar sy gee regtig nie om nie. “Sarita se haarkapper is goed, maar ek wil nie soontoe nie.”

“Ek kannit verstaan,” sê sy en fluister asof sy ʼn groot geheim wil oordra. “Ons soek ʼn ander een!” besluit sy triomfantelik, en stort daarmee saam die hele bak roomys oor haar uit. “Nee wat, ek gaan nie vroeg ry nie, ek kuier te lekker. In fact, ek kan net sowel vanaand in jou designerpedic bed slaap, want ek kom nie weer terug hiernatoe nie. Jy weet dat ek nie terugkom nie né?” terwyl sy praat kyk sy af na die roomys en sjokoladesous wat haar bors en arms bedek, en wonder waar hoe dit daar gekom het.

Hy staan op, trek haar in die sirkel van sy arms in en soen haar langs haar mond.

“Ek sal jou baie graag na my designerpedic toe vat en jou myne maak, maar ek gaan nie, want jy het te veel wyn in, ek moes gekeer het dat jy nie te veel drink nie. Môre sal jy spyt wees, en my vir ewig haat, en dis nie ʼn kans wat ek kan vat nie. Ek gaan vir jou ʼn lekker warm bad in tap, en dan gaan jy slaap. Goed so?” Hy laat haar weer sit, en dit voel onverklaarbaar koud en leeg waar haar liggaam teen hom gedruk het. ʼn Eeu later kom Daniël terug en vergesel haar na haar kamer toe. Getrou aan sy woord het hy badwater vol geurige skuim ingetap. ʼn Groot wit handdoek en japon is op ʼn stoel reg langs die bad neergesit.

“Daar is ʼn reling vir jou om aan vas te hou as jy inklim, Julia, moenie gly nie, hoor jy. Ek gaan hier in jou kamer sit, roep my as jy my nodig het.”

So versigtig as wat sy kan, in haar benewelde toestand, trek sy haar taai klere uit en klim by die enorme bad warm water in. Dis hemels, dink sy, en lê met haar kop terug. Absoluut hemels.

Julia word ʼn paar uur later wakker met ʼn kloppende hoofpyn en ʼn kurkdroë mond. Versigtig sit sy regop, en tuur na die wekker op die bedkassie.

“Nege dertig!” kreun sy hardop. “Ek moes dagbreek al weg gewees het!” Beelde en herinneringe van die vorige aand kom stelselmatig terug, en sy besef met afgryse dat sy besope was. Sy kreun weer, selfkastydend, wat moet Daniël van haar dink? Sy het regtig soos ʼn kras plaasjapie opgetree, haar mond wat oophang oor sy paleis van ʼn huis, en toe heeltemal beskonke geraak op sy goeie wyn. Wat het haar besiel? ʼn Vae prentjie van haarself in die groot, mooi bad sweef terug, en iemand wat haar uithelp … Daniël! Het hy …? Die gedagte is te erg om aan te dink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s