Arien Lubbe gesels

Ons gesels met Arien Lubbe oor boeke, hoogtepunte in haar loopbaan en hoekom Maria se keuse haar eerste Romanza in vyf jaar is.

11257236_628183310651630_8018627271523989663_n

Arien Lubbe se MARIA SE KEUSE het in Augustus by LAPA verskyn.

Waar is die vreemdste plek waar jy al ooit geskryf het?

Ag, ek wens ek kon vir jou ʼn opwindende antwoord gee. My skryftyd is beperk, al wanneer ek kan skryf, is in die nag wanneer my kinders slaap. Gewoonlik op my skoot in die kombuis en vakansietye het ek darem die see in die agtergrond. Die enigste vreemd wat ek jou kan bied, is dat ek nie by ʼn lessenaar skryf nie, maar altyd op my skoot.

Wat was die hoogtepunt in jou skrywersloopbaan so ver?

My hoogtepunt sal seker altyd die dag wees wat Charlene (Hougaard, fiksie uitgewer by LAPA) my persoonlik gebel het om my in kennis te stel dat my eerste boek aanvaar is. Wat ʼn fantastiese oomblik. ʼn Sterk tweede is die boek-en-koek in Bloemfontein waarheen Romanza my genooi het.

Enige wyse woorde of skrywersgeheime vir voornemende skrywers?

Geen geheime! Dis harde werk, oorskryf en herskryf. Dis definitief nie so maklik soos wat mense dink nie, maar dis bitterlik lekker. Wyse woorde? Neem kennis van die kritiek/voorstelle wat jy kry wanneer Lapa terugvoering gee oor ʼn manuskrip wat jy ingestuur het. Dis goud werd. Lees, lees en lees!

Hierdie is jou eerste Romanza in vyf jaar? Was dit moeilik om weereens ʼn romanse te skryf?

maria se keuse_high res

My laaste boek by Lapa is in 2010 gepubliseer. In 2011 het ek twee manuskripte ingestuur vir Lapa, maar ek het nooit die finale veranderinge aangebring en terug gestuur nie. (Ek gaan dit wel nog doen in die onmiddellike toekoms.) Na my dogter se geboorte in 2003, kon ons nie weer suksesvol swanger raak nie en ons het dit na ʼn groot stryd aanvaar. Stel jou voor die algehele skok toe ek in 2011 onverwags swanger raak (my dogter was toe al 9). Dit was so ʼn groot ontnugtering dat ek glad nie kon konsentreer om te skryf of op enige iets anders nie. En daarna was dit doeke en min slaap. My hele lewe het verander en my skryftyd is nog steeds baie minder as in die begin, maar ten minste kan ek weer skryf. Dit was glad nie moeilik om die drade op te tel waar ek dit gelos het nie – net baie meer beplanning! (Jy het geen idee hoe lank ek al aan hierdie paragraaf werk nie met al die onderbrekings)

Wat het jy in die tussentyd geskryf?

Geen stories – net tjeks vir doeke en babapoeier.

Drie items waar sonder jy nie kan leef nie.

My laptop, my horlosie en my slaapklere

Wie is jou drie gunstelingskrywers?

Sophia Kapp, Chanette Paul, Madelie Human

As jy drie mense na ete sou nooi (lewend of dood), wie sal dit wees?

Trevor Noah, Chanette Paul en my ma, Marieta Lubbe

Wat was die beste raad wat jy oor geskryf gekry het en van wie?

Ek kan nie onthou waar ek dit gehoor het nie, maar lees soveel as moontlik van die genre wat jy skryf.

Watter boeke kan jy herhaaldelike lees?

Ek lees nie sommer ʼn boek ʼn tweede keer nie. Vir een of ander rede kan ek elke boek onthou wat ek gelees het, maar nie ʼn dooie woord wat in my Biologie-boek was in skool nie. Maar daar is een boek wat ek al meer as een keer gelees het. Sarah du Pisanie se Vir twee koppies meel, dis die eerste boek wat ek gelees het en ook die rede hoekom ek so verknog is aan liefdesverhale.

Vertel ons vyf dinge wat nie in jou biografie is nie.

Hmmm, laat ek dink.

  1. Ek is met ʼn Engelse man getroud wat my absolute teenpool is.
  2. Ek het ʼn reeks Sondagskoolboeke vir ons kerk geskryf (Graad 1 – 6) – darem in samewerking met ʼn dominee!
  3. Ek begin my oggende deur vir ʼn uur of meer te gaan oefen in die gimnasium. As ek verslaap of nie kan gaan nie, is ek knorrig vir die hele dag.
  4. Ek is super sarkasties en baie mense vind dit moeilik om my te lees, wat ek natuurlik baie amusant vind, want ek sê wat ek dink ten alle tye.
  5. Ek raak aggressief wanneer ek honger is.

Werk jy tans aan ʼn boek?

Ja, inteendeel, daar is meer as een wat vir my lê en wag.

As jy nie ’n skrywer was nie, sou jy … wees?

Oe! Oe! Dis maklik, ʼn ‘female bodybuilder’. En nee, ek wil nie spiere bou wat Arnold Schwarzenegger na ʼn dogtertjie sal laat lyk nie. Net mooi, welgevormde spiere met ʼn lae liggaamsvetpersentasie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s