STRUIKEL OOR LIEFDE – Rika du Plessis

struikel oor liefde_hoë res

“Dankie. Jy kan maar kyk of in die huis ‘n bruikbare bed onder al daardie plastiektoegemaakte goed is. Dis in ruil vir die enigste skoon, netjiese kamer in die hele plek,” antwoord sy toegeeflik.

“As jy vir my oopsluit sal ek gou kyk, dankie. Ek het die huis se sleutels vir die prokureur gaan teruggee toe ek besluit het om nie die huis te gebruik nie. Behalwe die stoepkamer s’n waarvan jy ook een het. Hier is myne.”

Sy neem dit by hom. Eintlik het sy verwag hy gaan haar aanbod van die hand wys, en nou is sy aangenaam verras deur sy rustige antwoord. Sonder ‘n woord stap sy na die voordeur toe en sluit dit oop.

“Kan ek jou dalk help?” vra sy toe hy die huis binnegaan.

Hy draai om en kyk haar op en af aan.

“Dit sal gaaf wees,” antwoord hy steeds rustig, té rustig, want in sy oë voer die liggies ‘n tergdans uit. Nogtans stap sy agter hom aan, maar sê niks.

Sy gril vir die spinnerakke wat sliert op sliert deur haar gesig vee, en kyk nie waar sy loop nie. Toe haar hoë hak skoen skielik onder haar meegee, gryp sy wild in die lug en kan die skril gil nie keer wat oor haar lippe bars nie. Sy beland op haar rug op ‘n toegedraaide meubelstuk en sink weg tussen stofwalms in die opgeblaasde plastieksak wat met ‘n knal onder haar gebars het.

“Lianda,” roep Chris verskrik, bly ‘n rukkie stil en begin toe sag lag. Sy loer vir hom tussen die stofwalms deur, beur vererg orent en sit om haar en rondkyk.

“Dis ongemanierd om vir ‘n vrou te lag wanneer sy val,” krys sy vies.

Hy lag steeds, maar bied haar tog sy hand aan. Sy wil dit eers weier, maar toe neem moedswilligheid oor. Met drif gryp sy sy hand en ruk so hard sy kan. Hy tuimel langs haar neer, en nogeens is hulle in digte stofwolke gebaai.

“Jou klein heks,” roep hy en gryp na haar, maar sy is blitsig op haar voete, en nou staan sy vir hom en lag. Hy nies twee keer heftig voor hy opstaan. “Ek wens jy kan sien hoe jy nou lyk. Glad nie die deftige filmsterretjie wat netnou hier aangekom het nie,” sê hy, buk en pluk die stuk plastiek van die bed voor hom af. “H’m heel bruikbaar,” mompel hy toe hy buk en die bed oplig.

Sy koes toe hy die bed in die deur se rigting swaai en sommer aanstap daarmee en die een punt haar rakelings mis.

“Genugtig, mansmens, wil jy my nou uit die aarde loop?” brom sy toe sy haar ander skoen ook uitpluk en agter hom aanstap na buite. Daar staan en bekyk sy haar een ontwerpers skoen waarvan die hak morsaf gebreek het.

Chris sit die enkelbed op die stoep neer voor hy dit hierdie keer tot bo sy kop lig en daarmee na sy rondawel toe stap.

“Ek sal nou my klere uit die kas kom haal,” roep hy oor sy skouer, en sy stap kopskuddend na die buitekamer toe. Geskok kom sy tot stilstand voor die groot spieël teen die muur. Nog nooit het so só vuil en verslons daar uitgesien nie. Sy vee oor haar gesig waar net twee blink oë sigbaar is tussen die dik stoflaag. Spinnerakke sit in grys klonte in haar hare vas.

Of dit die komiese figuur is wat uit die spieël na haar terugstaar en of sy nou ‘n bietjie histeries is weet sy nie, maar ‘n onkeerbare giggel bruis in haar op en sy begin lag. Eers sag en toe al harder tot fyn traantjies uit haar oë loop en nat modderstrepe oor haar wange maak, en die lag in sagte snikke oorgaan. Sy sak net daar op die vloer voor die spieël neer toe sy stil word.

“Voel jy nou beter?” vra Chris agter haar en haar kop ruk op. Hy staan in die deuropening na haar en kyk. Leeg getap van alle emosies, kyk sy na hom sonder om hom werklik raak te sien. Ongedurigheid rank in haar op toe sy na etlike sekondes opstaan. Sy stap tot voor hom, en haar stem is koud toe sy praat.

“Net omdat jy die plek huur, en ek in die huis woon, beteken nie jy kan sommer instap hier net waar jy wil nie.”

“Jammer, maar ek hét gesê ek kom my goed uit die kas haal,” antwoord hy stug, stap by haar verby en maak die kasdeure oop. Hy stroop die klere met hangers en al van die hangplek af, en die los goed op die rakke gooi hy in ‘n leersak wat oor sy skouer hang. Sonder om weer na haar te kyk of enigiets te sê, stap hy by die deur uit.

Lianda sug. Haar ongedurigheid het ‘n rede. ‘n Vreemde man het haar sien huil, en haar in ‘n moedelose bondeltjie op die grond sien sit. Dis so lankal wat sy enige emosies teenoor al wat mens is probeer wegsteek, daarin geslaag het, en hier kom hy en aanskou haar op een van haar laagste oomblikke.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s