MONIQUE BISSCHOFF praat oor Prooi

IMG_3716 IMG_3720 Prooi

Ek sit hier en skryf teen ongeveer ’n 180 km per uur. Want dit is spoed waarteen hierdie boek geëindig het en ek het nou nog nie van die rollercoaster afgeklim nie.

Soos ’n jagter sy prooi bekruip en dan verslind, so oorrompel Fanie se eerste(!) spanningsroman jou: teen ’n gemaklike, betaamlike pas trek hy jou in en maak hy jou mak. Maar dis nie lank nie of hierdie boek gryp jou en maak met jou wat hy wil.

Ontmoet drie karakters. Elkeen sterk, elkeen ’n bietjie deur die lewe geknak, maar elkeen besig met ’n spel wat ewe gevaarlik, dodelik, is.

Cody, die seks-op-’n-stok ou wat graag jag maak op mooi meisies. Op sy motorfiets flits hy deur die strate van Kaapstad: vinnige spoed en vinnige meisies, en wanneer die meisies vervelig raak, stel hy sy fisier op ’n nuwe prooi, een wat hom net-net bly ontwyk…

Vir Owen het die lewe tot dusver nog net harde slae toegedien. Maar daar is niks wat hy nie met sy brute krag en fenomenale vuiste kan regslaan nie. En soos Coach Jeremy sê: om swak te wees, is ’n keuse.

En dan is daar Lauren. Onmoontlik-sexy, sterk en verloklike Lauren. Soos ’n dodelike kat-en-muis spel, tart sy die mans in haar lewe: eers prooi, dan jagter, wissel sy die rolle af. Maar met elke nuanse van die spel is sy minder en minder in beheer en dartel sy al verder oor die afgrond…

Totdat die kake van die slagyster  finaal toeknal en jagter en prooi mekaar uiteindelik vierkantig in die oë moet kyk. Maar wie lê uiteindelik uitgelewer, verstrengel in die kloue van die genadelose strik?

Soos wat ’n spoorsnyer berekend en geduldig ’n roete fyn uitwerk en sorg dat hy, sonder slordige of oorhaastige besluite netjies op die spoor van sy prooi bly, so, voel dit vir my, het Fanie sy storie sorgvuldig en noukeurig beplan en uitgevoer: intens, bedwelmend en met trefkrag.

En dan is daar die naam van ’n klub wat telkens opduik: wat is Black Valentine? Legende of werklikheid?

Vir die terloopse leser sal hierdie boek soos ’n Hollywood lokettreffer lees. Genoeg aksie om die bloed te laat pomp, sexy genoeg en macho genoeg om elke denkbare leser te bevredig terwyl bakke en bakke springmielies verorber word.

En vir die noukeurige, kieskeurige leser is daar net soveel om te geniet, want Fanie skryf slim en gesofistikeerd. Sy aanslag is dodelik want wanneer hy jou as leser in sy teiken het, is daar nie wegkomkans nie!

Dis ’n boek vol vuishou-in-die-maag waarhede. Cody as karakter kan ’n studie word vir elke jong meisie op die vooraand van volwassenheid.

“Meisies is vreemd, maar op ’n manier ook voorspelbaar. Jy kan vir hulle die buitelyne gaan van iemand wat hule graag sal wil ontmoet, en hulle sal die prentjie vir hulself inkleur. .. As hulle maar besef dat hoe meer gate hulle moet volmaak in ’n ou se storie, hoe sterker moet die gevaarligte flikker.”

Sy vasberade, meedoënlose jag op elke meisie en die manier waarop hy sy oorwinnings op sy kerfstok aanbring, stuur moontlik rillings langs elke ma se ruggraat af, maar dit is noodsaaklik om te weet hoe ’n roofdier se kop werk, anders word jy dalk sy kos…

Fanie is ook ’n fyn waarnemer van die mens in al sy unieke, pikante  glorie. Soms sorg dit vir hardop-lag oomblikke. Soos wanneer die macho-man van die onderdorp homself in ’n spesifieke winkelsentrum bevind.

“Hy hou nie van sulke shoppies nie. Dis die uithangplek van hipsters en rykgatte, mense wat wil weet of die hoender in hulle low fat-slaai darem ’n lekker lewe gehad het voor sy kop afgekap is. Dis die plek van die wynproewers en die slow food junkies – wat de hel slow food ook al mag wees.”

Maar hoe word ’n slegte ou soos Cody soos wat hy is? Hoe word ’n klein seuntjie met ’n sonbril op sy kop, sy pa se Handsome, dan elke ma se grootste vrees? Soms skep skrywers antagoniste wat reg van die begin van die boek nie ’n kat se kans op katarsis het nie. Die onvergeefbares. Maar nie in Cody se geval nie, want Viljoen het empatie. Dit is duidelik: hy verstáán die psige van die mens.

En vir Owen is daar veel meer op die spel as net sy loopbaan in die gevegskuns: vir hom is Lauren noodsaaklik vir ’n lewe waarin hy uitstyg bo dit wat die noodlot hom toegedeel het. Maar Lauren is ’n rebel en sy val nie so netjies in sy skoot soos wat hy dit beplan het nie. Soos in ’n Griekse tragedie, maak dit nie saak hoe noukeurig sy beplanning of hoe goed-uitgedink sy volgende skuif is nie, Owen word telkens uitoorlê.

Lauren is uiteindelik die spil waarom alles draai en die katalisator vir ’n reeks gebeure wat niemand kon sien kom nie.

Fanie bepaal hom so wonderlik by sy genre, want hoewel die boek deurtentyd spanning opbou en die verhaal teen ’n verslawende pas voorstu, swig hy nooit voor die versoeking om dit in ’n orgie van blood and guts te laat ontaard nie. Dit bly sexy sonder om kru te wees, eerlik sonder om kommin te wees, misterieus, nuut en opwindend.

As daar EEN boek is wat jy moet koop, sorg dat dit Prooi is.

Aan te beveel vir jong-volwassenes, ouers en oues – daar is iets vir almal.

Met ’n spanningsromandebuut soos hierdie gaan Fanie Viljoen die stapels nog laat ophoop!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s