Doring in haar vlees – Dina Botha

Romanza Voorblad-Doring in haar vlees

Die aangrensende skuifdeur gaan oop en Annika druk haar foon se skerm teen haar bors. Hopelik doof sy al die lig en sien Connor haar nie raak nie. Sy is nie so gelukkig nie.

“Ek dag jy slaap al?”

Daar is geen rede om haar foon verder weg te steek nie sit sy dit op haar skoot. “Ons was vandag so besig, ek kyk nou eers na my boodskappe. En jy? Hoekom slaap jy nie?”

“Dis warm en ten spyte van die sonblok dink ek die son het my tog ’n bietjie op die rug bygekom.”

“Ek het afkoelroom as jy daarvan wil hê,” sê sy impulsief.

“Dankie, maar ek dink nie ek sal my rug bykom nie.”

Annika staan op. “Kom, loop saam, ek sal vir jou aansit.”

“Is jy seker? Ek wil nie ’n oorlas wees nie.”

“Moenie hardkoppig wees nie. Jy het seer en ek kan dit dalk wegneem.”

“Dankie, dan aanvaar ek jou aanbod.”

“Sit op die bed,” sê sy toe hy haar na binne volg. Sy haal die buisie room uit haar strandsak en draai die prop af. “Jy sal jou T-hemp moet uittrek.”

Connor trek die T-hemp oor sy kop en die spiere rimpel oor sy bors. Haar maag trek op ’n knop. Dis die eerste keer dat sy ’n halfnaak man op haar bed sien, en dit roer vreemde emosies in haar. Haar speeksel droog op en sy sluk moeilik.

“Draai so dat ek jou rug kan bykom.”

Sy staan agter hom en druk ’n homp room in haar hand uit. “Sjoe, jy is reg, jou rug is baie rooi.”

Sy vel word dadelik oortrek met hoendervleis toe haar koue hande teen hom raak. Hy trek sy asem hoorbaar in.

“Toemaar, dit moet koud wees. Dis juis die koel gevoel wat verligting bring.”

Sy spiere ontspan onder haar hande en sy smeer ook ’n dun lagie room oor sy skouers. Haar hart klop wild en buite beheer. Dis die eerste keer dat sy haar hande op so ’n intieme manier oor ’n man se bors en rug streel en dit wek ander minder welvoeglike gedagtes. Sy raak bewus van sy manlikheid, sy viriliteit, en die begeerte om in sy arms te staan en die hele manlike prentjie te geniet groei elke oomblik.

“My bors het ook ’n bietjie gebrand,” sê Connor en die keer trek sý amper haar asem hardop in. Lees hy gedagtes? Weet hy wat sy so pas begeer het? Sy waag egter nie die kans om voor hom te staan en sy bors vir hom met room in te smeer nie, want sy sal nie haar rukkerige asemhaling vir hom kan wegsteek nie.

“Hier, smeer waar dit nog seer is. Ek gaan net gou my hande was,” sê sy en druk vinnig die buisie room in sy hande.

Haar wange lyk rosig, en as sy haar pols in haar keel kan sien klop, kan Connor seker ook. Sy draai die kouewaterkraan heeltemal oop en die water spat oor haar arms. Sy voel lus om haar gesig te was, maar Connor sal wonder hoekom sy die behoefte het om haar gesig af te koel. Sy droog haar hande af en gryp ’n waslap van die hopie skoon handoeke af.

“Vee sommer jou hande aan dié af. Wees net geduldig, dit neem ’n paar minute om die volle helende effek te voel.”

“Dankie,” sê Connor en gee die buisie terug.

Annika het skielik ’n visioen in haar kop van Connor wat elke dag só in sy slaapbroek op haar bed sit. Asof hy daar hoort. In die oggend is sy oë tussen sy digte wimpers swaar en slaapdeurdrenk. Sy hare is deurmekaar geslaap en hy het daardie donker skynsel teen sy ken en wange wat sy so aantreklik vind. Sy arms is hard en onversetlik om haar lyf as hy weier om haar te laat gaan. En saans – soos nou – wag hy met sexy oë dat sy in die bed klim sodat hy die slaapkamerlig kan afskakel.

