Onbereikbaar ver – Anna Penzhorn

onbereikbaar ver_high res

Dawid sien die vrou voor hom vir die eerste keer in sy lewe – of so voel dit. Het hy nie elke uur van elke dag van die jare wat hulle geskei was in die bruin van haar oë verstrik geraak nie? Dit lyk of sy so min soos hy weet wat om te sê, maar hy kom eerste by sy sinne.

“Jy het Soekwater toe gekom.” Sy stem is swaar van verbasing.

Haar hand pas die duur van’n oogknip in syne en hy kyk vinnig om hom rond. Genadiglik is hier geen ander pasiënte in die wagkamer nie.

“Ek is op pad Polokwane toe, maar Neeltjie het my omgepraat om laas nag op Lekkerbreek te slaap.” Sy klink kortasem en daar is ’n ligte blos op haar wange.

Die wagkamer ruik na inspuitings, ou tydskrifte en plastieklelies. Daar is ’n Gideonsbybel op ’n koffietafel en ’n lorrie dreun in die straat verby. Tot twee minute gelede was dit ’n doodgewone Vrydagmôre, maar nou span daar fyn drade tussen hom en ’n bekende vreemdeling.

“Jy lyk goed, Daleen.” Daar is geen rede om te fluister nie, die ontvangsdame het ook na êrens verdwyn.

“Jy lyk ook goed.”

Hy streel oor sy ken. Van ’n oomblik soos hierdie het hy gedroom, maar die werklikheid is verlammend anders. Hy kan nie ophou kyk na haar slanke nek, gepunte ken en blonde hare wat van haar gesig weggekam is nie.

“Hoe gaan dit met Kyla?”

“Die dokter sê sy gaan nie gou uit die hospitaal kom nie.” Haar vingers vou styf om die band van haar handsak.

“Jy het Kyla altyd beskerm. Ek onthou …” Hy waai sy hand deur die lug asof hy sy woorde wil uitwis. “Laat ek nie daarmee begin nie. Daar is te veel om te onthou.”

Sekondes hou hulle oë mekaar vas en hy weet die geheim lê in die manier waarop sy na hom kyk. Daar is ’n lig in haar oë wat hy ken en terselfdertyd herken, ’n lig wat hom aan homself laat dink. Dis hierdie eendersheid gekombineer met die vreemde vonk van weersiens wat elektrisiteit in die atmosfeer vrylaat. Vergete intimiteit bind hulle saam sodat hy nie weet wat om volgende te doen of te sê nie.

“Wat maak jy so vroeg in die dorp?” kom sy tot sy redding. Haar kop sal nog steeds aan sy skouer raak as sy nader aan hom staan en haar mond is nog net so sensueel soos toe sy in graad tien was.

“Ek het die werksmense se kinders skool toe gebring. En sommer ook ’n voorskrif vir een van hulle by die dokter kom haal.” Hy kyk verby haar na die toonbank en versit van die een na die ander voet. “Jy is nie vir my kwaad nie, ek het al die jare gewonder. Ons het beloftes gemaak.”

“Maar ons ouers het die besluite geneem.” Sy draai weg sodat hy haar stemming slegs van haar stemtoon kan aflei. “Wat sou dit gehelp het om kwaad te wees?”

“Jammer. Dis nie die plek of tyd om die verlede op te diep nie.”

Hy kyk haar agterna toe sy uitstap. Haar heupe is voller, maar haar rug reguit soos toe sy met ’n beker op die podium gestaan het. Hy is bly om haar te sien, maar bang vir die ding in hom wat hy gedink het nie meer bestaan nie en waaroor hy geen beheer het nie. Hierdie is nie meer sy Maggie nie, maar ’n baie, baie mooi vrou.

Hy loop na die Land Rover en dink daaraan dat sy verloofde ook mooi is. Die verskil is Daleen se glimlag is warm en spontaan. Of dalk is dit die natuurlike grasie waarmee sy beweeg. Hy weet nie presies wat haar anders maak as enige ander vrou wat hy al ooit gesien het nie.

Hy kyk hoe sy in ’n kleinerige, nuwe model kar klim. Haar houding spreek van selfvertroue wat, as hy moet raai, gepaard gaan met ’n suksesvolle loopbaan. Haar lang hare blink in die son en is ’n donkerder skakering blond as wat hy kan onthou. Ná haar en voor hy Delia ontmoet het, was daar ander meisies waarmee hy oppervlakkige verhoudings gehad het en wat hom gou verveel het.

Met sy hande op die stuurwiel, kry hy dieselfde gevoel as die aand toe hy haar gebel het. Toe het elke nuanse in haar stem hom aan ’n gelukkige en sorgvrye tyd in sy lewe laat dink. En nou is dit asof hy gewag het tot die oomblik toe hy haar sien om te besef hy is – selfs wanneer dit goed gaan met hom en Delia  – altyd alleen. Vandag het hy hom in Daleen se oë gespieël en geweet hy was nog nooit weer op dieselfde manier op iemand anders verlief nie.

Die lewe staan nie stil omdat hy sy eerste liefde weer gesien het nie. Die ontmoeting behoort hom nie so te raak nie.

Hy waai vir haar toe hy by die kar verbyry, maar kyk nie of sy terugwaai nie. Hy sal haar nie weer sien nie, besef hy met iets wat nie verligting of teleurstelling is nie.

Daleen voer elke beweging bewustelik uit – die sleutel in die slot, haar voet op die koppelaar, haar hand op die rathefboom. Vir ’n rukkie het Dawid haar laat vergeet van haar radeloosheid met Riekie en Kyla wat onder ’n vragmotor beland het. Die vonke wat herinneringe oopgeskiet het, sou die gebou aan die brand kon steek as hulle langer vertoef het.

“Oukei, Magdalena, jy het nie hiervoor gevra nie, maar dit het gebeur. Vergeet nou daarvan,” sê sy vir die voorruit en wring haar hande om die stuurwiel.

Sy vel is ’n gesonde bruin, soos ’n mens kan verwag by ’n man wat dikwels in die buitelug kom. Sy hare, wat op skool tot die sedebewakers se ergernis op sy skouers gehang het, is netjies kortgeknip. Sy bors is stewiger, sy gesig voller, sy hande hard en breed. Hy het verby seunsagtigheid gegroei na ’n man met ’n teenwoordigheid wat alles om hom onbelangrik maak. Sy begryp nou waarom sy eerste op sy oë verliefgeraak het – donker, tergerige oë wat ook diep ingedagte na haar kan kyk. Vandag het sy iemand gesien wat so baie soos sy is dat sy weet hulle sal altyd eenwees deur die misterie van gedeelde identiteit.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s