ONMOONTLIKE MANSMENS – ELIZE DAVIES

onmoontlike mansmens_high res

“Ek gaan nie loop nie!” Karien sit haar tas neer en tree vorentoe. “Ek weet dis jou hotel en jy kan sekuriteit laat roep om my uit te gooi, maar ek het net ‘n paar minute nodig, ek belowe.”

Hugo Steyn se oë vernou. Dan kyk hy verby haar, na die oop deur. “Ek het nie nodig om sekuriteit te laat roep nie, juffrou Kruger. Hulle is reeds hier.”

Karien swaai om.

Daar is niemand in die oop deur nie.

Die volgende oomblik hik sy na asem toe sy in ‘n ystergreep vasgevat word en sterk arms haar opraap asof sy ‘n veergewig is. Soos ‘n sak aartappels gooi Hugo Steyn haar oor sy skouer en loop deur toe. In die loop buk hy en tel haar tas op. Voordat sy kans kry om te  spartel, is hulle buite die suite en laat hy haar neersak.

“Ek het nie sekuriteitswagte nodig om jou uit te gooi nie, juffrou Kruger. Ek is mans genoeg om dit self te doen,” sê hy komkommerkoel, en Karien kyk bedremmeld hoe die deur in haar gesig toegemaak word.

Haar skouers sak moedeloos. Haar bene gee onder haar pad en sy sak op die mat neer. Trane van frustrasie brand in haar oë. Verduiwels, wat nou?

Sy byt op haar lip. Sy gaan nie tou opgooi nie. Sy sal hier bly sit, sowaar, al sit sy tot môreoggend. En as Hugo Steyn wel sekuriteit roep om haar uit te smyt, dan sal sy voor die hotelingang gaan sit en wag tot … totdat die perde horings kry.

Sy sug en leun moeg teen die deur. Dan val sy byna agteroor toe haar rugstut verdwyn en die deur oopvlieg.

“Wat de …?  O. Juffrou Veearts.”

Hugo Steyn lyk nou anders. Sy hare glim nat en hy lyk onberispelik en indrukwekkend in ‘n swart aandpak.

Karien spring op en strek haar tot haar volle lengte uit. Bokant haar troon ses voet-plus se spiere uit, maar sy lig haar ken trots. “Ek gaan nie loop voordat ek met jou gepraat het nie, meneer Steyn.”

Hugo se groen oë vee weer oor haar lyf en kom op haar mond tot rus. Karien wil in die aarde wegsak onder die blatante, sensuele blik, maar sy kyk nie weg nie.

“Jy is knaend, juffrou Veearts.”

“Ek weet. My oupa sê ek is koppig.”
Hy beskou haar ‘n paar oomblike. “Wel,” sug hy, “dalk kan ek jou gebruik, siende dat Chantelle my in die steek gelaat het. Het jy ‘n aandrok? ‘n Formele rok, iets glad en syerig, of iets wat blink?”

“Waarvoor … ”
“Het jy een?” vra hy ongeduldig.

“Wel, ja.” Toe sy gisteraand ingepak het, het sy op die laaste nippertjie ‘n aandrok ingegooi.

“As jy my so dringend moet sien, kom dan saam.”

“Waarheen?”

“’n Sake-ete.” Hy stoot ‘n kraakwit hempsmou terug en kyk na die goue horlosie om sy bruingebrande pols. “Jy het vyf minute. Kom jy of bly jy?”

Karien dink blitsig. Dit het baie speurwerk en hope moeite, tyd en geld gekos om tot hier te vorder. Hugo Steyn is onbereikbaarder as die pous, omring deur ‘n ondeurdringbare muur van sekretaresses en sekuriteitswagte. Om ‘n afspraak met hom te kry, is onmoontlik, sy hét probeer, maar kon nie by sy koel-vriendelike, o-so-bekwame en saaklike sekretaresse verby kom sonder om haar hele lewensgeskiedenis uit te blaker nie, en al het sy dit gedoen, twyfel sy of sy die voorreg van ‘n afspraak met die kroonprins van Steyn Industrieë sou kry.

Sy sal hom moet vergesel. Dalk kry sy in die motor kans om met hom te praat, of ná die ete.

“Vier-en-‘n-half minute.”

