BLOUBAARDMAN – Alda Geers

Romanza Voorblad-Bloubaardman

Herman Lategan rem toe ’n minibus voor hom inswaai. “Jou vreksel,” swets hy toe dit roekeloos oor die rybaan skiet en sonder enige waarskuwing in die kruising voor hom stilhou. Hy toet vererg toe hy verbykom, voel hoe sy bloeddruk verder styg toe die bestuurder van die taxi met ’n obsene teken daarop reageer.

Die volgende twee verkeersligte is groen, maar die derde een slaan oor na rooi. Terwyl hy sit en wag, kyk hy weer na die papiertjie wat die prokureur hom gegee het. Monica Verwey, lees hy. Lyndoncourt 4, Jacobstraat 248, Siddlepoort. Die vader weet, hy’s nie lus vir hierdie besoek nie.

Maar langer uitstel kan hy nie, dis dalk reeds te laat om die meisiemens te probeer opspoor. Oor hy aanmekaar ekskuse gekry het omdat dit weereens ’n gemors is wat hy agter sy broer, Ruben, moet gaan opruim nadat ’n vragmotor kortpad gevat het oor dié en sy motorfiets.

Herman kry die kar in rat en trek weg. Die middagverkeer is erger as wat hy verwag het. En Siddlepoort lê ver uit, iewers die westelike buurtes in. Waar hy nooit kom nie, sy sakebelange lê noord. En oos. In die meer gegoede voorstede.

Die GPS-vrou sê 500 m, draai dan regs. Herman verminder spoed en doen soos hy gesê word. Die verkeer is dadelik ligter. Genadiglik, hy wil ry en die ding agter die rug kry. Nie dat mens ’n swanger meisie ooit agter die rug sal hê nie. Daar sal ’n kind wees wat versorg moet kom. Gedwonge bande met ’n armlastige wat vir ewig sal bakhand staan.

Was hy nie die eksekuteur nie, het hy nie die lees van Ruben se testament gaan bywoon nie. Hy het geweet sy broer sou niks nalaat nie. Daarvoor het dié se duur rygoed gesorg. En sy blink klere. Sy aanmekaar geritsery oorsee. Alles goed waarvoor die inkomste van ’n vryskut joernalis beslis nie voorsiening sou kon maak nie. Toe was daar net die versoek oor die meisiekind.

Dat hy sal omsien.

Waar hy nou ry, is die erwe kleiner, die huise digter opmekaar. Daar’s vrouens hangend oor heinings wat lankal aandag nodig het. Keffende brakke en verslonste kinders. Hy wil nie kyk nie, versukkeldheid is nie deel van sy wêreld nie. Konsentreer op die GPS, Lategan, praat hy homself aan. Dié laat hom uiteindelik voor ’n drieverdieping stilhou. Die plek kort verf. Hy kyk weer na die papier met die adres op, stap die gebou in en klop by nommer 4.

Die deur vlieg dadelik oop.

Toe staan sy daar met ’n dik, blonde vlegsel wat sy oor haar skouer terugswiep. Monica Verwey met twee blou poele vir oë. Mooi ís mooi, dink hy. Dit vra nie vir klas nie.

“Waar draai jy,” val sy hom aan. “Ek wag al ’n uur.”

“Ek …” begin hy keer.

Maar sy gee hom nie kans om te praat nie. “Vat my tas en kom,” sê sy. “Die pyne word al sterk.”

“Pyne?”

“Moet jou nie onnosel hou nie,” snou sy. “Ek het jou mos gesê dit het begin.”

“Begin? Ek het …” Hy kyk na die leersak oor haar skouer, die tas wat langs haar gereed staan, die deurknop in haar hand. Sy moet hom verdomp nou hier ’n ding in kom staan en insleep.

“In hemelsnaam, roer jou!”

Ordentlikheid laat hom teen sy beterwete die woonstel inbuk, die tas optel en terugstaan sodat die meisiekind haar woonsteldeur kan toetrek en sluit.

Die enjin ruk twee keer dood voordat hy sy kar uit die parkeerplek het. “Waarheen?” vra hy toe hulle die verkeer indraai.

“Kliniek toe, waar anders?”

“Watter kliniek?”

Sy trek haar asem skerp in, en met toe oë, haar kop agteroor gegooi, druk sy haar rug teen die rugleuning vas. Haar hande is krampagtig om die sitplekkussing geklem. Sy moet die kind nou hier in sy kar laat uitval. Hy sal haar sowaar net hier in die verkeer los, kar en al.

“Die SAVF se Poortstraat Kraaminrigting,” sê sy op die uitblaas van haar asem.

Dit sê hom niks, hy ken nie die omgewing nie. “Jy moet beduie.”

“Ry net.”

Hy skakel die noodligte aan, wissel ratte, en stoot die rewolusies van die enjin op. Ver bo die spoedbeperking vleg hy deur die verkeer. Waar daar nie aankomende verkeer in die dwarsstrate is nie, skiet hy oor stopstrate en rooi verkeersligte. Word hy voorgekeer, sal hy eenvoudig die verkeersman die kar laat inklim, hóm met die gebakte pere laat sit.

Twee keer wys sy hom waar om te draai voordat die wit SAVF-gebou uiteindelik voor hulle opdoem. Hy swaai uit die verkeer en bring die kar met skreeuende bande voor die ingang tot stilstand. Maar voordat hulle kan uitklim, gil sy.

Sy sit met groot oë. “My water het gebreek,” sê sy benoud.

Die skrik is dwarsdeur hom. Hy sien die hande wat tussen die bene vasgeknyp word, die nat kol wat wyer sprei. “Kom die kind?” vra hy beangs. Maar hy wag nie op ’n antwoord nie. Hy spring uit die kar. “Help,” skree hy. “Help! Help!”

Hy sien net wit mure en blinde vensters. Maar iemand sal moet kom. Hy hardloop na die stoeptrappe en hou aan met skree.

’n Suster kom op die stoep uit en stuit hom in sy spore. ’n Blok van ’n mens. Sy staan hande in die sye op hom en afkyk, haar stampers wyd op die stoepteëls geplant. “Vir wat skree jy so?” vra sy kwaai. “As jy jou gat nege maande terug in toom gehou het, het jy nie nou hier gehelp-help nie. Bring jou vrou.”

One thought on “BLOUBAARDMAN – Alda Geers

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s