Spioen vir die liefde – Elsa Hamersma

Spioen vir liefde (hoëres)

Sy staan met die ongeskikte man se twee arms om haar, besef sy. Dit sal nie deug nie. Tentatief trap sy op die voet wat seergekry het en gil dan onwillekeurig. Dit voel asof sy op ’n spykerbed trap en haar voet op baie plekke deurboor word.

“Jy kan nie op daardie voet trap nie!” waarsku hy en gryp om haar regop te hou.

Dié keer leun sy dankbaar teen hom aan en klem sy sagte trui in haar vuiste. Vir die oomblik sal hy as haar stut moet dien. “Dis die hond. Ek hou nie van jou hond nie,” kry sy eindelik sukkelend uit.

Sy donker wenkbroue spring omhoog. “Maxie? Hy is ’n afgetrede dienshond. Hy het jare lank ’n blinde oom gelei.”

“Dit mag dalk so wees, maar ek hou nie van herdershonde nie,” sê sy en klou stywer aan sy trui vas. Haar tande slaan opmekaar en ’n gevoel van duiseligheid laat haar kop draai.

“Max, huis toe,” sê hy ferm vir die hond. “Ek sal jou boontoe moet help. Moenie op jou regtervoet trap nie,” sê hy vir Katryn.

“Liewer onder toe. Na my motor toe.”

“Jy sal nie nou kan bestuur nie, poppie. Hierdie enkel van jou is slegte nuus.”

“Waar’s my handsak en my sandale?” vra sy en kyk verward om haar rond.

Sonder om sy ondersteuning weg te vat, tel hy haar handsak wat eenkant lê op en gee dit vir haar. Daarna hark hy iets met sy voet nader wat nog verder lê en hou dit na haar toe uit. “Is dit die sandale waarvan jy praat?” Hy hou een sandaal voor haar. Die hak is stomp afgebreek en die enkelband geskeur. “Nie eintlik die regte skoene vir ’n reëndag en om steil paadjies mee te klim nie.”

Katryn vat die gebreekte skoene sonder ’n woord by hom en druk dit in haar groot handsak. Daar gaan die helfte van een maand se salaris, dink sy. Haar verjaarsdag geskenk aan haarself. Wat sy nou in die asblik kan gooi.

Met sy arm stewig om haar lyf, probeer sy op haar linkervoet van trap na trap spring.

“Dit gaan nie werk nie,” sê hy na ’n paar sekondes, druk sy arm onder haar knieë in en tel haar op. Sy hou haar oë toe terwyl hy haar teen die steil paadjie uit dra. ’n Warmte sypel onverwags in haar lyf en gemoed in. Wanneer laas het sy so styf teen ’n man se bors gelê en sy hart so digby haar oor hoor klop? Ongeskikte buffels se harte klop net so reëlmatig soos gewone mans s’n en hulle lywe is ook warm, kom sy agter. En dit is lekker en gerusstellend.

“Wag hier,” beëindig sy stem haar gedagtegang. Hy sit haar op ’n stoel neer, druk ’n koffietafel versigtig onder haar seer voet in en verdwyn deur ’n binnedeur.

Haar arm is nerfaf en brand soos vuur, maar die grootste skade is aan haar been. Met afgryse sit sy en kyk na die skrape en snye en haar enkel wat amper siende oë groter swel en verkleur. Haar kleefbroek is geskeur en swart van die modder. Nog iets wat sy in die asdrom moet gooi.

Oomblikke later is hy met twee pakke bevrore ertjies terug wat hy in vadoeke toedraai en weerskante van haar voet vasdruk. “Seer?” vra hy.

Sy sou dit graag wou ontken, maar sy weet dat hy dwarsdeur haar gaan sien.

“En jy’s Katrien?”

“Katryn,” prewel sy, “Katryn Britz.”

“Nou kyk, Katryn, Katrien, wat ookal, jy was vandag ongenooid op my privaat eiendom. Ek neem dus geen aanspreeklikheid vir jou beserings nie. En my hond ook nie. Jy het op die nat, onewe paadjie in simpel skoene probeer loop en die gevolg is dat jy nou by mediese hulp moet kom vir X-strale. As daar nie ’n fraktuur is nie, sal jou enkel nietemin verbind moet word. Het jy mediese dekking?”

“Ja.” Sy vroetel in haar handsak wat sy steeds teen haar vasdruk en kry haar beursie waarin al haar kaarte is. Sonder ’n woord hou sy haar mediese fonds se kaartjie na hom uit.

Hy kyk net vlugtig daarna. “Bring dit saam. Ek sal jou ongevalle toe vat, maar die naaste hospitaal is meer as vyftig kilometer van hier af. Gelukkig nie grondpad nie.”

Hy help haar tot in die motorhuis en maak haar gemaklik, of so gemaklik as wat sy onder die omstandighede kan wees, op die agterste sitplek van ’n swart monsterbakkie met haar voet bo-op twee kussings. Hulle ry eers die steil afdraand straat toe en toe verder na die hospitaal op die volgende dorp.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s