Miljarde sterre – Elise Keyter

Romanza Voorblad-Miljarde sterre

Marlie lek oor haar droë lippe. Sy is verskriklik dors, maar haar keel is toegetrek van spanning en sy wonder of sy enigiets in sy teenwoordigheid afgesluk sal kry.

“Dit sal lekker wees, dankie,” sê sy nogtans en klim die trappies uit.

Ian laat haar eerste by die oop voordeur inloop. Aan die een kant van die ingangsportaal lê die sitkamer met sy groot vensters en blik op die swembad. Marlie kom onwillekeurig tot stilstand en haar oë neem die toneel gretig in. Alles is nog presies soos sy dit gelaat het; asof sy nooit weg was nie. Selfs die blompot op die sytafeltjie wat sy ná baie oorweging op ’n vlooimark gekoop het, spog met vars blomme.

Van die plekkies in haar hart wat leeggeloop het sedert sy weg is, neem kennis hiervan en swel ’n bietjie uit. Ongeag die ongelukkigheid wat sy sedert haar huwelik beleef het en die laaste aaklige rusie wat tot haar vlug aanleiding gegee het, sê haar hart vir haar sy is tuis.

Ian gee haar egter nie tyd om langer te talm nie want hy stap verby haar in die gang af. Marlie glimlag hartseer agter sy rug terwyl sy hom volg. Sy gesprek met sy vervreemde vrou gaan in die studeerkamer plaasvind en nie in die meer ontspanne sitkamer nie. Hy loop reguit na die huistelefoon en vra vir Jolene om tee en toebroodjies vir twee na die studeerkamer te bring. Toe hy omdraai, staan Marlie nog in die deuropening.

“Kom in en kom sit. Dit lyk of jy enige oomblik gaan omval,” sê hy effens ongeduldig.

“Die pad was ongewoon besig en warm,” sê Marlie verdedigend.

’n Ongemaklike stilte hang in die vertrek en dit maak haar hartseer. Voor hulle troue kon sy en Ian land en sand praat, en enige stiltes tussen hulle was gewoonlik gemaklik en kameraadskaplik. Die ongemaklike stiltes het eers ná hulle huwelik gekom. Sy het vandag teruggekeer want daar is baie sake wat sy met hom moet bespreek, maar sy wil nie enige onderwerp aanraak voor Jolene die tee gebring het en sy met sekerheid weet hulle sal nie onderbreek word nie.

“Ek het ma Frieda en pa Dries belowe ek sal skakel om te sê ek het veilig aangekom. Kan ek dit doen terwyl ons vir die tee wag? Hulle het mos nie selfoonontvangs op die plaas nie,” vra Marlie, dankbaar om iets te kry om te doen om van die stilte weg te kom.

“Dis nog steeds jou huis hierdie. Jy hoef nie toestemming te vra om ’n oproep te maak nie,” sê Ian koel.

Marlie staan op, loop na die hoek van die lessenaar waar die telefoon staan en druk ’n rits nommers. Die gehoorbuis word na twee luie opgetel.

“Hallo, pa Dries. Ek is veilig in Pretoria en by Ian in die huis.”

“Hoe het hy jou ontvang, kind?”

“Alles verloop goed. Moet julle nie bekommer nie.”

“Jy sal dadelik laat weet indien iets verkeerd loop? Dan kom jy reguit huis toe of ons sal jou kom haal.”

“Ek sal, ek belowe. Sê groete vir ma Frieda.”

Marlie het net die gehoorbuis teruggesit of daar is ’n sagte klop aan die deur en Jolene stap met die teeskinkbord in. Sy kom geskok tot stilstand toe sy Marlie gewaar.

“Hallo, Jolene,” sê Marlie beleefd.

“Mevrou is terug. Ek het nie geweet nie.”

Marlie kyk die vrou koel aan. In die paar maande op Maanligvlakte het sy die meeste van haar verlore selfvertroue teruggekry en sy sal nooit weer toelaat dat Jolene haar intimideer nie.

“Mevrou se bagasie is nog in die kar. Sê vir Samuel hy moet dit inbring en die motor in die motorhuis intrek,” beveel Ian.

“Goed, Dokter. Moet die bagasie na die groot slaapkamer gaan?”

“Natuurlik, Jolene. Waar anders?” sê Ian kortaf. “Ek sal self die tee skink.”

Marlie se hart tamboer teen haar ribbekas. Beteken dit Ian wil hê sy moet vanaand by hom in die bed slaap? Dis seker logies vir hom om so ’n afleiding te maak, maar sy weet nie of sy nou al gereed is vir sulke intimiteit tussen hulle nie. Daar is te veel dinge waaroor hulle moet praat en te veel misverstande wat hulle eers uit die weg moet ruim.

Jolene loop sonder ’n verdere woord by die vertrek uit. Ian staan op en skink vir Marlie tee en voeg melk by voor hy dit vir haar aangee. Sy weet nie wat om daarvan te dink dat hy onthou sy hou nie van suiker in haar tee nie.

“Jy hoef nie so benoud te lyk oor die slaapkamer nie. Ek het sedert jy weg is, uitgetrek na die gastekamer langsaan,” sê hy terwyl hy vir haar ’n paar toebroodjies op ’n bordjie sit. “Drink eers jou tee en eet die toebroodjies, daarna kan ons gesels.”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s