Vastrapplek in haar hart – Dina Botha

Vastrapplek in haar hart high res

Ná skool laai sy Hanlie by die huis af en vaar die winkels in. By die plaaslike materiaalwinkel kry sy wel geskikte wit materiaal, maar daar is nie genoeg op die rol nie. Die verkoopsdame is onseker of sy nog van dieselfde materiaal kan kry en Stefani loop met leë hande uit. Toe onthou sy dat sy brood en melk moet koop. Haar volgende stop is die supermark.

Dis hoekom ’n mens ’n behoorlike lysie moet hê as jy kruideniersware koop, dink Stefani toe sy vier ander items in die trollie sien en dis nog nie haar melk en brood nie. Toe sy by die lekkergoedrak verbyloop, is daar ’n spesiale aanbieding op sjokolade. Koop drie blokke en betaal vir twee. Sy sit ses blokke in die waentjie, waarvan drie die soort is wat sy graag eet. Die res is Hanlie s’n. Net toe sy haar trollie verder wil stoot, ruk haar hart. Brink kom van voor af, ook met ’n trollie. Omdraai kan sy nie en retireer ook nie. Sy draai haar rug na hom en bestudeer die bestanddele agter op ’n blok sjokolade en hoop hy sien haar nie raak nie.

“Middag, Stefani, koop jy aandete?”

“Ekskuus?” vra sy en draai om.

Brink beduie na die sjokolade wat bo-op haar kruideniersware lê. “Is dit julle aandete – die sjokolade? Is dit jou beurt om te kook?” vra hy weer of sy verstandelik stadig is.

Soos ’n ligskakelaar wat aangesit word, styg haar bloeddruk van normaal na gevaarlik hoog. Sy sien klein rooi sterretjies. Hy dink miskien sy snap nie sy bedekte sarkasme en afkraking nie, maar sy is nie onnosel nie. Sy gee hom ’n vernietigende kyk en stoot haar trollie sonder ’n woord by hom verby. Sy draai by die volgende gang in en hy doen dieselfde aan die ander punt. Hy het haar klaar gesien en stoot sy trollie vinnig op haar af. Sy is heeltemal bewus dat wat sy gaan doen kinderagtig is, maar om hom te vermy, retireer sy en stoot haar trollie in die volgende gangetjie af. Sy gee voor sy soek iets op die rakke, maar sy is eintlik net ingestel op geluid van sy trollie agter haar. Dit is die rakke met hondekos, besef sy halfpad in die gang af. Hulle besit eens ’n troeteldier van enige aard nie.

“Stefani?” roep Brink agter haar.

Die drang om die trollie net daar te los en uit te stap word sterker, maar sy sal later net weer moet terugkom om haar goed te koop. Sy haal diep asem en draai om. Sy wag tot hy voor haar staan. “Ja, meneer Vorster, wat is dit?” vra sy ongeduldig.

Haar houding vang hom effens onkant. “Die sjokolade vir aandete was net ’n grappie. Ek verstaan nie hoekom jy so liggeraak is nie.”

“Ek is nie liggeraak nie.” Hoe verduidelik sy vir hom dat sy geensins omgee as mense dink sy kan nie kos maak nie, maar komende van hom is dit ’n belediging. “Meneer Vorster, weet jy hoe ’n naaldwerkmasjien werk?”

“Nee, ek weet nie, maar …”

“Kan jy klere maak? ’n Rokpatroon lees, die pante korrek uitsny en dit aan mekaar werk om ’n perfekte kledingstuk te maak?”

“Nee op al jou vrae.”

“Ek kan dit alles doen, maar maak ek grappies oor jou onvermoë om naaldwerk te doen of herinner ek jou daaraan dat jy onhandig is? Nee, ek doen dit nie. Daarom sal ek dit waardeer as jy nie weer ’n simpel grappie oor my kookvermoëns maak nie.”

Sy wag dat hy hom bloedig vererg, maar lagkreukeltjies vorm langs sy oë, en langs sy mond maak twee aanreklike kepies hulle verskyning toe hy glimlag. “Touché, Stefani, touché. Ek is lanklaas so netjies op my plek gesit.” Hy lag of hy hulle skermutseling werklik geniet. “Ek gaan jou nie langer ophou nie. Geniet jou inkopies verder.”

“Dankie,” sê sy kortaf en loop by hom verby. Sy kry die brood en die melk waarvoor sy eintlik supermark toe gekom het en mik direk vir die betaalpunt. Eers in haar motor sink dit by haar in. Sy het haar nie juis volwasse gedra nie, en om naaldwerk as ’n verdedigende wapen teen ’n man te gebruik was eintlik simpel. Sy ken nie ’n enkele man wat wel die kuns bemeester het nie. Haar wange word warm. Hoekom kan sy nie net optree soos die volwassene wat sy is nie? Hoekom laat sy Brink toe om vastrapplek in haar emosies te kry? Die man het reeds so ’n slegte opinie van haar en nou voed sy dit by elke moontlike geleentheid.

Sy skakel haar motor aan en onthou hoe aantreklik hy is as hy glimlag. Dis ook die eerste keer dat sy so na aan hom was dat sy die lagplooitjies langs sy oë kon opmerk. En sy oë was vol lag en terg. Sy hele manlike aura het haar soos ’n magneet aangetrek. Vir ’n oomblik of twee het sy amper van die man gehou.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s