Pajamadril vir Kael – Dina Botha

pajamadril vir kael_hoë res

Soos elke ander oggend is haar heel eerste gedagte aan Julian. Sy het drie-uur laas opgestaan vir sy voeding en dis nou seweuur. Sou die knapie deurgeslaap het? Sy trek haar kamerjas aan wat al hoe minder soos die Orosmannetjie s’n voel en loop kaalvoete na sy kamer. Verbaas steek sy in die babakamer se deur vas. Kael is besig om Julian se doek te ruil. Altans, dis wat hy probeer doen. Julian skop sy beentjies in die lug en Kael probeer dit terug in ’n weggooidoek kry.

“Kêreltjie, ek kan net dink hoe dit moet voel om van so ’n nat doek ontslae te wees. Ek sou waarskynlik ook my bene so rondgeskop het, maar nou moet jy eers ’n bietjie saamwerk.” Kael hou die skoon doek in die lug. “Watter kant is nou eintlik voor? En waar maak die ding vas? Weet jy dalk?”

Onverklaarbaar vul Jenna se hart met vreugde en ’n warm toegeneentheid tot Kael. “Voordat jy ’n video vir doekomruil op die internet gaan soek, laat ek jou wys.” Sy skuif langs hom in en neem die doekie by hom. Sy glimlag tergerig op na hom. “Môre, Kael, lekker om pajamadril te doen?”

“Môre, Jenna, dit kan lekker wees as jy net weet hoe dit gedoen moet word.”

“Laat ek jou dan wys. Eers vee ek sy boudjies mooi skoon met die lappies af. Ek smeer ’n bietjie van die boudjiesalf op wat sy boudjies gaan beskerm as hy later … eh … ander goed doen. Die strokie met karretjies kom voor en jy trek net die stukkies papier af en plak die doek só vas. Maklik, nè?”

“Oukei, ek weet nou hoe die doek werk. Ek sal nou die res doen, baie dankie,” sê hy en stoot haar met sy heup effens weg. Sy boog haar wenkbrou vraend op maar laat hom nogtans begaan. Hy sukkel met die drukkertjies tussen die beentjies maar uiteindelik draai hy triomfanlik na haar toe. “Sien? Piece of cake. Wat was dit?” vra hy toe hulle ’n ander verdagte geluidjie hoor.

Jenna lag. “Dit was Julian se nommer twee. Noudat jy weet hoe dit werk, kan jy verder oefen. Ek gaan vir ons koffie maak.”

“Wag! Jy kan my nie net so los nie.”

“Hoor ek paniek in jou stem, meneer Roothman ?”

“Nee, natuurlik nie. Jy is reg. As ek dit eendag perfek wil doen, moet ek oefen.” Hy stoot sy hand effens moedeloos deur sy hare en sy vind die gebaar dierbaar.

“Oukei, Julian. Ek kan nie sê dat ek beïndruk is nie, maar … e … goed gebeur. Geen gebeentjieskoppery as ek hierdie een doen nie, hoor jy?”

Jenna wil vreeslik graag bly en toekyk, maar sy is bang hy verander van plan en sê nommer twee is haar verantwoordelikheid. Tog, terwyl sy koffie maak, is haar ore gespits vir enige beweging in die gang.

“So ja, so goed soos nuut,” sê Kael toe hy Julian die kombuis binnedra. Haar seuntjie lyk piepklein in sy sterk arms. Hy maak egter klein kermgeluidjies en Kael hou hom na haar toe uit. “Ek dink hy is honger en daarmee kan ek hom nie help nie. Gaan gee hom kos, ek sal vir ons ontbyt maak.”

’n Rukkie later stap sy die kombuis binne. Kael kyk op waar hy by die bedieningsblad op haar wag.

“Slaap hy?”

Sy knik. “Jy het so ingedagte gelyk toe ek inkom. Waaraan het jy gesit en dink?”

“Aan die lewe en die snaakse draaie wat dit met ’n mens maak.”

“Draaie?”

“Twee maande gelede het ek nie kon dink dat ek vandag hier sou sit nie. Nou is ek hier. Ek het pas vir die eerste keer ’n babadoek omgeruil en dit oorleef. Dan praat ek nie eens van die feit dat ek my eerste bevalling beleef het nie. My lewe in Johannesburg lyk skielik so saai en vervelig.”

