Verby verlange – Frances Vermaak

verby verlange_high res

Marga hoor duidelik die vrou in die kerkbank agter haar se gefluisterde woorde. “Dis mos nou uit die mode om die kis in die kerk toe te laat,” sê sy, “maar Ruben het dit seker  vooraf met sy predikant gereël.”

“Het jy hom geken?” fluister die ander vrou.

“Wie, Ruben?” lag die eerste een sag, “Wie het ooit vir Ruben Rossouw geken! Hy het hom nie laat ken nie.”

Dit weet sý maar te duidelik, dink Marga bitter.  Sy, wat hom so graag wou leer ken, is nooit die kans gegun nie. Ruben Rossouw, bekende advokaat, wat onmoontlike hofsake gewen het, wat wêreldwyd geëer is oor die hantering van die Wit Hiënahuis saak, Ruben Rossouw, haar pa, die kluisenaar, het hom nie laat ken nie.

Sy het van sy afsterwe in die plaaslike koerant gelees. Ook dat die begrafnisdiens hier in hierdie kerk in Waterkloof sal plaasvind. Was hy ‘n kerkganger? Sy kyk na die houtbanke met die sagte kussings. Op watter bank sou hy sit indien hy ooit ‘n diens bygewoon het? Hier in die middel, waar sy haar tussen mede-prokureurs en regslui bevind? Beslis nie in een van die voorste banke nie, dink sy. Nee, eerder in die heel agterste ry waar hy vinnig sou kon uitglip sonder om iemand te groet, of anders, weggesteek in ‘n hoekie bo op die gallery.

Haar kollegas wat haar reeds buite gegroet het, vind dit nie vreemd dat sy hier is nie. Hulle het hom immers ook nie geken nie, was net bewus van sy geniale wyse van saakhantering. Hulle is hier ter wille van die laaste eerbetoon.

Sy, allermins!

Sy wou vir oulaas kom kyk of sy iets van die geheimsinnigheid wat advokaat Rossouw omring het, kon deurdring. Sy wou, deur hier by sy teraardbestelling te wees, probeer uitvind of sy al die jare verniet in haar verstand gepoog het om hom as pa te probeer

peil. Haar ma het haar op twaalfjarige ouderdom vertel dat haar pa nie dood is soos sy gedink het nie, maar dat hy lewe en aan die hoof staan van ‘n groot regspraktyk in die stad.

”Het hy ooit van my geweet?” wou sy later weet.

Sy moes tevrede wees met haar ma se kortaf antwoord: “Ek is seker hy’t geweet.”

Sy het elke woord wat haar pa ooit geskryf het en in boeke neergepen is, gelees. Die paar keer dat hy uitnodings na die universiteit se regsfakulteit ontvang het om ‘n lesing te hou, was sy daar. Sy het altyd in een van die agterste rye probeer wegkruip, bang dat hy haar sou sien. Nie dat hy haar ooit so herken of eers sou weet wie sy was nie!

Sy het sy sake met noukeurigheid bestudeer totdat sy eendag met ‘n skok agtergekom het dat sy soos hy begin dink en redeneer.

Sy is sewe-en-twintig. Sewe-en-twintig jaar, sug sy. Soveel jare is verby en sy en die man wat daar in die kis lê, het mekaar nooit geken nie. Hy wou niks van haar weet nie, het nooit ‘n poging aangewend om haar ma, of vir haar, te nader nie. En nou is hy dood.

Dan is dit maar die einde, dink sy terwyl sy saam met die paar ander mense wag om uit te stap. Toe die draers met die kis verby die bank waar sy staan, loop, wonder sy wie die draers is. Het hy hulle geken?

Die oomblik stem haar hartseer. Wie was hy? Wat was sy ideale? Hoe ernstig was sy en haar ma se verhouding? Hulle was tog ook jonk en vol lewensvreugde. Was hulle verlief? Hulle moes wees, want hoe anders sou hulle haar verwek het?

Uit die hoek van haar oog sien sy ‘n lang skraal man na haar aangeloop kom. Hy was een van die draers, dink sy. As sy reg onthou. Sy begin by die trappies afstap, maar hy haal haar vinnig in. “Marga Roux?” vra hy. “Kan ek met jou praat?”

“Waaroor?” vra sy byna kortaf.

“Asseblief, nie hier op die trappies nie. Kan ons net ietwat wegbeweeg?” En voor sy ‘n woord kan sê, sluit sy hand ferm om  haar bo-arm en lei hy haar by die trappies af, weg van die ander mense, na ‘n  beskutte hoekie onder die trap. Sy donker oë kyk ernstig in haar groenes af. “Ek is David Gerber, verbonde aan die firma Lourens, de Witt en Gerber. Ek het advokaat Rossouw se sake behartig. Ek het iets wat ek vir jou moet gee.”

“Ek ken jou nie, David Gerber. En ek wonder hoe jy geweet het wie ek is.” Sy kyk by hom verby na die groep mense wat nog daar staan en voel vreemd gerus dat sy en die man nie alleen is nie.

“O, ek weet wie jy is.” Hy haal ‘n dik koevert uit sy binnesak. “Hierdie is ‘n brief, iets wat jou …wat advokaat Rossouw aan jou gerig het. Hy wou dat ek dit persoonlik aan jou oorhandig, juffrou Roux.” Hy hou die koevert na haar uit.

Marga hou met altwee hande styf aan haar handsak vas. “En waaroor sou die advokaat dit wou doen?” vra sy.

Hy kyk vinnig rond voor hy praat. “Omdat jy sy dogter is,” antwoord  hy op ‘n sagter toon. “Hy het duidelik opdrag gegee dat indien jy sy begrafnis sou bywoon, ek dit persoonlik aan jou moes oorhandig.”

Dié keer het sy nie ‘n keuse nie. Hy prop die koevert in haar onwillige hand.  Asof in ‘n ander dimensie voel Marga dat daar iets hards binne in die koevert is. Haar pa, die vreemdeling, was bewus van haar bestaan, dink sy verwonderd. So bewus, dat dié David Gerber haar selfs kon uitken.

“Maak oop.” Sy stem is steeds sag, maar sy gehoorsaam. Daar is ‘n sleutel binne verskeie bladsye papier, waarop geskryf is, toegedraai.

‘n Boodskap, dink sy opgewonde. Haar pa het vir haar ‘n afskeidswoord of ‘n boodskap gestuur. “Wat is dié?” vra sy die man.

“Dis die sleutel van sy huis.” Toe sy fronsend na hom kyk, sê hy: “Advokaat Rossouw het sy huis aan jou nagelaat.”

Sy huis! Sy weet presies waar die huis geleë is. Sy huis! Hoe dikwels het sy nie in haar studentejare vanaf die koshuis die ellelange pad na Waterkloof Rif met haar fiets aangedurf nie. Alles in die hoop dat sy hom dalk daar sou sien. Dat hy voor die imposante hek sou staan, haar sou raaksien en innooi en dat sy ‘n gesellige middag saam met hom in sy studeerkamer sou deurbring, waar hulle sy nuutste saak sou bespreek. Het sy reg gehoor, wonder sy; hy het sy huis aan haar bemaak?

“Sy huis?”  Sy is behoorlik uitasem.

“In Waterkloof Rif.” Hy beduie na die los velle papier wat sy in haar linkerhand hou. “Die adres is daar, die veiligheidskode, die werkers se name, alles wat jy sou wou weet.”

“Totaal onaanvaarbaar!” Sy druk die sleutel asook die velle papier terug  in die man se hand. “Die advokaat was seker aan die yl as hy gedink het dat ek so ‘n nalating sou aanvaar.”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s