VLERKE VIR JOU HART – Frenette van Wyk

“Jy sal my nie byt nie, sal jy?” Sy streel die hond op sy kop en tussen die ore.

“Hy byt nie sommer nie!”

Bronwen se kop vlieg om. Sy kom stadig orent, haar oë vasgenael op die man skuins agter haar waar hy met gevoude arms en wydsbeen vir haar staan en kyk.

Hy stap nader en steek sy regterhand nonchalant na haar toe uit. “Sylvain Dubois, welkom hier by ons.”

Die sjokolateur van Ecole Chocolat en eienaar van Sévérac!

Haar oë fladder terloops oor sy fynbesnede gelaatstrekke en die soepel definisie van spiere in sy nek en skouers en bo-bene in ’n swart kraaglose hemp en swart leerbroek.

Sy het nie so ’n formidabele man hier verwag nie, maar ’n sjef, ’n onaantreklike, plomp, selfs ietwat verfynde sjef in ’n onvleiende wit sjef uniform.

“Ek byt ook nie,” verseker hy haar toe hy haar hand weer uit sy ferm handdruk vrylaat.

’n Ongewone trilling skiet nog deur haar hand en sy stoot die rooibruin krulle van haar kuif selfbewus uit haar oë en agter haar oor in.

“Maar miskien wil jý mý opeet?” Sy oë is twee middernagblou raaisels.

“Ekskuus?” vra sy verward.

“Ja wel, jy staar my met sulke groot, begerige oë aan.”

’n Blos sprei oor haar gesig toe sy besef haar bewondering vir hom staan seker oor haar gesig geskryf. Erger nog is die gedagtes dat hy haar daarvan verdink dat sy hom met begerige oë aanstaar en wil opeet, verbeel jou!

“Ag, jammer, maar daardie voorkoms van jou kan seker enigeen se mond laat water,” glip die woorde oor haar lippe.

Te laat besef sy dit het haar in ’n nog dieper verleentheid gedompel. “Jy skep immers die indruk van ’n … ’n sagte blokkie … romerige … melksjokolade,” probeer sy om sy ego tog so effens te kneus en haar uit haar verleentheid te draai.

Hy lyk veel eerder of hy uit die berg se marmerklip gekap is as na ’n stukkie sagte, romerige melksjokolade, maar as hy kan terg, kan sy tog seker ook.

Hy lag heerlik. “Is dit hoe jy van ’n mán of van jou sjokolade hou, mademoiselle …?”

“Bronwen Lindeque.”

“Bronwen,” rol hy haar naam nadenkend om op sy tong. “Hmm, satynglad, sensueel, prikkelend en bittersoet …” mymer hy met toe oë asof hy haar naam nou soos ’n stukkie sjokolade in sy mond laat smelt, en die smaak en tekstuur daarvan terdeë geniet.

Hy kyk skielik weer vir haar. Tergliggies vonkel in sy oë en lagkepe kerf diep in sy wange.  “Weet jy, Bronwen, jy gaan hier leer om sagte, begeerlike, romerige melksjokolade ook nog so te geniet!”

Haar hart mis ’n slag. Het hy daardie woorde dubbelsinnig bedoel?

Toe hy haar boek weer vir haar teruggee, skud hy eers net sy kop.

“Hmm … ek kan sien jy wil hoog vlieg, maar dit,” en hy wys na haar boek, “is ’n bietjie … vergesog,” besluit hy na enkele sekondes terwyl haar hart soos ’n tydbom in afwagting tik.

“Ekskuus!” ontplof sy eindelik verontwaardig. Maar verder as dit kom sy nie.

“Jammer, maar dis nie baie oortuigend nie,” hou hy vol en lyk allesbehalwe jammer toe hy vir haar kyk. “Dis prestasiegedrewe, vol ambisie en kompetisie, ja! Maar volgens my in ’n boksie gedruk.”

Sy is nié in ’n boksie gedruk nie! Sy probeer nog altyd bo die gewone uitstyg, sy mik nog altyd hoër as die gemiddelde.

“Lees self weer wat jy hier gesê het, dan sal jy dalk agterkom wat jy eintlik sê, is dat jy jouself wil verheerlik met jou prestasies.”

Sy sit sprakeloos en staar na die uitgesproke, ongenaakbare man hier voor haar. Toe begin sy lag, van skok, van verontwaardiging, van magteloosheid. Selfs Celeste hier langs haar se oë sak verleë af vir haar onthalwe.

