Bruid in blou – Thea Holland

Bruid in blou (hoëres)

Agter die toe slaapkamerdeur luister Jess na ’n klompie fisante wat met skor klageluidjies op die kweek voor haar venster wei. Sy sit al geruime tyd hier op die kant van die bed na hulle en luister. Die ring met die roospatroontjie lê op haar handpalm. Sy maak haar vingers toe en fokus op die koel gewiggie. Dit voel soos ’n gelukbringer. ’n Toordingetjie waarmee jy kan wens. Jou troudag anders kan wens, byvoorbeeld. Sy sluit haar oë en probeer haar trourok en stralende lig deur kerkvensters oproep.

Al wat sy voor haar sien, is Gideon met die bos rose onderstebo in sy hand.

Hy is ook alleen. Net so alleen soos sy hier onder in sy slaapkamer. En hy dra sy pa se trouring soos ’n man wat vir die hele wêreld wil wys hy is getroud.

Ingedagte draai sy haar hand en skud die ring soos ’n dobbelsteen. Sy dink aan die bottel badskuim. Sy dink aan Gideon se ergerlike oë toe hy gesê het hy lol nie met ander vroue solank hy getroud is nie.

Hy het nog nooit vir haar gelieg nie.

Buite die donker ruite gesels die fisante nie meer nie. Sterre flonker bo die diep skaduwee van die berg. Sy sit al langer hier as wat sy gedink het. En op die een of ander stadium, terwyl die aand ongemerk nag geword het, moet sy blykbaar tot ’n besluit gekom het sonder dat sy dit behoorlik besef het, want sy vind dat sy op haar voete kom soos iemand wat lank geslaap het en nou wakker word. Met ’n sagte sug skakel sy die lig aan.

Wat het Gideon nou weer gesê was die regte woorde wat Billy Idol gesing het? “A nice day to start again”?

Sy skuif die trouring met die rosies aan haar vinger en gaan haal haar wittebroodstas by die kaggel.

Aan die onderpunt van die trap wil-wil sy omdraai. Dis nog nie te laat nie. Maar toe klem sy haar kake opmekaar en sit haar hand op die trapreling. “Kry dit tog net verby,” fluister sy vir haarself. Hoe erg kan dit nou wees? ’n Paar minute van ongemak en verleentheid en alles is oor. Dan kry Gideon darem iets uit die transaksie en wanneer hulle oor ’n jaar uitmekaar gaan, hoef sy ten minste nie meer Mart se onsmaaklike grappies oor maagde te verduur nie. Sy gryp ’n vuis vol materiaal sodat sy nie die soom van haar wittebroodsnagrok vastrap nie en stap boontoe, haar kaal voete geluidloos op die vloer.

Die enigste lig wat hier bo aan is, is die staanlamp langs Gideon se lessenaar. Hy staar verby sy rekenaar se skerm, verlore in ’n wêreld van sy eie. Die skaduwees onder sy hoë wangbene laat lyk hom anders as in die daglig. Gevaarliker. Geheimsinniger. Sy probeer onthou dat hy maar net Gideon is, die bure se seun wat altyd haar maat was, maar in hierdie donker nag is hy ’n man met ’n man se harde lyf. Haar hart stamp en stamp teen haar ribbes.

Huiwerig stap sy tot ’n entjie van hom af. “Kom jy nie slaap nie, Gideon?”

Hy kyk vinnig op. Sy oë glip oor die deursigtige kamerjas, die lang wit synagrok met die eindelose rits knopies van perlemoen. “Jess?” sê hy en kom stadig orent.

6 thoughts on “Bruid in blou – Thea Holland

  1. Alma Carstens says:

    Ek gaan dit ook vir my aanlyn bestel… is darem nou baie nuuskierig wat verder (en vooraf) gaan gebeur (of gebeur het).

  2. Bets Smith says:

    Ai tog oee! Ek bestel hierdie een net Maandag. Maar wanneer ek kans gaan kry om te lees, weet nugter. Sal kans MAAK. Het juis weer nou die dag ‘n Onverstandige Vrou gegryp en gelees uit desperaatheid omdat ek eintlik opstelle moes merk en jou storie was so-o-veel lekkerder om te lees al was dit die 3e keer.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s