Sy liefdesplan – Ronelle Uys

sy liefdesplan_hoë res

Voor haar kas gaan staan sy en kyk elke uitrusting noukeurig deur. Sy kies ‘n bedrieglik eenvoudige sagte groen linnerok. Daarby trek sy haar ouma se effens donkerder groen hoëhak sandale aan. Nadat sy haar hare droog geblaas het, grimeer sy liggies en hang haar ouma se stringtjie wit pêrels om haar nek en sit die bypassende oorbelle aan haar ore. ‘n Laaste blik in die groot spieël bevestig dat sy goed lyk. Sy tel die papiere sorgvuldig op en rangskik hulle in korrekte volgorde. Onder in die kombuis los sy die twee teësinnige honde. Voor die toe studeerkamerdeur huiwer sy effens. Trek dan senuweeagtig aan haar rok. Hoekom het sy nou eintlik so aangetrek? Dan klop sy hard en beslis aan die deur en maak dit ferm oop.

Dis toe nie Jason agter die lessenaar nie, maar Janneman. Waar kom hy so skielik vandaan? Hy staan ewe galant op en kom trek die stoel voor die lessenaar vir haar uit. Sy gaan sit terwyl haar oë alles rondom haar inneem.. Toe nie so ultra modern soos sy verwag het nie. Haar ouma se informele stinkhoutsitkamerstel is ewe knus in die een hoek rangskik. Agter die lessenaar staan ‘n groot swarthout kas met dubbele deure wat sy nie ken nie. Sy is bly hulle sit by die lessenaar, en nie op die gemakstoele nie. Dit is nie ‘n vriendskaplike besoek nie.

“Waaraan het ek die besoek te danke, Katryn?” Hy laat rus sy arms op die lessenaar. Sy oë lyk moeg. Sy das sit effe losgewoel om sy nek en die moue van sy spierwit hemp is slordig opgerol. Skeer die man dan nooit nie, want as sy hom sien, huiwer daar ‘n dagoud baardskynsel op sy gesig.

Sy plak die klomp papier onordelik voor haar op die lessenaar, vou haar arms en kyk hom direk in die oë. Basta hom sit en jammer kry. Laat ons sien wat hy vir homself te sê het.

Met ‘n effense opflikkering in sy oë skuif hy regop en leun terug in sy stoel. “Wat wil jy weet, Katryn?” Hy vee moeg oor sy stoppelbaard.

Hoekom speel haar emosies vandag met haar parte? Sy is gewoonlik vreeslik kwaad, briesend, vies vir hierdie man as sy in sy teenwoordigheid is. Al wat sy nou vir hom voel is jammerte. Selfs ‘n tikkie bekommernis, want sy het hom nog nooit so gesien nie. Gestroop van enige arrogansie of buffelagtigheid. Sy trek die soom van haar rok oor haar knieë. Hoekom voel sy ewe skielik sy is heeltemal onvanpas aangetrek vir hierdie gesprek? Toe sy opkyk in sy oë en ‘n flikkering van spot daarin sien, verdwyn die gevoel van jammerte en bekommernis summier.

Sy sit regop. “Wat probeer jy bereik met hierdie klomp nonsens wat jy ‘n ooreenkoms noem?” Haar stem verbasend sterk. “En die dreigement aan die einde?” Nou sukkel sy om haar stem gelykmatig te hou. Hoekom voel sy lus om te huil? Dalk omdat sy Rosendal vir altyd kan verloor? Definitief nie oor sy die stupid man hier voor haar jammer kry nie. “En wat kry jy uit die transaksie as ons trou? Jy is nie sommer iemand wat iets doen sonder om die beste daarvan af te kom nie.” Die grinnik op sy gesig word ‘n glimlag. Oe! Sy wens hy wil nie so vreeslik aantreklik lyk as die lagplooitjies so langs sy oë dans nie.

Hy vou sy arms gemaklik agter sy kop en leun nog verder terug in sy stoel. “Ek weet nie hoekom jy so ontsteld is nie, Katryn. Dis regtig ‘n wen-wen situasie.” Sy gesig nou ernstig. “Ek dink eintlik baie meer tot jou voordeel as myne. Dink net, die hele Rosendal met al die verbeteringe wat ek gaan aanbring kan joune wees oor net een jaar. Jy sal hier in rus en vrede kan bly.” Hy maak die boonste laai in sy lessenaar oop en haal ‘n pen uit wat hy vir haar aanskuif.

Sy kyk na die pen asof dit ‘n Kaapse kobra is wat haar enige oomblik tussen die oë gaan spoeg. “Hoekom dan trou?” Haar stem hees.

Nou sit hy regop en kyk haar stip in die oë. Die moegheid op sy gesig weer duidelik sigbaar. “Ek is moeg daarvoor om alleen na gesellighede te gaan. Ek soek ‘n aantreklike intelligente metgesel, no strings attached. Is dit te veel gevra?”

Sy kan skaars glo hy dink sy is aantreklik en intelligent as jy die geskiedenis tussen hulle twee in ag neem. Hy kon haar nooit kleintyd verdra nie. Vanaf die oomblik dat hulle weer in mekaar se geselskap is, het hy dit duidelik gemaak dat sy eintlik net ‘n lastigheid is wat sy planne deurmekaar krap. “Dis eintlik ‘n belaglike rede. Daar is seker rye en rye geskikte kandidate oor die hele aardbol wat maar té gewillig sal wees om hierdie portefeulje te vul.” Sy kan nie glo haar stem klink nou weer so normaal soos altyd nie. “Dan is Rosendal maar net nog ‘n saketransaksie, niks meer nie en ook niks minder nie.” Die sarkasme los ‘n bitter smaak in haar mond.

Sy gesig word ‘n harde masker. “Net ‘n laaste punt. As jy nie nou teken nie, word die koopkontrak dadelik opgestel.”

Sy soek verniet na netnou se glimlag. Die man is sowaar doodernstig. “Hoekom skielik so drasties?” Sy soek vervaard in haar gedagtes na uitkoms, maar verniet. Haar verstand het toegeslaan soos ‘n vars gesaaide land na ‘n hewige donderstorm.

“Noem dit maar die wispelturigheid van die manlike spesie, Katryn.” Sy gesig word ‘n harde masker. “Onthou ek het Spencer en Spencer agter my.”

Sy tel die papiere versigtig op. Haar hande bewe merkbaar. Sy lees weer elke woord stadig deur. Sy kyk op in sy gesig, opsoek na ‘n teken dat sy nie nou hoef te besluit nie. Maar die uitdrukking op sy gesig, is so hard soos graniet. Daar is wragtig vir haar geen ander uitweg nie. Dan tel sy die pen op en teken en parrafeer haar naam met ‘n vaste hand. Toe sy opkyk verbeel sy haar dis verligting wat sy in sy gesig sien.

Stadig staan sy op, maar te bly haar lam bene kan haar by die studeerkamer uitdra. By die deur draai sy om. “Jy was baie seker dat ek sou teken, né.” Haar stem dik van sarkasme. Dan maak sy die deur sag toe, al voel dit vir haar sy kan die deur uit sy kosyn moker en so die selfvoldane glimlag van sy gesig afvee.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s