Annika knip haar oë en die prentjie versplinter soos ’n spieël wat val. Sonsteek – dis wat sy het! Sy voel aan haar voorkop, maar dis koel.

Connor gee die waslap terug maar bly op haar bed sit. Hy kyk haar spekulerend aan. “Voel jy ongemaklik omdat ek hier in jou slaapkamer is?”

Sy skrik en hoop haar gesig is ’n onleesbare masker. “Nee, natuurlik nie. Iemand moet jou rug smeer en ek gee nie om om dit te doen nie.”

“O, ek vra maar net want jy lyk ’n bietjie … blosend. Nee, senuweeagtig.”

Sy wens hy wil nie terg nie. Hy weet duidelik nie wat sy manlike viriliteit en die intimiteit van haar slaapkamer aan haar doen nie. As sy maar net self haar reaksie kon verstaan, sou dit gehelp het.

“Kan ek nou maar my T-hemp aantrek?”

“Ja … nee,” korrigeer sy haarself vinnig. Die room het nog nie heeltemal ingetrek nie maar sy kan ook nie langer na sy verleidelike bolyf kyk nie.

“Besluit nou, Annika. Hemp aan of hemp uit.”

Sy oë vonkel en verklap dat hy doelbewus haar siel uittrek.

“Nog vyf minute, dan kan jy aantrek.” Sy sit op die stoeltjie voor die spieëlkas en probeer aan iets dink om te sê. Kan sy haar gewaarwording van vanmiddag met hom deel? Sy wonder.

“En nou, wat pla jou nou weer?”

“Hoekom dink jy iets pla my?”

“Ek ken nou al jou gesigsuitdrukkings. En as jy jou lip vasbyt, is daar definitief iets. Toe, uit daarmee.”

“Nou goed. ’n Gedagte het my vanmiddag te binne geskiet. Ek begin dink Hendri het ons twee om heel ander redes as die huurkontrak saamgenooi. Ek dink hy speel Kupido.”

“Kupido? Ek is jammer maar ek verstaan nie.”

“Neem nou maar gister en vandag. Elke keer as hy vir Pieter ’n opdrag gee, sluit hy my daarby in. Dis asof hy wil hê ons moet tyd alleen in mekaar se geselskap deurbring. En dieselfde met jou en Janine. Janine, doen dit en neem vir Connor saam. Jy moes dit ook agtergekom het.”

“Jy is reg. Hy paar ons twee met sy ongetroude kinders af.” Connor se oë vernou terwyl hy oor alles peins. “Hoe voel jy daaroor? Is jy vies?”

“Ek het nog nie gedink hoe ek daaroor voel nie,” erken sy prontuit.

“Die wyse waarop Pieter ’n oorlas van homself maak, sê vir my hý gee glad nie om as sy pa Kupido probeer speel nie.”

Çonnor klink ontevrede en sy kry die idee dat hy nie veel van Pieter hou nie. Dalk oor die The Pink Oyster voorval.

“Wat van Janine? Sy lyk jou glad nie ongeneë nie.”

“Dit gaan nie hier oor wat hulle voel nie, maar wat ons daarvan dink. Ek hou van Janine. Sy is mooi en ’n volwasse jong vrou, intelligent en ambisieus.”

“Maar?”

“Daar is nie ’n maar nie. Ek hou van haar of ten minste dit wat sy my toelaat om te sien. Die probleem lê by my. Ek glo nie in blitsromanses nie. ’n Verhouding is iets wat moet groei en daarvoor het ’n mens tyd nodig. ’n Langnaweek is in my oë nie genoeg tyd om iemand werklik te leer ken nie. Daar het jy jou antwoord.”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s