As sy nie so graag hierdie sjokolateurskursus wou doen nie, en daardie prys na Mexiko en Switserland wou wen nie, het sy nou opgestaan en uit hierdie lesinglokaal geloop, vir altyd!

Haar hart het buitendien nou so swaar in haar skoene gesak van teleurstelling en verontregting dat sy nie kan beweeg nie.

“Daar is ’n mens daar binne,” sê Sylvain en wys na haar hart, “wat nog tot haar volle reg moet kom. Gee jou hart vlerke! Leer om lief te hê ook!”

Sy voel sommer lus en gee haar mond vlerke en vra hom of hy nie self wil gaan vlieg nie. Maar sy pers haar lippe styf opmekaar. Maar toe trek sy in elk geval los. “Verskoon my, maar wat de …” sy sluk weer met moeite die woord terug wat sy wou gebruik om uiting aan haar gevoelens te gee. “Wat het liefde nou hiermee te doen? Wat het dít met liefde te doen?” vra sy met smalende beleefdheid.

“Jy moet van jouself vergeet …”

“Ek dag ek moet myself ontdek …” val sy hom in die rede.

“Presies,” knip hy haar dadelik weer kort, “en dan moet jy al daardie vooropgestelde idees van jou laat vaar, dat jy so hard gaan leer en so hard gaan probeer om almal te beïndruk. In plaas daarvan moet jy die produk waarmee jy gaan werk, die sjokolade self, jou fokuspunt maak. Leer ken die eienskappe en kwaliteite daarvan, verstaan die substansie en samestelling daarvan, leer om vir dit lief te word, en dit reg en slim en met respek te hanteer. Dan gaan jy treffersmake en teksture daarmee kan skep. Dan sal sjokolade die werk vir jou doen, die sukses vir jou bring wat jy wil hê.

“Dis soos om ’n topverkoper boek te skryf. Die karakters moet nie net ’n afbeelding van die skrywer se persoonlikheid en idees wees nie. Hulle moet hulle eie persoonlikhede ontwikkel en uitleef binne die storie. Egte mense met egte persoonlikhede en gevoelens word. Maak dit vir jou sin?”

Wat hy sê, maak inderdaad vir haar sin, maar sy gaan dit nie vir hom sê nie. Sy voel te seergemaak dat hy haar so fel gekritiseer het. Hy het wel baie kommentaar op almal se antwoorde te lewer, maar hy was nie so onsimpatiek teenoor een van die ander nie.

“Verskoon my, sjef, maar ek is nie hier om te leer skrýf nie,” snip sy moedswillig sarkasties.

“Woordkuns, skilderkuns, kookkuns, wat is die verskil?” antwoord hy met ’n ongeërgde ophaling van sy skouers. “Alles wat ’n mens skep, is kuns. Dis net die medium wat verskil. En dis daardie medium wat jy moet leer ken en verstaan en voor lief word. Anders sal jy ongelukkig nooit ’n suksesvolle kunstenaar kan wees nie,” antwoord hy vasbeslote, voor hy omdraai en van haar af wegstap.

Sy staar sprakeloos na sy regop rug wat meteens soos ’n muur teen haar gekant lyk.

Hy is selfs erger as haar pa!

’n Paar treë verder draai hy weer om. “Onthou verder, dis belangrik om self te leer dink en oorspronklik te leer skep. Om net hier te kom leer kopieër wat ek doen, is genoeg om ’n middelklas sjokolateur te word, maar dis nie genoeg om ’n wêreldklas sjokolateur te word nie.”

“Maar dan móét ek mos ambisie hê!” verdedig sy weer.

Sylvain trek ’n toe-mond-toe-oë glimlag vir haar. “Solank dit regtig jý is.”

Maar dit is sy! Sy wil presteer. Sy moet presteer. Dis hoe sy deur die jare gevorm en gedruk is, gedwing is om te oorleef!

Haar gedagtes stol tot stilstand. Dis presies wat Sylvain nounet vir haar gesê het. Sy is in ’n boksie gedruk.

Sy loer tersluiks vir hom, maar vermy sy blik toe hy ook weer in haar rigting kyk.

Dis ontstellend om te dink hy het haar dalk reg ontleed en opgesom.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s