PERFEK VIR HAAR – Joléne de Koningh

Perfek vir haar (hoëres)

Toe sy die aand haar vioolkis uit die viertrek haal, tjank Jake soos ’n hiëna. “Nou het ek alles gesien. Die dame kom met ’n viool om braaivleis te hou in die middel van die Karoo.”

“Wag tot jy haar hoor speel het, jy sal dit nooit vergeet nie. Moenie jou aan hom steur nie,” sê Johan. “Hy is niks gewoond nie.”

“Nie almal hou van vioolmusiek nie, Johan, ek sal hom nie kwalik neem as hy hom in sy huis gaan toesluit as ek speel nie.”

Maar Jake sit end-uit. Toe sy haar viool neersit, is dit doodstil. Toe staan Chris op en begin stadig hande klap. Jakes klap ook hande, maar met oorgawe.

Johan lag. “Ek dink jy kan dit beskou as ’n staande ovasie.”

“Hel, ek het nie geweet mens kan ’n viool só speel nie. Elke stuk het ’n wysie gehad. Dankie, jou mooi ding, jy kan enige tyd by my intrek, viool en al.”

In ander omstandighede en van iemand anders sou die persoon ’n skewe antwoord van haar gekry het. Maar hier, in die einste middel van die Karoo en komende van Jake, aanvaar sy dit laggend. Jake moet jy aanvaar soos hy is, sy is seker hy het ’n hart van goud en ’n verstand so skerp soos ’n skeermeslemmetjie.

Hulle ry in ’n warm stilte terug huis toe. Dis Johan wat die stilte verbreek.

“Jou vioolspel was wonderlik, Karla. ’n Onvergeetlike ervaring. Drie stukke; een vir elkeen van ons?”

Sy lag. “Ek het nie gedink jy sal so oplettend wees nie, doktor Cloete.”

“Ek eien my die laaste een toe. Brahms, was dit nie?”

“Dit was Brahms en dit was vir jou.”

“Dankie.” Sag. En weer met die hand op die been.

Toe hulle voor haar kamer staan, huiwer hy. “Is dit koud genoeg dat ek jou bed moet kom warm maak?”

’n Klein duiweltjie kom sit agter haar oor en sy glimlag breed. “Nie koud genoeg daarvoor nie, nee. Maar ek kan jou met ’n sjokoladedrankie opwarm as jy dit nodig het. Hier is ’n ketel en ’n mandjie vol sakkies in die kamer. Selfs melk.”

“Ag nou ja.” ’n Lang sug. “As dit dan met ’n sjokoladedrankie moet geskied, dan is dit maar reg.”

“Moenie ondankbaar wees nie. Sit daar op die stoel en gedra jou.”

Hulle doen eers by Jake se plek aan. Jake is vandag ’n ander mens, die ene professionaliteit. Hy en Johan sit lank in die rekenaarkamer en konfereer. Sy hou haarself besig met klippies optel en klein gekko’s dop te hou. Johan kom roep haar later.

“Ons ry nou na Chris se plek toe en ek het die fout gemaak om vir Jake te vertel jy ry motorfiets. Hy ry met die enigste werkende motorfiets tussen die boorterreine rond en is vreeslik spyt dat die ander een nie werk nie. Hy wou jou sien ry, wou my nie glo toe ek vertel hoe jy met die ding kan jaag nie.”

“As daar ’n stukkende een is, sou ek graag na hom wou kyk.”

Hy sug gelate. “Nie dat ek enigiets anders verwag het nie.”

Hulle gaan kyk na die motorfiets in die skuur en Jake verduidelik verleë toe sy by die motorfiets buk.

“Man, hy wil nie vat nie en ek het nog nie kans gekry om self daarna te kyk of dit te laat regmaak nie.”

“Het jy vir my ’n paar plastiese handskoene?”

Johan bars uit van die lag toe hy Jake se gesig sien. “Gee vir haar die handskoene, sy kan motorfietse regmaak.”

Karla kry gou die fout by ’n los vonkprop en draai dit deeglik vas. Toe sy die aansitter druk, vat die fiets na die tweede probeerslag. Johan staan vooroor gebuig met sy hande op sy knieë soos hy lag. Jake staan letterlik oopmond na die fiets en kyk, sy wange bloedrooi soos hy bloos.

Karla straal van lekkerkry. “Kom ons ry. Het jy vir my ’n valhelm en handskoene?”

Jake draf om dit te gaan haal.

Johan huiwer. “Ek weet nie so mooi nie, Karla. Dis nie dat ek aan jou vaardigheid twyfel nie, maar dinge is nie meer soos dit in die verlede was nie.”

Karla lig haar wenkbroue vraend. Wil hy nou voorgee dat hy, na gisteraand se kaperjolle, in die toekoms beheer sal hê oor wat sy doen en nie doen nie?

“Jy moet onthou daardie arms en hande van jou is nou goud werd. Jy is ’n konsertviolis. As daar iets gebeur en jy kry seer, sal ek myself nooit vergewe nie.”

Sy sit haar hand saggies teen sy wang. “Ek sal oorversigtig wees, ek belowe.”

Jakes kom aangedraf met die helm, handskoene en ’n yslike leerbaadjie. “Die goed sal seker ’n bietjie aan die groot kant wees, maar ons moet seker maak jy kry nie seer nie. Die pad na Chris se plek is nie ’n gemaakte pad nie, dis nie veel meer as ’n voetpaadjie nie.”

“Moenie bekommerd wees nie, dis nie die eerste keer dat ek in die veld ry nie. Ek het al baiekeer saam met my broers op hulle veldfietse gery.”

Jakes trek weg, sy in ’n stofwolk agterna. Sy sien in haar truspieëltjie dat Johan kort op hul hakke is met die viertrek. Sy geniet elke oomblik van die rit. Die sterk masjien se dreuning onder haar sitplek, die bokspring van die voorwiel wat sy met ysterhande in toom moet hou, is pure adrenalien.

Chris staan hulle hande in die sye en inwag. “Wat de duiwel is hier aan die gang?”

Karla haal die helm af en skud haar hare reg. “Deksels, dit was lekker.”

“Is dit nie die stukkende fiets nie?”

Jakes verduidelik, weer rooi in die gesig, met ’n duim na Karla toe. “Daai een het dit een-twee-drie reggemaak.”

Chris kan net lag. “Johan. Ek dag die mensie is ’n engel wat viool speel. Nou jaag sy met ’n yslike motorfiets deur die veld!”

Johan lag en help Karla om die groot baadjie uit te trek.

“Sy kan motorfietse ry en regmaak. Sy kan ook vuurmaak en self die vleis braai. Sy kan net nie goed wat hoog op rakke gepak is, afhaal nie; daarvoor is sy te kort.”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s