Bruid in die Amasone – Roudéne le Roux

bruid in die amasone high res

Nottendêm gaan hy die twee tortelduifies die kans gee om koer-koer die Amasone in te vaar nie. Jaco kan bly net waar hy is en sy verloofde gelukkig hou. Die engele het aan hom wat Meyer is, ʼn gelukspakkie by die ongeluk uitgedeel, en gaan hy dit nie geniet om ʼn speek in hierdie twee se voortrollende wiel te steek nie! Hy fluit vrolik op pad na sy woonstel toe en pak in ’n rekordtyd.

Terug by die lughawe moet hy egter so baie reëlings tref dat hy die vlug net-net haal. Gelukkig dat Jaco sy baadjie vir hom kon leen, want hy het syne in die woonstel vergeet.

Janet, wat die vlugkelner op die buitelandse vlug is, wys Nicky gou-gou rond voordat sy die vluginligting moet deurgee.

Toe Nicky weer by haar sitplek kom, sien sy verlig dat Jaco daar is. Sy sak met ʼn breë glimlag langs hom neer en begin haar vasgordel. Die Meyer-ou jaag haar hart op ʼn galop as hy binne ’n radius van vyftig meter van haar af is. Al haar radarstelsels gaan oor na gevaarmodus en rooi gevaarliggies flikker. Die man is moeilikheid met hoofletters. As hy op haar moet inzoem …

“Jissie, Jac, dit voel asof ek met vakansie gaan en dit nogal net ons tweetjies. ʼn Ideale tyd om bande te smee. Dis mos nou wat ek die lewe noem.”

Sy kyk opgewonde na hom en verstar. Haar mond val oop en haar oë rek. Meyer kyk kil-veragtend na haar, ʼn stroewe, stywe trekkie om sy lippe.

“Jy kan dalk dink dat jy net jou wimpertjies hoef te fladder en te flankeer om jou sin te kry, maar sorg dat jy dit na ure doen,” kners hy dit uit.

“Wat?”

Nicky se wind is uit haar seile geskok. Dis al erg genoeg dat dit Meyer is en nie Jaco nie, maar van waar die minagting? Sy sluk swaar en kyk weg. Ag, vadertjie tog.

Daar heers ʼn ongemaklike stilte en sy stuur hom later kortpad in sy maai. Laat hy dink nét wat hy wil.

“Kyk, Kaptein, jy het duidelik ʼn totaal verkeerde opinie van my, maar behalwe as jy my hier uitgooi, gaan ek vir die volgende paar dae in die Amasone ongelukkig soos klitsgras aan jou moet klou. Nou nie letterlik nie, natuurlik,” voeg sy vies by toe Meyer se wenkbrou sinies lig.

“Ek weet dit skep ʼn swak indruk dat ʼn dame …” Sy stop summier toe sy die geligte wenkbrou gewaar. Toe vat sy vlam, opeens woedend dat hy kan dink dat sy sommer ʼn hierjy is.

“Kaptein, jy ken my nie. Leer my asseblief ken voordat jy ʼn opinie van my vorm,” kry sy dit kil uit.

Die weerlig in die vroumens se grysgroen oë kan ʼn hele Knysna-plantasie afbrand, dink Meyer smalend. Hy wonder hoekom sy haar so opwerk. Seker ʼn skuldige gewete.

“Kan nie sê dat ek beïndruk is met wat ek tot dusver gesien het nie,” kom dit droog van hom. “Maar jy’s reg. Dalk is ek bevooroordeeld.”

Dalk se voet. Die man se oë spreek boekdele. Dis miskien beter so, Nicky. Sy het ʼn gevoel dat sy soos klei in sy groot hande gaan wees as sy vooroordele die pad vat en hy besluit dat sy tog ʼn oulike speeldingetjie sal wees om die lang tropiese nagte mee om te kry. When hell freezes over, dink sy vies, vasbeslote om haar hittegloede en rubberknieë onder beheer te kry. ’n Mens sal sweer sy is nie aantreklike mans gewoond nie.

“So, wat beteken Jaco vir jou?” vra Meyer skielik uit die bloute, en dit voel of hy sy tong kan afbyt. Vervlaks! Waar het daai een vandaan gekom? Nou gaan sy dink hy stel belang in haar.

“Huh?”

“Ek vra …”

“Ek het gehoor.” Nicky staar verbysterd na hom. Hoe kan die man dan nie weet nie? Het Jaco hom nie gesê nie? Nee, hy sou nie, want sy het hom gevra om stil te bly. Sy wou nie agterna stories hoor van nepotisme nie. Dan sou hy natuurlik ook moes verduidelik waarom sy ʼn ander van het. En dáárdie een is ʼn regte turksvy.

“Hoekom wil jy weet?”

“Julle lyk, wel, of julle mekaar al lankal ken.”

“Vanselfsprekend.”

“Wat is so vanselfsprekend daaromtrent?”

“Ons het saam grootgeword.”

“Ek sien.”

Maar Meyer sien glad nie. Dit vertel hom nog steeds boggherol van hulle verhouding. Hoe de duiwel moet hy die inligting verder uit haar trek sonder om te klink of hy belangstel?

Hoekom wil hy weet van Jaco van alle mense, wonder Nicky? Dan tref dit haar soos ʼn weerligstraal. Die man verkeer sweerlik onder die indruk dat sy en Jaco minnaars is. So, dís waar al die koue minagtende blikke vandaan kom. Wel-wel, dit kan nogal handig te pas kom. Solank hy so ʼn vrot opinie van haar het, sal hy nie met ʼn tang aan haar wil raak nie.

Opeens vererg sy haar. Hemel, hy behoort Jaco mos beter as dit te ken. Maar as dít die manier is waarop sy brein funksioneer, gaan sy hom nou nie teleurstel nie.

“Hy’s my, wel, hoe sal ek dit mooi stel?” Nicky begin die situasie nou gate uit geniet. “Hy’s alles wat ek nog ooit bewonder het, my beskermling, my beste vriend, my …”

Sy sien hoe sy vuis bal en ʼn aartjie hewig teen sy slaap pols terwyl hy stip voor hom staar.

“Minnaar? Is dit die woord wat jy soek?” sis hy.

“Minnaar? Ek dink jy raak nou erg persoonlik. Dink jy nie ook so nie, Kaptein?” vra sy afgemete.

Nee wat, met hierdie toneelspel kan hulle Charlize Theron se Oscar maar aan haar toeken, dink sy

“Jammer.” ʼn Donker blos stoot in sy nek op en Nicky voel die lagduiweltjies in haar rondkriewel.

“En toe speel Jaco se skelmpie nog wraggies snoeker ook! En kan sy nie speel nie!” spot sy fyn om die sombere atmosfeer wat hulle nou omhul te verwyder.

Meyer glimlag skeef.

“Dit het my nogal duur te staan gekom.”

Verdomp, dink Meyer, hy het mos besluit om haar op hom verlief te maak, en hy is besig om alles op te foeter. Só gaan hy Rika beslis nie help nie. Nicky is definitief meer vergewensgesind as hy. As hy in haar skoene was, sou hy nou al ʼn gasket geblaas en hom na sy peetjie gestuur het. Al is sy skuldig, was hy onbeskof. Hy beter sy strategie verander en ophou om so aanvallend te wees. Draai liewer die sjarmekraantjies oop, Du Pisané.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s