Vriende met Voordele – Cecilia Nortjé

vriende met voordele high res

“Ma-a! Magnus is hier. En sy pa.”

Vasti verstar. Sy het aangeneem Magnus sal met sy motorfiets kom. Voor sy haar kaal voete van die bank af kan swaai of die bierbottel kan neersit, verskyn Liela op die stoep, gevolg deur die twee Roodts. Sy sien hoe die man in die swart aandpak alles in een oogopslag opsom: haar blougeverfde toonnaels op die laslappie-kombers wat sy oor die bank gooi vir die rondloperkat wat soms hier kom nesskop, die twee leë bierbottels op die tafel en Willem se harige bene in die oliebesmeerde rugbybroek. ‘n Beskaafde krakie verskyn tussen sy netjiese donker wenkbroue. In ‘n salon gevorm, sy sweer. Soos die res van sy gestrykte voorkoms. Onmiddellik kry sy ‘n gly in hom.

Moedswillig vat sy nog ‘n sluk bier voor sy tydsaam opstaan, haar hand aan haar kortbroek se sitvlak afvee en dit na Tertius uithou.

“Vasti Pienaar.” Vermakerig sien sy hoe sy oë ‘n oomblik op haar borste in die stywe T-hempie vashaak voor hy haar hand vat. Ook maar man, al is hy Blink Stefaans.

“Tertius Roodt. Aangename kennis.”

Sy het lanklaas so ‘n onoortuigende ‘aangename kennis’ gehoor. Met geligte wenkbroue kyk Tertius na Willem wat opgestaan het en afwagtend na hom kyk.

“Dis my vriend, Willem Marais.”

“Naand, ou maat.” Willem groet met sy gewone jovialiteit.

“Naand, Oom, Tannie,” kry Magnus ‘n groet in.

“Hallo Magnus. Ek dog jy kom met jou motorfiets.”

Hy skud sy kop. “My pa wou my kom aflaai.”

Om die vriendin se ouerhuis goed te keur? wonder Vasti katterig, al is dit presies wat sy sou doen.

“Wil jy sit?” vra sy teësinnig vir Tertius. Voeg dan moedswillig by: “Ek kan vir jou ‘n koue bier aanbied.”

Hy kyk na die bont banke asof hy vermoed ‘n boemelaar kampeer snags daarop.

“Nee, dankie, ek is op pad na ‘n afspraak.”

Vasti wys met haar hand na die deur. “O, nou kom, ek stap saam met jou.” Geen rede om die wedersydse marteling uit te rek nie.

Hierdie keer brand sy oë vlugtig oor haar bene voor hy met ‘n kopknik in Willem se rigting omdraai en met lang treë in die gang afstap. Vasti volg, haar oë teen wil en dank op sy breë skouers in die onberispelike aandpak. Tertius Roodt is ‘n indrukwekkende man, maar dit weet sy lankal. Sy gesig pryk immers op elke advertensiebord voor sy blinknuwe glas en chroom geboue. Net sy gesig, ‘n selfoonnommer en twee woorde daarby: Tertius Argitekte. Asof hy nie ‘n van nodig het om geloofwaardigheid aan die projekte te verleen nie. Maar sy is geensins beïndruk nie; sy het ‘n ewige renons in sulke perfekte mense.

Hy dink seker hulle is damduikers. Wel, dit pas haar uitstekend. Hopelik verbied hy sy seun om weer sy voete in hierdie nes te sit. By die voordeur steek hy ‘n oomblik vas om die versameling geraamde foto’s teen die muur te beskou. Weer die fronsie sonder enige kommentaar.

Vasti is nie daaraan gewoond nie. Gewoonlik het mense baie te sê oor die stadstonele. Dis nie gewone foto’s nie; dis kunswerke. Sy het selfs ‘n prys daarvoor gewen. Sy ruk die deur amper met geweld oop.

Tertius draai om. “Ek kom jou na die opera haal,” sê hy verby haar skouer. Vasti kyk om. Nou eers besef sy Magnus en Liela het agterna gekom.

Magnus lig sy hand in ‘n groet. “Geniet dit, Pa.”

Tertius kyk vlugtig na Vasti en Liela voor hy sê: “Jy ook.” Asof hy dink dis hoogs onwaarskynlik.

‘n Klein, ongemaklike stilte vul die portaal toe die deur agter hom toeklik. Dan vra Vasti vrolik: “Is julle honger?”

“Altyd, tannie,” antwoord Magnus dadelik.

Liela sê niks, kyk haar net verwytend aan. Vasti hou haar blind.

One thought on “Vriende met Voordele – Cecilia Nortjé

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s