Tyd sal leer – Alma Carstens

tyd sal leer_hoë res

Sy vind dit moeilik om haar balans met die hoëhak sandale op die onegalige houtplanke en staalplate waaruit die loopvlak van die kaai bestaan, te hou. Hy moet meer as een maal met sy ander hand aan haar arm gryp om te verhoed dat sy op die grond val wanneer sy struikel.

“Trek eerder die skoene uit, voor jy netnou soos ’n os hier neerslaan en die mense baie meer sien as waarop hulle gereken het.”

Sy trek haar hand vinnig uit syne en gaan botstil staan. “Dink jy rêrig ek gaan met my kaal voete oor hierdie vieslike vuil planke loop? Ek sal iets baie erger as voetfungus kry.”

“Ek het jou mos gewaarsku oor daai stelte van jou.”

“Jou waarskuwing was so-effe te laat, Marco,” blits sy sarkasties. “As jy my vooraf gesê het ons gaan op ’n verdekselse boot moet klim en ek sou op sulke ongelyk oppervlak moet loop, sou ek dit dalk heroorweeg het om hierdie skoene te dra. En sou ek dalk ’n langbroek aangetrek het inplaas van so ’n kort rompie!”

“Ja, dis jammer Rikki het niks vir jou gesê nie. Ek het gedink jy weet,” sê hy gemaak onskuldig.

Sy draai weg van hom af en tree vorentoe, maar gryp vervaard na hom toe sy weer haar ewewig verloor. Dit lyk asof sy in trane gaan uitbars en Marco voel opeens baie jammer vir haar. Hy raap haar blitsvinnig in sy arms op en stryk met lang hale aan na die boot.

“Wat doen jy?” roep sy ontsteld uit. “Sit my dadelik neer!”

“Hou op spartel, Siënna. Jou romp laat niks aan die verbeelding oor nie en as jy so te kere gaan, wys jy vir almal jou eva.”

Die meeste mense op die hawe los waarmee hulle besig is en skater van die lag. Hulle roep na diegene wat steeds besig is om bokke, hokke vol hoenders, fietse, en ander bagasie op die boot te laai om ook na die petalje te kyk.

“My eva? Waarvan praat jy? Sit my neer!”

“Sodat ons eers teen donker op die boot kan klim? Aikona!”

Hy stap onder luide gejuig en aanhitsing deur die deur, loop met die nou gangetjie langs en klim met die trappe tot op die boonste dek waar hy haar onder die seilafdak neersit.

“Hoekom bring jy my hierheen? Ek wil dadelik na my kajuit toe gaan.”

“Dit ís jou kajuit. En dié van ’n hele klomp ander mense. Ek hoop nie jy gee om om te deel nie.”

“Jy is nie snaaks nie. Ons is op die oop dek met net hierdie afdakkie as skuiling.”

“Ja, dis eersteklas. As jy nie sal omgee om tussen ’n horde bokke, bagasie en nog meer mense die rit mee te maak nie, kan ek derdeklas op die eerste dek aanbeveel. Of tweedeklas op die tweede dek, maar daar is dit ook erg beknop. Ek het gedink jy sal die vars lug en ruimte in eersteklas nogal waardeer.”

“Is dit ’n siek grap of wat? Waar gaan ons slaap?”

“Daar, op die vloer. Of daar oorkant, onder die sterre. Jy kan self kies.” Hy laat dit klink asof sy ’n keuse het tussen twee wonderlike opsies. “Mens kan matrasse huur, maar ek betwyfel dit of jy op een van die Ilala se matrasse sal wil slaap.” Toe sy net verward bly staan, gaan sit hy teen die muur waar die trappe van die onderste dek af uitkom en laat rus sy arms op sy opgetrekte bene. “Ek sou nie, as ek jy was, met daai skoene op die dek probeer loop nie, veral nie as die boot in beweging kom nie,” kan hy nie help om weer droog op te merk nie.

“Jy geniet die situasie, nie waar nie? Jy is mal daaroor dat jy reg bewys is.”

Hy trek net sy skouers argloos op en kyk oor die rand van die dek na die malende massa op die hawe.

Siënna kom sit versigtig langs hom op die plankvloer. Sy het moeite om haar sit met die kort rompie en hoë hakke te kry en Marco sukkel om sy lag te beteuel. Toe sy na vele probeerslae plat op haar sitvlak neerval, bars hy uit van die lag.

