Dierbare diktator – Serena Steyn

dierbare diktator high res

“Dis darem iets.” Gunther sug gemaak-swaar en glimlag dan. “Dankie, Keara.” Sy trek nie weg toe hy vorentoe leun en haar wang soen nie. “Kom,” hy gryp haar hand, “daar’s nou ’n gaping.” Hy hou haar hand vas toe hulle voor aanstormende verkeer oor die pad draf.

Dioge staan hulle en inwag. Sy gesig is stroef. “Kan ek jou in my kantoor sien, asseblief?” sê hy vir Keara voor hy omdraai en terug Vegies Galore toe stap.

Sy kyk hom fronsend agterna.

“Welkom in die familie.” Gunther gee haar ‘n troosdrukkie. “Ek beter gaan werk. Ek sal jou môre kom sien oor die toere.”

“Ek moet dit nog met Dioge uitklaar. Ek bel jou nadat ek met hom gepraat het.”

Sy stap eers na Valleisig se depot toe om haar hare met ’n rekkie netjies te maak en lipstiffie aan te sit voor sy na Dioge se kantoor toe gaan. Hy staan by die venster en afkyk na die bedrywighede in die winkel toe sy binnekom. Die kantoor is kleiner as die een by Thembeka Mall, maar soortgelyk in ontwerp.

Hy draai fronsend om na haar toe. Sy hare is deurmekaar, asof hy sy hand daardeur getrek het. Hy lyk befoeterd en Keara staal haarself.

“Ek sal dit waardeer,” sê hy snydend, “as jy nie Amanda se kop met nog meer nonsens volprop nie. Dis tyd vir haar om nugter te begin dink en aarde toe te kom.” Hy lig sy hand toe sy wil antwoord. “Laat my net klaar praat, asseblief. Ek het nie gedink dit sal nodig wees om daaroor te praat nie, maar ek is nie beïndruk dat my verloofde openlik met my losloperbroer flankeer en soene uitdeel nie. Hanteer asseblief jou status in die toekoms met meer verantwoordelikheid.”

Keara moet ergerlike woorde terugbyt en kyk hom net aan. Die stilte tussen hulle rek.

“Wel?” Dioge maak ‘n gebaar van irritasie. “Wat wou jy gesê het?”

Keara maak ‘n buiginkie. “Ek wag, o heer en meester, op u toestemming om my kant van die saak te stel.”

Hy pers sy lippe saam.

Keara stap tot waar hy by die venster staan en kyk hom waterpas in die oë. “Is dit nie wyser om Amanda die kans te gee om haar passie uit te leef en dit uit haar gestel te kry nie? Miskien sal sy daarna koers kry. Ricky het haar ingesluit by sy beginnersklas om haar meer tuis te laat voel. Ek dink sy het werklik talent, en hy dink ook so.”

“Die onderwerp is afgehandel.” Dioge se oë lyk soos skemer oor ‘n ysveld.

“Goed.” Keara trek haar skouers terug. “Ek het saam met Gunther gestap omdat ek ‘n werksaanbod aan hom wou maak.”

Daar is ‘n gefluit van onder af en Gunther stap onder hulle verby met ‘n trollie vol koeldrankbottels op pad yskaste toe. Hy wys sy duim na bo en grinnik. Die gebaar verbeter nie Dioge se bui nie en Keara verwens Gunther se voortvarendheid.

Dioge luister fronsend toe sy van die toere vertel. “Dis ‘n slim plan om hom uit Petro se winkel te hou, maar dink jy nie jy vat dinge bietjie ver nie? Wil jy hom so graag op Valleisig hê?”

Keara maak haar mond oop om te protesteer en dan weer toe. “Jou opmerking is nie ’n antwoord werd nie,” sê sy uiteindelik. “My voorstel kan twee sake gelykertyd oplos. Ons kan Gunther uit Petro se hare kry en ekstra inkomste met die toere maak. Gunther het die geaardheid om so iets te laat slaag.” Sy kyk spekulerend na hom. “Hoe het jy geweet van Petro se probleem?”

“Ek het oë.”

Agter hom sien sy Gunther weer waai.

“Ek het nie ingegryp nie,” gaan Dioge voort, “omdat jy van Woensdag af pal by die bouery sal wees en die druk op Petro sou verlig het.” Hy trek sy skouers op. “Gaan voort met die toere-plan as jy kans sien. Ons kan dit kanselleer as dit nie uitwerk nie. Net nog een ding.” Hy trek haar in een beweging teen hom aan. “Onthou net dat jy, al is dit net in naam, myne is. Gunther hou daarvan om my te tart.”

Keara probeer tevergeefs wegtrek. “Ek is nie ‘n besitting nie.” Sy byt die woorde in ’n lae stemtoon uit. “Los my, Dioge!”

“Wanneer ek gereed is.” Hy leun vorentoe en soen haar tydsaam.

Die aanraking van die ferm mond op hare laat ‘n vuur deur Keara spoed. Sy skryf dit toe aan woede. Toe hy haar laat gaan, kyk sy ontsteld na hom, haar hande in vuiste gebal.

“Dit is gedoen, sodat mense, en veral Gunther, kan sien. Waag dit ooit weer, Dioge Kyprianis, om my teen my wil te soen. Ek klap jou mooi gesig waar mense dit kan sien.” Sy swaai weg van hom af. “Lyk my ek sal ‘n ‘bly binne perke’ klousule by ons kontrak moet laat insluit.” Sy klap die deur agter haar toe en storm die trappe af.

Op pad terug depot toe haal sy ’n paar keer diep asem. Petro sê niks toe sy haar handsak en die voorlegginglêer gryp en met ‘n handgebaar groet nie.

“Dankie,” sê sy toe Keara uitstap. “Ek waardeer jou hulp.”

Keara forseer haarself om rustig terug te bestuur Valleisig toe. Emosies kolk in haar. Sy mond was ferm, maar sonder emosie. Soos die tjap van ‘n stempel. Tog kan sy elke oomblik onthou; die geur van sy vel, sy naskeerroom, en die hitte van die sterk hande op haar arms. Sy liggaam was sterk en hard teen hare.

By die rondawel gaan stap sy eers ’n ent. Toe sy by Ilse se huis verby terugstap, wink sy haar nader. “Hulle het iets vir jou hier by my afgelewer, die rondawel was gesluit.”

Keara vat die bos rooi rose en stap rustiger terug rondawel toe. Daar is geen kaartjie by nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s