“Ek sal saamgaan.”

“Gaan maak reg.”  Hy beduie oor sy skouer na die slaapkamer.

Karien gryp haar tas en loop vinnig na die luukse slaapkamer. Sy maak die deur stewig toe voordat sy haar klere afstroop.

Sy doen dit vir Oupa, sê sy vir haarself. En vir Neels en Marlene. En vir haar pa, wat nog nooit ‘n pa vir haar was nie.

Dis haar enigste kans om met Hugo Steyn te praat. Volgens die inligting tot haar beskikking gaan hy net twee of drie dae hier tuis voordat hy weer na sy volgende luukse hotel of vakansieoord rits.

Sy kyk verlangend na die marmerbad in die aangrensende badkamer. Dik, sagte handdoeke en ‘n ry flesse met romerige, pastelkleurige badbederfies lok, maar die tyd vir ‘n lang, luukse bad ontbreek. Dit neem haar skaars twee minute om onder die stort in te spring, af te droog en haar kort krulhare te borsel, en nog twee om ‘n vegie lip- en oogkleursel aan te smeer, parfuum aan te spuit en die nodigste onderklere oor haar klam lyf te trek. Toe gooi sy die lieflike, vlamrooi rok wat ‘n maand se salaris gekos het, oor haar kop. Die sagte symateriaal gly glad en sensueel oor haar skouers. Die rok sluit knus om haar bolyf en heupe en klok dan wyd uit tot by haar kuite. Haar hande bewe toe sy die rits optrek – en net halfpad kom voordat dit soos ‘n steeks donkie vassteek.

Karien sê ‘n woord wat haar kleintyd ‘n mondvol seepskuim besorg het. Sy wikkel die materiaal en probeer die ritssluiter aftrek, maar dit beweeg nie. Sy probeer oor haar skouer kyk, maar dis onmoontlik. Sy probeer die rok uittrek, maar dit pas te styf.

Wanhopig kyk sy op haar horlosie. Haar vyf minute is verby.

‘n Klop aan die deur laat haar hart ruk. “Ek ry, juffrou Kruger.”

“Meneer Steyn, wag!”  Sy hol deur toe, terwyl sy met een hand die materiaal bokant haar borste vasbondel.

Sy ruk die deur oop. Hugo Steyn se wenkbroue lig. “Hmm, juffrou Veearts, jy lei my nou liederlik in die versoeking, maar ek is regtig baie laat vir my afspraak, weet jy,” sê hy waarderend.

“Ek kry nie die rits toe nie,” sê sy verleë en wens die vloer wou haar insluk.

Hugo se oë streel haar hals en sy klem die bondel materiaal stywer vas.

“Draai om.”

Sy hande is warm en ferm teen haar koel vel.

“Die materiaal is in die tandjies van die ritssluiter vasgevang. Staan stil,” beveel hy.

Karien se asem raak op. Liewe hemel, hoe het sy in hierdie situasie beland?  Hier staan sy half-kaal in ‘n wildvreemde man se slaapkamer, terwyl genoemde vreemdeling se warm asem die sagte vel van haar skouer streel en sy vingerpunte veerlig teen haar sensitiewe rugvel dans.

“So ja, hy’s los.”  Sy voel hoe die rits afgly. Skielik glip twee warm hande om haar middel onder die materiaal en kom voor bymekaar, net onderkant haar borste. Twee growwe duime begin om klein sirkeltjies teen die sagte vel te trek. Armspiere span en trek haar tot vas teenaan ‘n harde lyf.

“Te duiwel met die ete. Kom ons bly net hier,” sê Hugo se skor stem naby haar oor. Teen die gevoelige vel van haar rug kan sy die materiaal van sy hemp voel. Sy hart klop sterk en vinnig teen haar lyf, en sy asem is soet en warm in haar nek. Sy duime beweeg stadig, soekend, hoër en Karien se hart begin hamer.

One thought on “ONMOONTLIKE MANSMENS – ELIZE DAVIES

  1. skryfgoed says:

    hallo julle….kyk na my blog asb…..ek skryf afrikaanse gedigte en sommer net goeters….briewe ens….ek is nuut en wil weet wat julle dink….dankie en soet wees! – skryfgoed

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s