“Jy vergeet dat jy ook ’n paar misdade gepleeg het – die druiwe wat jy gesteel het en die rooi lig wat jy geïgnoreer het,” herinner sy hom met ’n glimlag.

Kael glimlag terug en die troebel uitdrukking in sy oë los heeltemal op. Toe raak sy gesig skielik weer ernstig. “Jenna, ek weet dis dalk baie om te vra maar is dit oukei met jou as ek ’n rukkie langer hier by julle twee vertoef?”

Haar hart klop skielik vinniger. Hoe lank is die rukkie waarvan hy praat? “Om jou sakeplan uit te voer?”

“Nee, ja. Nie net om ’n nuwe besigheid hier te vestig nie, maar om julle twee beter te leer ken. Te ondersteun – soos wat Julian dit sou doen.”

Daar het sy haar antwoord. Kael ondervind maar net ’n bietjie misplaaste verantwoordelikheidsin. Sy wil sê dis nie nodig nie, maar sy kry nie die woorde so maklik uit nie. Iets diep verborge in haar sê sy moenie oorhaastig met haar antwoord wees nie. Kael raak ’n bietjie bekommerd, sien sy toe sy so lank vat om te antwoord.

“Ek sal nie ’n las wees nie en ek sal my deel betaal.”

“Jy weet goed dis nie nodig nie. En jy betaal reeds meer as wat jou deel sou wees,” help sy hom vinnig reg.

“Nou wat keer jou om ja te sê?”

Sy is bang sy raak te geheg aan hom. Nee, eintlik weet sy dit is reeds aan die gebeur. Sy gaan hom mis wanneer hy ook al besluit om weer weg te gaan, maar niks daarvan kan sy prontuit erken nie. Nie voordat sy die diepte van haar gevoelens onder ’n vergrootglas ontleed het nie.

“Ek huiwer want ek het nie gedink jy sal wil bly nie. Julian is jou broer se seuntjie en ek kan verstaan dat jy half en half ’n verpligting teenoor sy nagedagtenis voel, maar dis iets wat een of ander tyd sal oorwaai. Jy kan nie vir altyd vir ons verantwoordelik voel nie, en as jy te lank hier bly, kan ek maklik van jou afhanklik word en jy dalk te geheg aan Julian raak.”

“Ek luister en verstaan elke woord wat jy sê. Jy is bang ons word ’n hegte gesinnetjie, en as ons weer uitmekaar gaan, gaan dit nie lekker wees nie. Maar is dit so ’n vreeslike ding om my deel van daardie kringetjie te maak?”

“Maar net vir nou?” vra sy ernstig.

“Ja, al is dit net vir nou. Ek het dit nou in my lewe nodig.”

Dit was daar, net vir ’n vlietende oomblik, maar sy het die pyn diep agter sy oë gesien voordat hy dit agter vernoude ooglede probeer wegsteek het.

“Hoekom?” dring sy skielik ’n bietjie hardekkig aan. Sy wil, nee sy móét meer van die enigmatiese man voor haar weet.

“Jenna, daar is goed in my lewe waarop ek nie trots is nie. Ek het vir ’n lang ruk saam met ’n harde ongenaakbare mens geleef en elke oggend in die spieël ’n man gesien wat nie geweet het hoe om te vergewe nie. Of om te vergeet nie. Jou klein seuntjie het my laat besef dat nuwe lewe belangriker is as jare se haat en woede. Enige iets kan vergewe word as jy net wil probeer. En ek probeer hard, glo my.”

Alarmpies loei in haar kop. Vir dié man moet sy in haar spoor trap. Sy harde uiterlike en sy sagte innerlike is ’n dodelike kombinasie vir enige vrou, en al voel sy nou alles behalwe na ’n begeerlike vrou, roer hy hartsnare wat liefs nie aan geraak moet word nie.

“As jy so ernstig daaroor voel, gee ek nie om nie. Maar ek moet dit

duidelik maak. Dis net tot ek behoorlik op die been is. Daarna lei ek weer my eie lewe soos ek daarvan hou, ’n loewe wat net uit my en Julian gaan bestaan.”

“Dankie, dis goed genoeg vir my.”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s