Maria se keuse – Arien Lubbe

maria se keuse_high res

Maria is besig om haar hart uit te huil toe André ure later by die kombuis instap.

“Hey, wat is fout?” vra hy besorg en hurk langs haar stoel.

Met haar vingers vee sy die trane van haar wange. “Alles,” snik sy, “ek kan nie eens ʼn simpel ding soos ʼn frikkadel regkry nie.” Sy tel een van die frikkadelle op en gooi dit teen die muur. Met ʼn gekletter val die frikkadel ongeskonde in die wasbak. “Hoe kan ek verwag iemand moet met my trou as ek nie eens vir hom ʼn bord kos kan voorsit nie? Kyk hier,” sy spring op en die stoel skuif raserig terug. Sy lig ʼn bak se deksel op en haal ʼn pannekoek uit. “Rubber,” die pannekoek volg dieselfde pad as die frikkadel en val net so heelhuids in die wasbak. “Hoe kan ek ʼn gesin beplan as ek nie eens vir my kinders kan pannekoek bak op ʼn reënerige dag nie? Ek is nie geskik om ʼn vrou of ʼn ma te wees nie,” snikkend val sy weer in haar stoel neer en laat sak haar kop op haar arms.

“Maria . . .” probeer André saggies, maar daar is duidelik lag in sy stem.

“As jy durf lag, stenig ek jou met die frikkadelle,” sis sy vir hom deur haar trane.

“Ek lag nie, ek belowe. Ek is net bly daar is niks fout nie.”

“Niks fout nie?” waterpas kyk sy hom in die oë. Sy kan nou wraggies nie meer omgee of haar oë rooi en geswel is nie. “Hoe kan jy sê daar is niks fout nie? Daar is fout – met my en met my kos.”

Moeiteloos tel André haar op en gaan sit op ʼn stoel en maak haar tuis op sy skoot. Haar trane droog onmiddellik op en hitte versprei deur haar hele lyf. Sy wil afklim, maar hy druk haar stywer vas teen hom. Oorwonne laat rus sy haar kop op sy skouer en maak haar oë toe.

Dit moet verkeerd wees om iemand se meisie te wees en dan so salig te sit in ʼn ander man se arms. Lategan sal ʼn oorval kry as hy nou hier moet instap en dit sien en met reg ook. En dis die hele probleem, Lategan is nie hier nie. Sy het nou iemand nodig wat haar kan bystaan en die enigste persoon wat hier is, is André.

“Daar is niks fout met jou nie,” druis sy stem saggies bo haar kop. “Dis duidelik dat jy nie in die kombuis hoort nie, maar dit beteken nie dat daar fout is met jou nie. Jy het verseker ander talente waarna ander sjefs smag, jy . . .”

“Ag, bull,” val sy hom onthuts in die rede en lig haar kop. “Ek weet ek het talente en ek weet bak en brou is nie een daarvan nie. Ek is nie op ʼn selfondersoek na my deugde nie. Dis net ontstellend om te weet dat ek nie tot meer in staat is as ʼn toebroodjie nie,” haar stem begin van vooraf bewe en sy gaan lê weer snikkend teen sy bors.

André streel saggies oor haar lang hare terwyl hy haar styf vashou. Hy rep nie ʼn woord nie en laat haar toe om haar hart uit te snik.

“Al gehoor van die spreekwoord van droë brood en liefde?” vra hy toe sy eindelik tot bedaring kom. “As ʼn man vir jou lief is, sal hy jou toebroodjies eet asof dit die sappigste steak is.”

“Dis gaaf van jou,” glimlag sy nog steeds teen sy bors, “maar ons almal weet die wittebrood hou nie vir ewig nie.”

André du haar ʼn entjie weg van hom en lig haar gesig met sy vinger sodat sy hom waterpas in die oë kan kyk.

“Jy’s reg. Die wittebrood hou nie vir ewig nie, maar wanneer daar ware liefde is, sal ʼn vrou vir ʼn man genoeg wees en nie wat sy vir hom kan doen of beteken nie.”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s