Sy ignoreer hom en fokus op die bedrywighede op die kaai. “Hoe lank voor ons vertrek?”

“’n Uur, miskien twee. Sodra alles gelaai en almal aan boord is.”

Siënna trek haar asem hoorbaar in. “Hoekom het ons dan so vroeg aan boord gekom? Die son sal ons hier op die dek stukkend brand!”

“Wat wou jy dan gedoen het? Op die hawe tussen daai klomp gestaan het met jou spykerhakke of ’n mall gaan soek het om bietjie inkopies te doen?”

“Dis nie nodig om sarkasties te wees nie. Ek vra maar net. Het die boot nie ’n spesifieke vertrektyd nie?”

Marco leun met sy kop agteroor teen die muur en kyk na haar deur sy wimpers. “Agtuur vanaand, maar ons werk hier meestal op plus-minus tyd.”

Sy stoot die Guicci sonbril op haar kop en skreef haar oë teen die skerp lig. “Hoe lank gaan ons op hierdie wrak vaar? Of nee, wag,” sê sy en hou ’n voorvinger in die lug asof sy ’n nuwe gedagte kry. “Sê my eerder of dit die laaste skof van ons reis is en of ons by Rikki en Vince gaan wees as ek van hierdie ding afklim.”

“Korrek. As alles goed gaan, klim ons enige tyd na middernag, gewoonlik so drie-uur môreoggend se kant van hierdie wrak af,” lag hy. “Dis nou te sê as sy nie sink tussen hier en Likoma nie.”

Siënna kyk vinnig na hom, vrees vlak in haar oë. “En dan? Ek sien nêrens reddingsbote nie, behalwe die roeibootjie wat hier langs die sy van die boot hang.”

“Dan word ons krokodilkos. Die meer wemel van die goed.”

Siënna wil opspring, maar haar nou rompie en hoë hakke maak dit onmoontlik om vinnig te beweeg. “Ek gaan nie daai kans waag nie. Daar moet iewers ’n vliegtuig wees wat ek kan huur.”

“Ontspan,” sê Marco en trek haar aan haar hand terug op die vloer langs hom. “Die Ilala is veilig, ek terg jou sommer net. Sy is so ’n jaar of wat gelede oorgedoen.”

“Terg jy ook oor die krokodille?”

“Nee, daai deel is waar. Hulle is oral in die water, mens moet maar op die uitkyk bly as jy wil swem.”

“Dan sit ek nie ’n toon in die meer nie.”

Hy kyk skeef na haar en glimlag effens. “Vergeet maar daarvan, Siënna Rothmann. Daar is nie ’n hawe by Likoma nie. Die Ilala gooi ongeveer tweehonderd meter van die land af anker. Ons word met roeibootjies land toe geneem en hulle gaan nie tot by die strand nie.” Hy wys na haar skoene. “Jy sal daai goed moet uittrek as jy nie wil hê dit moet nat word nie. Ons word knie-diep afgelaai en stap deur die water strand toe.”

“Dan sal jy my maar net weer moet dra, ek weier om ’n voet in die water te sit.”

“Nadat jy vroeër so ’n spektakel van jouself gemaak het?” Hy skud sy kop. “Nee, jy sal maar in die donker nag in die water moet klim en stap. Of met die Ilala moet terugkom. Ek het baie goed wat afgelaai moet word en het nie tyd om bedorwe meisies rond te karwei nie.”

Haar ken lig ’n paar sentimeter asof sy haar vererg het. “Ek sal jou betaal om my land toe te dra.”

“My dienste is nie te koop nie. Soos jy nog sal agterkom, Siënna, is geld nie my god nie. Hou maar jou goue muntstukke, nie alles in die lewe kan gekoop word nie.”

“Ek is seker hier sal wel iemand op die boot wees wat my sal help.”

“O ja, verseker. Hulle sal oor hulle voete val om jou te dra. En jou geld te vat. Die mense is arm en daar is nie banke op die eiland nie, elke tambala wat hulle iewers kan bekom, is welkom.”

“Geen banke nie? Hoekom het my my nie gesê nie? Waar gaan ek nou geld kry as my kontant op is?”

“Dis nie asof jy duisende kwachas op die eiland gaan spandeer nie. Daar is nie winkels nie. Het ek vergeet om jou te sê?” vra hy gemaak verbaas.

