Ons gesels met Ronelle Uys

Ronelle Uys se eerste Romanza, Sy liefdesplan, het verlede maand by LAPA Uitgewers verskyn. Ons leer ken bietjie die vrou agter die boek.

Ronelle Uys foto sy liefdesplan_hoë res

Sonder watter drie items kan jy nie leef nie?

Ek kan nie my lewe in dink sonder my Vader in die hemel nie. My gesin is my hele lewe. Dan sal my lewe leeg wees sonder boeke. Nie e-boeke nie. Ek is gek oor die reuk van nuwe boeke en wil self elke bladsy omblaai.

My drie gunstelingskrywers is …

Chanette Paul verras my elke keer met haar boeke. Sophia Kapp se boeke wil ek nie neersit nie. Alta Cloete se boeke laat my huil, lag, wonder en wens daar is nog.

Die drie mense wat ek vir ete sal nooi is…

Joel Osteen van die Lakewoodgemeente in Amerika. Hy besit die wonderlike manier om God se liefde, genade en seën elke keer nuut te maak. My mamma, Myrtle van Zyl, want daar is nog soveel wat ek wou weet en wat ek nie gesê het nie. Lady Diana, vir haar sou ek net teen my hart wou vasdruk.

Wat is die beste raad wat ek oor skryf gekry het? Van wie?

Madelie Human het my bekend gestel aan ’n storiebord. Ek het vandag my boeke waarin ek alles wat ek van my karakters wil weet in prentjievorm plak. Ek is ’n mens wat in prentjies dink. So dit maak vir my sin. Verder skryf ek alles daarin neer en beplan ook my hoofstukke. Dan het Alta Cloete vir my gesê ek moet ophou herskryf en eers my storie op papier kry. Dan kan ek daarna slyp en skaaf tot die storie reg is.

Boeke wat ek herhaaldelik kan lees is …

My drie gustelingskrywers se boeke natuurlik. En dan geniet ek Engelse rillers so tussen die romanse deur.

Wat het jou die moed gegee om jou manuskrip te stuur vir publikasie?

Ek het eenkeer ’n dagstukkie gelees waar die persoon gesê het dat ons almal een of ander tyd in ons lewens sê ons gaan nog eendag ’n boek skryf, of ons gaan nog eendag daardie kursus doen of daardie reis aanpak. Ek het tien jaar terug al begin skryf, so op my manier. Vyf jaar terug het ek my manuskrip vir LAPA Uitgewers gestuur en hulle het dit aanbeveel vir manuskripontwikkeling. Dit het my aangespoor om te ‘leer’ skryf volgens die genrereëls. Wel, in my geval was dit regtig herskryf, herskryf en herskryf totdat ek suksesvol was.

100_4108

Vir manuskripontwikkeling het Lapa van hulle kant vir Madelie Human aanbeveel. Sy het my geweldig baie gehelp. Ek het begin skryf volgens die genrereëls, maar gevoel ek het nog nie my eie skryfstyl ontdek nie. Ek het toe ’n ses maande manuskripontwikkelingskursus by Madri van der Walt in die Kaap bygewoon. Ek kan regtig dit vir enige aspirantskrywer aanbeveel. Die kursus het my meer selfvertroue gegee en mettertyd het ek my eie skryfstyl ontdek. Selfs Lapa se Lenteskool elke jaar is ’n wonderlike geleentheid om by bestaande skrywers te leer, want dis wat jy maar die heelpad doen. Jy leer.

Vertel ons vyf dinge wat nie in jou bio verskyn nie.

  • Ek woon  al vir 32 jaar op ‘n plaas tussen Heidelberg en Swellendam in die Wes-Kaap. Ons bly in ‘n plaashuis wat in 1853 klaar gebou is. Dis regtig ’n baie groot voorreg. Ons het ‘n melkery en plant koring, hawer, gars en Kanola. Ons lewe baie na aan die aarde.
  • Ek is ’n opgeleide kleuterskoolonderwyseres en het vir 6 jaar op Heidelberg skoolgehou. Dit het nogal beplanning gekos met 3 klein kindertjies en soms ‘n amper onbegaande grondpad.
  • Dan het ons 4 hondekinders in die huis. Hulle is my skaduwee as ek bedags alleen is. Volg my waar ek gaan. Saans kom wurm hulle hul koue lyfies onder die kombers op ons dubbelbed in voor hulle gaan slaap.
  • Ek eet nie vis nie. Ek weet tot vandag nie hoekom nie. Wel, ek is met die grootste visterman ooit getroud en ons seun het heelhartig in sy pa se voetspore gevolg. Elke Saterdagaand sal ek die dag se vangs getrou bak.
  • Ek is baie lief vir koffie en moet myself gedurig keer of ek sal permanent met ‘n beker koffie in die hand sit.

Werk jy tans aan ’n boek?

Ja, ek is op die oomblik besig met my volgende boek. Ek is amper halfpad en hoop om voor die einde van die jaar daarmee klaar te wees.

8 thoughts on “Ons gesels met Ronelle Uys

  1. Marie Bredenkamp says:

    Ai Ronelle, ek is onbeskryflik trots op jou!!! Hier sit en ploeter en ploeter ek nog aanmekaar aan – maar jy – jy het hom al op die rak.!! Doe zo voort!

  2. Nadia van Dyk says:

    Ons hier op Heidelberg is uiters trots op tannie en tannie se uithouvermoee om van hierdie liefde ‘n werklikheid te maak! Ek sien uit daarna om die boek in die hande te kry en tannie se loopbaan as skrywer te volg. Liefde xxx

  3. kristelloots says:

    Baie geluk met hierdie boek, Ronelle. Ek onthou jou geesdrif terwyl jy met Madri se kursus besig was en hoe vasberade jy was. Dit is inderdaad `n droom wat bewaarheid is en jy was bereid om vas te byt daarmee. Nou wag ons vir die volgende … Lekker skryf.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s