Saliger deur Dibi Breytenbach

Saliger

Ek is ’n romanse leser in my hart en siel, en spanningsverhale is nie juis iets wat ek sal aanpak nie. Tog het ek die voorreg gehad om Dibi Breytenbach se Saliger te lees voor dit gepubliseer is. Saliger was my eerste spanningsroman, en ek sê dankie aan Dibi, want hierdie boek het verseker dat ek nie weer gaan nee dankie sê vir ’n tweede of selfs derde hap van die spanningsgenre nie (Madelein Rust, Chanette Paul, Peet Venter, Martin Steyn en Deon Meyer is reeds op my groeiende lysie van moet-nog-lees-boeke).

Dibi skryf met ontsag oor ’n tema wat te dikwels in die samelewing voorkom: kinderverkragting. Maar swaarmoedig is Saliger nie, want Dibi kry dit reg om die goue middeweg te loop van humor, sonder om die erns van die tema te ondermyn.

Amalia Abrieu, die hoofkarakter, is ’n siniese aanklaer met ’n sterk sin vir geregtigheid. Sy spesialiseer in die vervolging van kinderverkragters. Ten spyte van alles wat sy aanskou is Amalia nie verbitterd nie en haar empatie met haar kliënte is eg. Maar sy is moedeloos met die onreg en ongeregtigheid wat soms deur die gereg oorgesien word.

Dibi wys met haar karakters, veral Mbali – ’n klein dogtertjie wat deur haar ma se kêrel verkrag is, hoe die regstelsel en sy verteenwoordigers dikwels die slagoffers in die steek laat. In een toneel bring Mbali se ma vir haar ’n pak slaptjips vir middagete en vir haar kêrel ’n pakkie sigarette. Hierdie woordelose ondersteuning van die man wat haar dogter verkrag het, wys hoe die slagoffer eerder as die misdadiger dikwels deur die samelewing verhoor word.

My empatie met Mbali se saak het my laat besef hoe maklik dit is om ‘n vigilante tot held te vereer. As die regstelsel misluk, is eie gereg dikwels aanloklik. Is dit so ‘n slegte ding as iemand hierdie misdadigers dood maak? Het hierdie misdadigers regtig nog die reg op ’n regverdige verhoor? Wie sal hulle mis as hulle weg is?

Wat maak ’n kind aantreklik vir hierdie misdadigers? Saliger gee nie antwoorde nie, dit vertel egter ’n goeie storie wat ’n afgryslike misdaad met empatie aanspreek en jou as leser laat dink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s