Vyfsterman – Susan Olivier

Vyfsterman (hoëres)

Darren kom oorkant Janie sit. “Het jy my blomme gekry?” Sy blik vee stadig oor haar en Janie beloon hom met ʼn koel kyk. Vir ʼn man wat aanvanklik nie opgewonde gelyk het om haar te sien nie, is daar nou baie warmte in sy blik. “Ek het, dankie.”

“En?” Nou is daar ʼn uitdaging in sy oë.

“En wat? Ek het mos dankie gesê.”

“Word my verskoning aanvaar?” Hy buig nader. Die skerp sonlig omraam sy gesig. Hy het geel vlekkies in sy donkerbruin oë. Dit het sy nie laas opgemerk nie. Sy hoekige ken verraai iets van sy koppigheid.

Darren kyk afwagtend na haar. Janie ruk haar gedagtes na die hede. Wag hy dat sy iets moet sê? Sy voel hoe haar wange warm word. “Jammer, wat het jy gesê?”

Darren glimlag skeef. “Is my verskoning aanvaar?”

“Waarvoor sê jy jammer? Vir jou optrede teenoor Stef of omdat ek dit moes aanskou?” Sy is aspris moedswillig. Maklik gaan sy dit nie maak nie.

Darren hap aan ʼn appeltertjie. Toe kyk hy haar reguit in die oë. “Alles wat nodig is sodat jy nie meer kwaad is vir my nie.”

“Jy ken my sleg. Ek is nie kwaad nie.”

Hy vee sy mond met ʼn geborduurde servetjie af. Nou bly haar blik op sy lippe. Sy onderlip is voller as die boonste een. Dit gee ʼn sensuele kurwe aan sy mond. Hoe sal hy reageer as sy met haar vinger die lyne van sy mond natrek? Sy wil meer as dit karteer. Ook die skerpheid van sy neus. Die hoek van sy ken. Hoe sal die grein van sy donker baard onder haar vingers voel?

“Het ek nie orals geskeer nie?”

Vies sit sy regop. Die vet weet, sy het weer afgedwaal. Daar is tergliggies in sy oë.

“Wat bedoel jy?” vra sy.

“Is daar iets snaaks aan my gesig? Dalk ʼn vuil kol?”

Janie kyk weg. Hy hou hom verniet so dom. Hy weet sy staar. Die verwaande mansmens geniet haar aandag. “Ek is ingedagte, dis al.”

“O. Is my geselskap vervelig? Wat moet ek doen om jou aandag te behou?” Hy buig nader. Sy naskeer lok haar. Sy lae stemtoon is verlammend. En weer kan sy nie haar oë van sy mond afhou nie. Op die oomblik het sy net een begeerte en dis om sy lippe op hare te voel. Die voorspel in die hysbak het bloot haar aptyt aangewakker.

“Miskien help dit as ek jou soetgoed voer.”

Sonder om te dink, hap Janie die meringuetertjie wat hy teen haar lippe druk. Die oordadige soetheid spoel oor haar tong.

“Dit lyk heerlik.” Hy staar na haar mond terwyl hy die orige tert in sy mond sit.

Oombliklik wens Janie sy kan vooroor buk en hom toelaat om die soet in haar mond te proe. Die gedagte laat haar verskrik terugsit. Nou voer sy haar dagdrome te ver. Hemel, sy ken die man nie eens behoorlik nie. Vir al wat sy weet, is hy ʼn reeksmoordenaar. Oukei, miskien is dit ʼn bietjie oordryf.

“Hoekom het jy vroeg geloop as jy nie kwaad was nie?”

“Ek het die voorval onsmaaklik gevind.” Gelukkig dwing die onderwerp haar tot nugterheid. Sy het dit broodnodig, want sy is besig om heeltemal die pad byster te raak. Dis nie hoe sy is nie. Sy is nie manbehep nie.

One thought on “Vyfsterman – Susan Olivier

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s