Sy draai haar kop weg van hom af en Marco glimlag ondeund. Hy weet nie waarom hy dit so geniet om haar te treiter nie. Miskien omdat sy hom so maklik glo. Of omdat sy so gewillig is om altyd die slegste van hom te verwag. Hy wonder wat sy sal sê as sy die waarheid oor hom moet weet. Dis nou indien sy ooit moet uitvind dat hy die wêreld waaruit sy kom, baie goed ken en haar beter verstaan as wat sy dink.

Hy haal muskietweerder uit sy rugsak wat hy na haar toe uithou. “Hier, spuit dit oral aan jou ontblote vel. Maak seker jy slaan nêrens ’n kol oor nie.”

“Nee, dankie. Ek hou nie van sulke taai goed aan my nie.” Dikbek, omdat hy nie na haar pype wil dans nie. En omdat haar omkoopgeld hom nie beïndruk nie.

“Ek vra nie of jy wil en of jy daarvan hou nie, demmit. Vat dit of ek spuit dit self aan jou. Die muskiete dra jou weg nog voor ons die hawe verlaat en die kanse om hier malaria te kry, is baie goed.”

Sy neem die botteltjie teensinnig by hom en spuit hier en daar ’n kolletjie op haar lang bene en arms. Toe gee sy weer die houer vir hom terug.

Marco beweeg blitsvinnig tot op sy knieë en klem sy hand om haar een enkel vas. Hy spuit haar hele been sodat dit ordentlik beskerm is teen insekte. Sy ruk aan haar been, maar hy was dit te wagte en druk met sy hand haar enkel stewig teen die houtplanke op die dek vas. Voor sy ’n kans kan kry om weer te reageer, druk hy haar ander enkel ook vas en spuit daardie been ook.

“Hou op! Wat besiel jou? Los my been!” Sy klap na hom en hy gryp haar pols stewig vas en spuit haar arm en toe die ander een. “Wat gaan aan met jou, hé? Het jy nou heeltemal die kluts kwyt geraak?” Haar oë spoeg vuur na hom toe en hy is seker sy sou hom te lyf gegaan het as sy kon en daar nie so baie toeristeoë op die dek was wat hulle aanstaar nie.

“Ek het jou gewaarsku. Dis malaria land hierdie en mens speel nie daarmee nie. Ek het jou gesê om dit ordentlik te doen en as jy na my geluister het, was dit nie nodig dat ek dit vir jou moes doen nie.”

“Jy is die arrogantste… walglikste…” Sy is so kwaad dat sy beswaarlik die woorde kan vind om hom uit te skel. “…die ongeskikste mansmens waarmee ek nog ooit te doen gehad het.”

“Ja en jy het seker al met baie te doen gehad, nè? Maar nog nie met een wat al iemand van malaria sien sterf het nie. So, jy kan maar skel soos jy wil, Siënna. Solank jy op die vasteland in Malawi en ek in die rondte is, sal jy jouself daarteen beskerm, of jy wil of nie.”

“Sies, nou is ek taai van daai gemors.”

“Ten minste is jou kanse om malaria te kry, minder.”

Nadat hy homself ook goed gespuit het, plaas Marco die muskietweerder terug in sy rugsak. “Het jy niks oor die land opgelees voor jy sommer op die vliegtuig hierheen gespring het nie? Want dan sou jy weet dat mens elke middag rondom vyfuur jouself goed moet spuit. Jy kon ook malaria tablette geneem het.”

“Ek het nie tyd gehad om navorsing te doen nie.”

“So die besoek was onbeplan? Waarom die haas?”

Siënna skuif ongemaklik rond en soek na iets in haar handsak. “Dit het niks met jou te doen nie.”

“Nee, natuurlik nie, maar dit sou baie minder moeite vir my gewees het as jy beter voorbereid was op die lewe hier.”

Sy smeer lipglans aan haar lippe en frons vies toe sy na hom kyk. “Jammer, vir die ongerief,” sê sy sarkasties. “As ek kon kies, het ek eerder Lakana toe gevlieg en nie saam met jou in daai stuk rammelkas gery nie!”

“Likoma.”

“Ekskuus?”

“Likoma, nie Lakana nie.”

“Whatever.” Sy sit die lipglans terug in haar handsak en rits dit toe.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s