Ons twee saam – Louise Minnaar

Ons twee saam (hoëres)

Daar is ‘n vinnge klop aan die deur, maar die besoeker wag nie vir ‘n antwoord voor die deur oopswaai nie.

Elize kyk effens gesteurd op en voel dadelik ongemaklik toe sy sien wie die besoeker is.

“Môre, môre! Gaan alles nog goed hier?” vra Edwin. Hy lyk so aantreklik soos altyd.

“Ja, dankie, ek dink ons vorder goed,” antwoord Elize met ‘n glimlag. Sy voel hoe haar hart haar alweer verraai. Wat is dit met haar?

“Ek is nog besig om vir julle op te volg oor die voorraad.” Edwin kyk direk vir Elize terwyl hy praat, asof die res van die mense glad nie bestaan nie.

“Dankie, laat weet maar wat jy uitvind.” Sy hoop maar dis nie duidelik hoe ongemaklik sy voel nie. “Ek wil dit nog met Johan bespreek. Hy behoort ook vrae te hê.”

“Dis goed. Ek sal net verkies om met jóú kop te stamp, eerder as met Johan,” sê hy tergend.

“Hoekom? Is jy bang vir Johan?” vra Elize braaf.

“Nee, dis net so lekker om met jou kop te stamp!” antwoord Edwin tergend.

Elize voel haarself bloedrooi bloos. Sy is dadelik spyt dat sy iets gesê het. Hoekom kan sy nie net stilbly nie? Sy kan net raai wat die res van die span moet dink. En uit die aard van die saak kan sy sien hoe die jongmense dit geniet!

Megan is die enigste een in die span wat hardop lag, “Dit kan nogal interessant raak.”

Toe Edwin sien dat Elize nie gaan antwoord nie, sê hy, “Julle het geen ander probleme nie?”

Almal skud net hulle koppe.

Elize mompel ‘n, “Dankie Edwin.” Sy is self nie seker waarvoor sy dankie sê nie. Simpel man. Dankie dat hy haar so ongemaklik laat voel of dankie dat hy haar soos ‘n moroon voor haar span laat lyk.

‘n Oomblik later kry Elize ‘n sms, Jammer, kon nie help nie – dis so lekker om jou te sien bloos. E

Vir ‘n oomblik kan Elize nie help om te glimlag nie. Sy het nie Edwin se nommer op haar foon gehad nie en is bly om dit nou te kan stoor – vir ingeval sy dit ooit nodig kry.

“Elize?” Eric wag tot sy opkyk voordat hy verder praat. “Het jy toe met Edwin gepraat oor die voorraad? Ek het gedog jy kon hom nie in die hande kry nie?”

Elize sug, hoekom karring Eric nou hieraan?

“Ek het nog gou Vrydag met hom gepraat,” antwoord Elize. Tegnies is dit die waarheid, probeer sy haarself troos. Daar is egter geen manier dat sy aan die span gaan erken dat sy saam met hom gaan eet het nie.

Die ouditkamer-telefoon lui. Alicia antwoord en hou dan die telefoon na Elize toe uit. “Edwin,” is al verduideliking wat sy bied.

Elize vat die telefoon by haar en voel haar hartklop versnel.

“Elize wat praat,” sy maak effens keelskoon toe sy hoor haar stem klink effens krakerig.

“Elize, kan jy dalk gou na my kantoor toe kom?” Geen asseblief nie.

Kon hy nie maar net vir Alicia gevra het om haar na sy kantoor toe te stuur nie? As hy haar nou regtig moet hiet en gebied. Elize staan traag op. Mens raak maar gewoond daaraan om na die kliënte se pype te dans.

“Elize, sit solank.” Hy kyk skaars van sy laptop skerm af op toe sy inloop.

Hy lyk net so ernstig soos wat hy oor die telefoon geklink het, let Elize op. Die terggees, wat sy partykeer so verwens, is glad nie teenwoordig nie.

“Ek het nou met die vloerbestuurder gepraat,” draai hy terug na haar toe. “Sy reaksie was ‘Watter voorraad?’ Hy weet absoluut niks van die pille wat Eric gesien het nie.”

Elize kyk hom effens geskok aan. Dis nie presies wat sy verwag het nie – sy het gehoop hulle gaan met die eenvoudigste, logieste verklaring vorendag kom. Edwin lyk self effens verbaas. Of verbeel sy haarself?

“O, uhm,” is al wat Elize uitkry. Sy begin skielik ongemaklik voel. As hier bedrog aan die gang is, sal hulle versigtiger moet wees. Om mee te begin, nie te familiêr raak met die finansiële direkteur nie.

Elize probeer dink wat sy in hierdie situasie moet doen. Vir die eerste keer wonder sy of Eric nie miskien net ‘n fout gemaak het nie. Maar sy sal nie graag sommer net wil opgee nie, dit is heeltemal teen haar aard.

Sy sal hierdie saak met Johan moet bespreek, besluit sy.

“Ons kan almal saam soontoe gaan en gaan kyk?” vra Edwin toe Elize niks verder sê nie.

“Ja, ek dink ons sal moet.” As Eric reg is, dink Elize, en daar is ongeruimdhede, sal hulle mos nou al van die bewyse ontslae geraak het. Dit sal dus nie veel help om daar te gaan rondsnuffel nie. Maar aan die ander kant, Eric kan hulle dalk wys waar hy dit gesien het. Dalk is daar tog ‘n goeie verduideliking.

“Jy kan geen verduideliking gee vir wat Eric gesien het nie?” vra Elize onbeholpe, desperaat om ‘n maklike antwoord te kry.

Edwin glimlag vir haar reaksie en raak vir ‘n oomblik aan haar hand wat op die tafel rus. “Elize, ek sal self baie graag wil weet wat daar aangaan. Glo my. Ek sal verseker nog ondersoek instel. Ek het net gedink ek hou jou op hoogte.”

“Ek waardeer dit, maar ek raak nou so effens bekommerd,” antwoord Elize eerlik.

Die terg in sy oë is terug, “Die laaste ding wat ek wil hê is dat jy jouself moet bekommer.”

In ‘n poging om professioneel op te tree, ignoreer sy dit en begin aanstaltes maak om te loop. “Hou ons maar op datum. Ek sal dit met Johan bespreek.”

Edwin staan ook op, maar hy lag haar uit, “Lekker bang!”

“Ja, ek probeer professioneel optree, maar jy maak dit baie moeilik.”

“Jy’t begin. Jy maak dit vir my moeilik om op enige iets te konsentreer.”

“Ag, sies tog.” Elize klik haar tong vir hom.

“Duidelik kry ek geen genade of simpatie van jou kant af nie,” sê Edwin gemaak ontsteld.

“Nee, jy kry net ‘n ouditverslag van my af.”

Edwin lag, “Nog ‘n humorsin ook! Alles wat ek in ‘n vrou wil hê.”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s