Proestukkie: Altyd die strooimeisie deur Madelie Human

“Oepsie …” Vir die soveelste keer struikel Zoë oor haar eie voete. Haar verleentheid is nou akuut. Die twee strooijonkers en hul maats vir die aand is op die dansbaan vir die eerste wals saam met die bruid en bruidegom en haar ongemaklike paar skoene pootjie haar telkens. Was dit nou nodaltyd die strooimeisie_high resig dat die man in beheer van die musiek so ’n vinnige wals moes kies om die baan mee te open?

“Wat is dit met jou? Kan jy ooit wals?” fluister Meyer met ’n plooi tussen sy oë.

“Dis hierdie verdekselse ongemaklike paar spykerhakke. Ek kan eenvoudig nie met die goed oor die weg kom nie,” kla sy, bloedrooi in die gesig.

Sonder ’n verdere woord tel hy haar op en stap met haar terug na hulle tafel toe. Zoë haat dit om so argeloos hanteer te word. Hoekom dink mans altyd dat hulle omdat sy so klein is, haar kan optel en maak met haar wat hulle wil?

“Sit my neer! Wat vang jy aan?” protesteer sy, uiters bewus daarvan dat alle oë nou op hulle gerig is. Ai tog, gaan haar skandes dan vanaand nooit einde kry nie?

“Nou gaan ons ’n plan met jou ongemaklike skoene maak. Dis onnodig dat jy so sukkel. Dis natuurlik ook hoekom jy netnou byna op jou gesig neergeslaan het daar by die gazebo.” Hy plak haar op ’n stoel neer en gaan sit op sy hurke voor haar. “Lig op hierdie klomp rokke,” beduie hy met ’n fronsende kyk na al die lae kant en satyn van haar strooimeisierok.

“Nee.” Sy gaan hom sowaar nie sonder teëstribbeling gehoorsaam nie. Hy is sekerlik gewoond dat vroue almal voor hom swymel en enigiets doen wat hy vra. En dit net oor sy mooi paar oë en daai kuiltjies in sy wange. Nie sy nie. Hy is deel van die mansgeslag wat sy so haat.

“Of moet ek dit doen?” daag hy haar uit. Die glinstering in sy oë verseker haar dat hy dit sal doen ook.
Teësinnig tel sy dus maar liewer self die soom van die rok op. Hy buig vooroor en lig haar een voet tot op sy knie, sy hand warm om haar enkel. Zoë se asem raak alweer soek. Skielik is sy bly oor die ure wat sy saam met Leanie en Melani gister in die salon deurgebring het om hulleself te laat versorg vir die bruid se belangrikste dag. Haar bene is gelukkig syglad gewaks, haar voete behoorlik gepamperlang en die naels mooi geverf vir die okasie.

“Hei, Meyer, dis nie jy wat die kousband moet afhaal vanaand nie, hou jou in,” roep ’n manstem van ’n afstand af en ’n klompie mense in hul omgewing lag geamuseerd.

“Ek oefen solank,” roep hy sonder opkyk terug, sy aandag steeds op wat hy doen. “Moet jou nie aan my simpel broer steur nie.” Meyer gaan onverstoord voort om die fyn gespe van die skoen se enkelbandjie behendig los te maak. Hy sit die lastige skoen op haar skoot. “Genade, geen wonder jy kon nie behoorlik loop met die goed nie, die hakke is ’n myl hoog,” grom hy met ’n frons. “Ander een,” gebied hy en verskuif sy eie bene sodat sy met gemak haar ander voet op sy knie kan sit.

Zoë kyk na die lang, donker man wat hulle steeds met ’n grinnik sit en betrag. “Broer? Is jy en Lourens dan nie die enigste twee Malan seuns nie?” Zoë neem die tweede skoen ook uit sy hand en sit dit by haar aandsakkie en stola neer, uiters bewus van sy hand wat steeds warm om die holte van haar een voet vou.

“Nee, ons het nog twee halfbroers. Darius en Gerard Retief, die eienaars van hierdie plek. Dis hulle met hul gesinne daar by my ouers en tant Monica-hulle.” Hy beduie na waar ’n groot groep mense gesellig om ’n ronde tafel sit en kuier.

Dan is dit hoe die vurk in die hef steek. Le Fleur behoort aan sy twee halfbroers. Wat sê hy daar? Retief? Die van en die implikasie daarvan tref haar soos met ’n hamerslag. “Retief? Soos in die seuns van Johann en Mercia Retief? Mercia Retief is jou ma?” Dis die name wat haar ma altyd uitskreeu wanneer sy so ontstig raak dat die personeel by die inrigting haar met kalmeermiddels moet inspuit.

“Ja, einste. Myne en Lourens s’n, maar sy is Gerard en Darius se ma ook. Ons is vier broers.”

’n Galbitter smaak stoot in Zoë se keel op en dreig om haar naar te maak, maar sy moet eenvoudig meer uitvind. “Halfbroers? Waar pas jy en Lourens in die prentjie in? Julle van is dan Malan?”

“Ja, maar ons het as Retiefs hier grootgeword. Dis ’n lang storie. Glo my, jy wil dit nie nou hoor nie. Nou waar was ons nou weer?” Hy laat haar voet gaan, vat haar hand en trek haar saam met hom regop, blykbaar vasberade om die verpligte dans met die lomp strooimeisie agter die rug te kry.

Die skielike bevryding van die twee martelinstrumente wat haar so gekasty het, maak dat Zoë lus kry vir lag, maar dit sal nie ’n vrolike lag wees nie. Dit sal eerder ’n histeriese klank wees wat by haar keel uitkom.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s