VERSPEELDE TYD – ANN HITE KEMP

Verspeelde tyd (hoëres)

Moira het die uitnodiging na die reünie, wat Hanlie so netjies onder haar aandag gebring het, uit haar gedagtes verban die oomblik toe sy dit van haar boodskappe gevee het en aangegaan met haar werk. Sy het meer werk as waarvoor sy tyd het, want sy en haar pa is die eienaars van ’n uiters suksesvolle reklameagentskap in Johannesburg. Buitendien was sy nie van plan om énige reünie van énige jaar van haar matriekklas ooit by te woon nie.

Sy het later uitgevind die dierbare Hanlie het die e-pos se besonderhede na haar eie rekenaar gekopieer, omdat sy haar baas hopeloos te goed ken. Hanlie het besluit dat Moira oorhaastig was met haar besluit om die reünie nie te wil bywoon nie en het verder namens haar navraag gedoen. Nou nie dat dit in hierdie geval oorhaastig was nie, want Hanlie het nie die geskiedenis geken nie.

Daar het ’n volgende e-pos gekom: Woon die reünie asseblief by. Dit kan jou dalk net die moeite loon.

Hierdie e-pos het Hanlie weer subtiel onder haar aandag gebring en dit het haar nuuskierigheid geprikkel. Waarom sou ’n stupid reünie haar moeite loon? Die besigheidsvrou in haar het haar laat navraag doen oor Gruisgatdam, maar sy kon nêrens inligting oor die plek kry nie. Die enigste inligting tot haar beskikking was ’n telefoonnommer, ’n e-posadres en aanwysings na Gruisgatdam. Die plek is nie eens op haar GPS opspoorbaar nie.

Dit wou voorkom of alles omtrent die plek ’n geheim is en ’n geheim sou bly totdat sy daar aankom. Daar was wel ’n paar name van mense wat reeds die uitnodiging na die reünie aanvaar het. Een van hulle was Kayla Combrink, haar heel beste vriendin op hoërskool.

Moira het dadelik vir Hanlie gevra om op Facebook te soek of sy Kayla daar kry, maar Kayla het klaarblyklik – nes sy ook maar – nie daarin belanggestel om op Facebook te wees nie. Sy sou dus Gruisgatdam toe moes gaan vir die reünie as sy weer met Kayla kontak wou maak, én wou sien hoe haar teenwoordigheid haar die moeite gaan loon.

Nou is sy amper daar volgens die aanwysings op die papier

op die passasiersitplek langs haar.

Sy trek die styfpassende, swart rokkie reg, voel aan haar diamant oorkrabbetjies, kyk na haar swart stiletto’s en stap dan na ’n groot gebou waar die woord Ontvangs, ook in swart letters, aangebring is. Die e-pos het gesê hulle moet by ontvangs aanmeld.

Terwyl haar hart benoud in haar keel klop, stap Moira die gebou binne. Sy is nou hier en sy het haarself belowe sy sou nooit ’n reünie bywoon nie. Wat as Deetlef hier is? Sy wou hom nooit weer in haar lewe sien nie. Wat het haar besiel om te kom? Watter beloning kan so groot wees om op te maak vir die moontlikheid dat sy Deetlef dalk weer van aangesig tot aangesig gaan sien? Sy naam was darem nie op die lys van dié wat gaan bywoon nie.

Sy moes nooit gekom het nie. Sê nou iemand praat oor die matriekafskeid? Sy gaan Hanlie se nek kort duskant haar stuitjie omdraai as hierdie naweek ’n fiasko is. Miskien moet sy sommer nou omdraai en terugry voordat iemand haar sien.

Sy kan nie help om op te let dat alles splinternuut lyk en ruik nie. Die reuk van ’n nuwe grasdak is onmiskenbaar daar, maar dit is nie so oorweldigend dat dit haar asem wegslaan nie.

Moira gaan botstil staan. Dis te laat vir omdraai. Daar is al heelwat mense in die ontvangslokaal en almal se gesigte is na haar gekeer, maar sy sien niemand raak nie. Die gesigte is soos in ’n waas, want sy staar na die persoon agter die ontvangstoonbank. Nata. Nata Parkin, die tweede persoon wat sy beslis die minste hierdie naweek sou wou sien.

Vernedering en teleurstelling kom lê weer eens inMoira se binneste en dit voel asof die twee emosies daar hoort,asof dit in die tien jaar wat verby is, nooit regtig weggegaan het nie. Hemel! Daar het tien jaar verloop, maar dit voel skielik vir haar soos gister.

Dan praat Nata weer. “Dankie, julle. Ontspan maar weer. Ek dink ons is nou voltallig. Ek weet nie of julle weet nie, maar een van die eienaars van Gruisgatdam was saam met ons in matriek. Hy het hierdie reünie gereël. Deetlef sal binnekort by ons aansluit. Het julle almal vonkelwyn gekry?”

Moira se ore slaan summier toe. Deetlef is een van die eienaars van hierdie plek. En hy gaan nou-nou kom.

Hý is die persoon wat sy die minste hier wou raakloop en is die eintlike oorsaak waarom sy nie na hierdie reünie wou kom nie. Jare lank het sy teruggedink aan hom as die persoon wat haar lewe in ‘n oogwink op sy kop gekeer het, ’n ommekeer wat gemaak het dat sy haar geboorteland direk na skool verlaat het sodat sy nooit weer haar klasmaats in die oë hoef te kyk nie. Wat ook gemaak het dat sy na ’n vreemde land gegaan het waar sy tussen vreemdelinge en by haar een werklike vriend, Cor, haar wonde kon lek en weer haar kop kon optel. Deetlef het haar siel geknak.

Moira merk dat Kayla vinnig na haar kyk. Sy trek haar skouers traak-my-nie-agtig op en staar na Nata. Dit is tien jaar later. Sy was intussen met Cor getroud. Deetlef met sy selfsug en selfgesentreerdheid kan haar nie meer skeel nie. Dit is ou koeie in die sloot en die sloot is toegegooi. Miskien is dit goed dat sy na die reünie gekom het sodat sy die hoofstuk oor die matriekafskeid finaal kan afsluit.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s