Pluimpie vir Dina Botha – MONIQUE BISSCHOFF

Middernagminnaar (hoëres) Nommerpasmeisie (Hoëres)pajamadril vir kael_hoë res

Ek lees nie Romanzas nie. Ek verslind dit. Amper soos wat ’n vraatsugtige mens nie eet nie, maar vreet, so dryf my leeslus vir enige liefdesfiksie my om die een na die ander boek te verslind. Sonder ophou, die een na die ander.

Ek het een Sondagmiddag byvoorbeeld drie Romanzas na mekaar opgevreet. Eh…lees.

Dus kan ek myself, sonder om onnodig beuel-blaserig te klink, ’n kenner op die gebied van Romanzas noem. En daarom wil ek vandag vir Dina Botha uitsonder as ’n skrywer in die Romanza-genre wat my verwagtinge keer op keer oortref! Haar wonderlike skryfstyl, gekombineer met haar manier om sulke volronde karakters te skep, beïndruk my grensloos. En dan kry sy dit boonop nog reg om hierdie manlike helde te skep wat eerstens altyd anders en uniek is – geen held is ooit twee maal dieselfde in ’n Dina Botha Romanza nie! – en tweedens my elke slag opnuut verlief laat raak. En ek praat hier van ernstige verliefde sake, soms soveel dat ek skoon spyt is ek staan op trou!

Ek vind haar karakters nooit geforseer nie. Die taalgebruik is modern, dog keurig. Die warm tonele is kokend en smaakvol en vaderland, haar manne is genoeg om jou slapelose nagte te gee!

Na ek Middernagminnaar gelees het, is Dubai nou summier op my lys van vakansiebestemmings. Ek weet nie of Dina self al in Dubai was of nie, maar dit blyk so, want haar navorsing is deeglik gedoen – ’n mens kan amper die kamele se stinkende asems proe, so eg is dit.

En dan in Nommerpasmeisie skryf Dina een van die mooiste, eerlikste stories wat ek al ooit in ‘n Romanza raakgelees het: hier is ‘n man wat sonder die gewone buffel-tegnieke, die heldin se hart kom verower. Veral nou met die Grey-hype is so ‘n sagte held meer as welkom, veral omdat my eie ware held ook so ’n sagte man is. Viva, die gentleman!

Ek kan Dina se Middernagminnaar en Nommerpasmeisie hoog aanbeveel. Beleef die emosie.

Ek hoop van harte Dina lees hierdie gedeelte en besluit om ‘n vollengte enkeltitel te skryf, want dit het ek wel teen haar boeke: ‘n Romanza hou darem wraggies net nie lank genoeg aan nie. Soos ‘n uitgehongerde vraat soek ek (altyd) nog!

2 thoughts on “Pluimpie vir Dina Botha – MONIQUE BISSCHOFF

  1. Annette Smit says:

    Ek behoort aan die Romanzaboekklub vandat hul 10jr terug begin het. Ek het elke maand al 4 boeke gekoop. Met elke Dina Botha se nuwe boek wat verskyn het, kon ek dit nie vining genoeg lees nie. Ek hou van haar karakters. Lekker toonkrul boeke. Doen so voort Dina.

Leave a reply to Annette Smit Cancel reply